Vandag se sportnuus

Fernando Alonso. (Foto: AP Photo/Manu Fernandez)

F1:

  • Die Spaanse renjaer Fernando Alonso beplan om sy terugkeer tot F1-wedrenne te maak.

Hy sal na verwagting volgende jaar vir Daniel Ricciardo by Renault vervang. Op sy beurt sal die Aussie die skuif na McLaren maak.

Die 39-jarige Alonso het juis sy wêreldtitels – wat hy in 2005 en in 2006 verower het – saam met Renault gewen.

Hy is een van die talentvolste renjaers in motorsportgeskiedenis. Saam met sy F1-titels het hy ook al met die louere by die Le Mans- en Indy 500-reekse weggestap. Hy het vanjaar ook 13de in sy eerste probeerslag by die moordende Dakar-uithourit geëindig.

Ná afloop van die naweek se wedren op die Spielberg-renbaan in Oostenryk het die Renault-baas Cyril Abiteboul gesê dat hulle in gesprek met ’n paar bestuurders is.

“Ons gesels met ’n hele paar mense – ’n paar bekendes asook ’n paar minder bekendes.”

Dan het Flavio Briatore, ’n Renault-grootkop wat ’n uitstekende verhouding met Alonso gehad het, gesê dat die Spanjaard gereed is vir nog ’n F1-uitdaging.

“Fernando is gemotiveerd en die jaar of wat weg van die sport het hom baie goed gedoen. Hy is gereed om terug te kom,” het Briatore gesê.

Die tweede wedren in vanjaar se hersiende F1-seisoen vind weer op die Spielberg-renbaan plaas. Die renjaers sal Sondag om 15:10 wegspring en dit sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Rugby:

  • Daar is opgewondenheid in Montpellier oor die koms van Cobus Reinach.

Die blitsige skrumskakel het vir die Northampton Saints in Engeland uitgeblink en sal ’n gedugte skakelpaar saam met Handré Pollard vir Montpellier vorm.

Krieket:

  • Toetskrieket word vandag hervat wanneer Engeland en Wes-Indië sake in Southampton sal uitspook.

Hoe die spanne kan lyk:

Engeland: 1 Rory Burns, 2 Dom Sibley, 3 Joe Denly, 4 Zak Crawley, 5 Ben Stokes (kaptein), 6 Ollie Pope, 7 Jos Buttler (paaltjiewagter), 8 Dom Bess, 9 Jofra Archer, 10 Mark Wood, 11 James Anderson.

Windies: 1 John Campbell, 2 Kraigg Brathwaite, 3 Shamarh Brooks, 4 Shai Hope, 5 Roston Chase, 6 Shane Dowrich (paaltjiewagter), 7 Jason Holder (kaptein), 8 Rahkeem Cornwall, 9 Alzarri Joseph, 10 Kemar Roach, 11 Shannon Gabriel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.