Verswakte Engelse toerspan dalk na Suid-Afrika

Dis hoogs waarskynlik dat Eddie Jones in Junie ʼn verswakte Engelse toerspan na Suid-Afrika sal bring in wat egter as ʼn onderliggende waarskuwing vir die plaaslike rugbybase moet dien.

Luidens berigte oorsee word die Engelse se swak vertoning in vanjaar se Sesnasiesreeks aan uitpuitting toegeskryf.

Die aanduiding is sterk dat Jones nie net van die spelers wat gesukkel het uit die toerspan sal weglaat nie, maar doelbewus van sy topspelers sal laat rus met die oog op aanstaande jaar se toernooi om die Wêreldbeker (RWB) in Japan.

ʼn Onoorwonne rekord in die Junie-toetse weeg eenvoudig nie op teen die luister van die RWB nie.

Jones het reeds te kenne gegee dat hy nuwe bloed vir die toetsgroep soek.

Die taai toer van die Britse en Ierse Leeus vanjaar na Nieu-Seeland word glo veral vir die moeë Engelse verkwalik. Die Rose het 16 van die aanvanklike 41 toerspelers opgelewer.

Bogenoemde omstandighede kan Suid-Afrika op tweërlei wyse raak.

ʼn Uitgedunde Engelse span kan Rassie Erasmus en sy “nuwe” Springbokspan se taak vergemaklik, maar kan die soet smaak om die grootmond-Jones en Engeland se keurbende op hul baadjie te gee ietwat verwater.

Om nie eens van die skande te praat as die Bokke teen die Engelse se naasbestes verloor nie.

Belangriker egter: Daar word reeds daarop aangedring dat die volgende Leeutoer na Suid-Afrika (2021) uit slegs agt wedstryde moet bestaan, glo omdat provinsiale spanne in Suid-Afrika nie meer “wesenlike” teenstand kan bied nie.

Die eiegewin van die Engelse klubs en die druk wat die Premier- en Europese ligas op die spelers plaas, is waarskynlik ʼn belangriker – of eerliker – rede.

Leeutoere (en hul voorgangers sedert 1891) was nog altyd een van die belangrikste instellings in Suid-Afrikaanse rugby, en afgeroomde Britse en Ierse Leeutoere sal Suid-Afrikaanse rugby verder verarm.

Die opvatting oor mededingendheid moet egter veral as wekroep vir die sluimerende SA Rugbyunie (Saru) dien dat sy primêre plig is om Suid-Afrikaanse rugby intern te versterk eerder as om al hoe meer spanne in buitelandse ligas te laat speel.

Hy moenie weer soos met sy in die pylvak verbroude Wêreldbekerbod, aan die slaap gevang word nie.

Is dit te veel gevra?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.