Vermoorde eiendomsagent: Stryery lei glo tot moord

Hy was ’n yster van ʼn vriend en ʼn topsakevennoot, hy sal baie gemis word!

So beskryf Alten Vermaak sy vriend én sakevennoot Eldie Gerber wat sowat twee weke gelede wreedaardig in sy spogwoonstel in die Atlantica-woonstelkompleks in die Strand vermoor is.

ʼn Roudiens is Maandag vir Gerber by die NG-gemeente Strand gehou. Die kerk was oorvol – skaars plek vir ʼn muis. Volgens vriende was die kerk presies opgemaak soos Gerber daarvan sou hou.

“Die eiendomsagent binne hom sou die venue ʼn 10/10 gegee het en hy sou heel waarskynlik ʼn doppie wou klink op almal en fees vier. Dis die tipe persoon wat Eldie was,” sê ʼn familievriend by die roudiens.

Vermaak beskryf die gebeurtenis as ʼn ongemaklike bedmaat vir hom en sy gesin.

“Eldie het ’n groot invloed op my en my gesin se lewe gehad.”

Gerber (56) se vermeende moordenaar, Armand Botes, sal na verwagting Woensdag weer sy verskyning in die Strand-landdroshof maak.

Botes (30) is Vrydag – die dag van die moord – in hegtenis geneem omrede die polisie glo sterk vermoed dat hy agter Gerber se moord sit.

Armand Botes het glo die eiendomsagent Eldie Gerber vermoor. (Foto: Facebook)

Gerber se seun Quintus en ʼn gemeenskaplike vriend het Vrydag sy liggaam met veelvuldige kopwonde, leweloos in ʼn plas bloed in die Atlantica-kompleks ontdek.

Maroela Media was Dinsdag toegang tot die Atlantica-kompleks verbied, omdat joernaliste nie gemagtigde toegang tot die woonstelblok het nie.

ʼn Skoonmaker wat haar emmer vol water buite die kompleks uitgespoel het, beskryf die voorval as “iets uit ʼn fliek”. “Dis siek, sadisties.  Nee magtig, dit maak my naar.”

Die skoonmaker wat praat op voorwaarde van anonimiteit sê “daar was altyd een of ander man saam hom na sy woonstel toe. En hy het altyd met ʼn sigaretjie gevroetel.”

Gerber is die direkteur van die eiendomsagentskap Seeff Strand en het glo laas week Vrydag nie sy vergaderings bygewoon nie.

Dit het mense paniekerig gemaak, omdat Gerber altyd stiptelik is en nie sommer iets vergeet nie. Sy foon was glo óók af.

Dit is toe dat Gerber se seun en ʼn vriend ondersoek gaan instel het en op Gerber se bebloede liggaam afgekom het. Die vermeende moordenaar was skoonveld en plaaslike owerhede is onmiddellik van die voorval in kennis gestel.

Volgens ʼn polisiewoordvoerder van Strand-polisie is Botes in hegtenis geneem nadat polisie kringtelevisie-beeldmateriaal ondersoek en toe vasgestel het dat Gerber saam met Botes laat die vorige aand [Donderdag] die woon­stel binnegaan het.

Polisie vermoed dat dié twee haaks geraak het met mekaar en dat ʼn worsteling in die woonstel plaasgevind het. ʼn Blompot het glo aan skerwe op die vloer gelê.

Lede van die gemeenskap het glo vir Botes kort ná die insident in Kusweg naby die Vergelegen-woonstelblok raakgesien. Volgens ooggetuies was daar was bloed op Botes se klere en Gerber se besittings, onder meer sy beursie met kontant, ’n iPod en voertuigsleutels, is in sy besit gevind. Botes is steeds in aanhouding voor sy verskyning in die hof vandag.

Die polisie het aan Maroela Media bevestig dat geen nuwe inligting op die oomblik beskikbaar is nie.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Reghard Botha ·

Daar is beslis een vet slang in die gras hier. Ek ken Armand persoonlik en weet hy is alles behalwe n gay man. Ek dink enige een kan een en een by mekaar sit hier. Hoekom word hy reeds aangehou vir n beweerde moord?? Hoekom is hy nie getoets vir enige iets in sy bloed sisteem na die voorval nie? ? Daar moes iets beslis negatiefs gebeur het om die voorval te laat gebeur …… God sal wel hierdie saak laat beslis met geregtigheid.

Dink net ·

Wel… hy was ‘n ruk nadat hulle saam gesien was in die woonstelblok, in Kusweg met die vermoorde se besittings en vol bloed. Klink vir my na ‘n rede vir inhegtenisname. Verder was daar ooggetuies. Dink net as iemand hom gesien het en die polisie het niks gedoen nie. Dan sê almal weer die polisie is laks. As jy so seker is van die ou se onskuld moet jy maar ‘n karakter getuie wees vir die staat. Of hy moet kom sê wie was saam met hom daar en al die ander bewyse weg verduidelik. Hy gaan dalk sukkel.

Reghard Botha ·

@Dink Net is jou feite werklik self gesiende feite of die woorde uit ander se mond of uit die pen van n joernalis wat ook uit ander se monde skryf? Vra maar net. Ek self ken nie die feite nie maar ek glo dat Armand die volle waarheid sal vertel en dat daar berusting sal kom vir almal. Jammer vir die verlies van Eldie. Geen persoon verdien om sy lewe te verloor nie. Maar ek voel tog dat ons Armand net eers moet kans gee om sy storie te vertel voor almal hom so kruisig en veroordeel. Om een persoon se lewe te neem gaan nie die ander se lewe terug gee nie en nog minder regverdig.

jaco ·

As jy so ‘n toyboy het wat jonk genoeg is om jou seun te wees, moet jy mos nou weet jy soek vir moeilikheid.

reghard Botha ·

@Essie ek dink jou emosies neem jou perspektief en nugter denke oor. Wie is ons om te oordeel? En ek stel voor jy kry eers heeltemal al die feite voordat jy sommer iemand tot die dood toe vonnis. ongeag is daar nie n doodsvonnis in ons reg stelsel nie.

reghard Botha ·

@ Jaco as Armand maar n toyboy was kon ek dalk saam stem. Dis gladnie in sy aard nie. Hy het vele gay vriende en kennise. Hy was nog nooit een wat ander oordeel of minder van hul dink nie.

JohanR ·

Kan net nie verstaan hoe ‘n vreemdeling, of vreemdelinge saam met jou huis toe gaan nie? Ek verstaan hoekom, maar op die selfde tyd stel jy jouself aan soeveel gevaar bloot. As jy daai deur van jou woonstel toemaak, dan is jy saam daar met iemand wat jy van geen kant af ken nie. Suid Afrika is al klaar ‘n gevaarlike plek. Moenie vreemdelinge saam met jou huis to neem nie!!

Zelda ·

Die vermeende misdadeger was nie ‘n vreemdeling nie, hulle het mekaar geken, so hy het nie ‘n vreemdeling in sy huis toegelaat nie. Ek het vir Eldie persoonlik geken en hy was goedhartig en sou sy laaste vir jou gegee het en het beslis nie “toyboys” gehad nie, maar wel BAIE vriende. Ja, iets het daardie aand beslis skeefgeloop en niemand behalwe die twee betrokke sal weet wat regtig gebeur het nie. So met ander woorde, moet nie afleidings maak voor jy nie 110% seker is oor wat daartoe gelei het nie en ook nie die persoon geken het nie.

Wim Kotze ·

Volgens die skoonmaker het hy altyd met ‘n sigaretjie gevroetel. Hy het seker skelm gerook en nie die gesondheids waarskuwing op die pakkie in ag geneem nie.

Reghard Botha ·

Ek stem saam met jou Zelda. En soos Eldie is Armand ook n goeie mens. niemand op die aarde is wel perfek nie. jy is doodreg as jy se dat iets skeef geloop het daardie aand. Ek weet armand sal die waarheid praat en wel sy getuienis gee sodra hy die kans gegun word. Op die stadium maak almal hom net sleg veroordeel hom sonder enige toegewing van n reg om te praat en sy kant te stel. Geen persoon kan oordeel oor n ander uit spreek nie.

Vrede ·

Ek het jare terug saam Eldie gewerk in die bank. Hy was die vriendelikste mens en elke dag ons dag gemaak met sy snaakse se en doen dinge. So lekker saam hom gewerk.. Sterkte veral vir sy seun en naastes.

Elna Kupke ·

‘n Mens het net een rede om met ‘n sigaretjie te vroetel!

jaco ·

speel gay teenoor n ouer gay man wat weet dat hy op sy ouderdom en met sy tanende looks nie meer gaan kry wat hy soek nie. bring geld en dwelms in die spel in en siedaar: dis gay for pay.
Dis maar net my vermoede oor wat aan die gang kon gewees het. Toe die ouer een met die geld nie meer wou saamspeel nie, nie meer wou uithaal en betaal nie, het die jonger con-artist seker kwaad geword, gewelddadig geraak en dit het op moord uitgeloop.

Etteine ·

Janee soos verwag weer mense wat alles weet. Een weet meer as die ander asof almal saam die 2was

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.