Vliegtuig met 72 aan boord stort neer

Argieffoto (Foto: gustavmelin0, Pixabay)

Daar word gevrees dat altesaam 72 passasiers en bemanningslede aan boord ʼn Aseman Airlines-vlug dood is nadat een van die lugredery se vliegtuie Sondag in die Zagros-bergreeks in Iran neergestort het.

Aseman Airlines-vlug EP3704 was volgens plan vanaf Teheran op pad na Yasuj in die suidweste van die land. Die vliegtuig, waarin 66 passasiers, twee veiligheidswagte, twee bemanningslede en twee vlieëniers gereis het, het glo een uur nadat dit die lughawe verlaat het, neergestort.

Die lugredery het aanvanklik Sondag ʼn verklaring uitgereik waarin gesê is al die passasiers aan boord die vliegtuig is dood, maar hy het die verklaring intussen onvoorwaardelik teruggetrek.

Aseman Airlines het Sondag laat gesê hy het besluit om sy aanvanklike verklaring terug te trek omdat ondersoekspanne weens die ontoeganklikheid van die bergstreek nog nie toegang tot die ongelukstoneel gehad het nie. “Ons kan dus nie die dood van al die passasiers en die bemanningslede op hierdie vliegtuig akkuraat en definitief bevestig nie,” lui die verklaring.

Slegte weer, waaronder mis en swaar sneeu, het alle reddingspogings tot dusver vertraag. Noodspanne moes per land na die ongelukstoneel reis omdat ʼn helikopter nie in dié swaar weer kon vlieg nie.

Die BBC berig een man het die vliegtuig per ongeluk vroeër die dag misgeloop toe hy te laat by die lughawe opgedaag het. Die man het ʼn ongebruikte kaartjie as bewys voorgehou. “God was regtig baie goed vir my, maar my hart is seer oor die res van die passasiers op die vlug,” het hy gesê.

Pres. Hassan Rouhani van Iran sê die voorval het “groot hartseer en smart” veroorsaak. Die land “hoop tans vir ʼn wonderwerk”.

Iran sukkel volgens die BBC al ʼn geruime tyd om onderdele te kry om sy vliegtuie in stand te hou in die lig van internasionale sanksies wat opgelê is om sy kernprogram te bekamp.

Aseman, Iran se derde grootste lugdiens, het verlede jaar ʼn kontrak met Boeing onderteken om 30 van sy jongste mediumreeks 737’s aan te koop.

Die vliegtuig wat neergestort het, is na bewering 25 jaar oud.

In 2014 is 39 mense in ʼn vliegramp in Iran dood. In 2011 is 78 dood toe daar iets fout gegaan het tydens die landingsproses. In 2009 is al 168 passasiers aan boord dood toe die vliegtuig aan die brand geslaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.