Voorwoord deur genl Jannie Geldenhuys

Voorwoord deur  generaal Jannie Geldenhuys

Perspektief op geskiedenis en waarheid

Geskiedkundige Korrektheid is dikwels op die spel: Dit waarin mense glo het soms weinig te make met die waarheid en feite beteken dikwels niks nie. Wanneer sekere inligting in ’n gegewe tydperk nie gewild is nie, is dit nie in aanvraag nie en dateer dan vinnig. Mense glo wat hulle graag wíl glo, nie noodwendig as gevolg van die feite nie maar dikwels ten spyte daarvan. Hulle sal feite wat neig om hulle eie oortuigings teëstaan of uitdaag, te minag en verontagsaam. So raak die feite vergete, en dit wat mense glo, bly vassteek en word die nuwe gewilde “waarhede”. Die gevaar van hierdie proses is dat, wanneer leuens genoeg herhaal word, dit inderwaarheid die “geskiedenis” van die onskuldiges word.

Inligting en feite is dikwels vryelik en in oormaat beskikbaar. Ongelukkig lees baie mense nie boeke, tydskrifte of koerante nie, of hulle lees dit selektief; dit geld ook ander elemente van die media soos die radio en televisie. Mense vra my dikwels: “Maar hoekom het julle ons nie vertel van dit of dat rakende die Bosoorlog nie?” En tog was sodanige inligting, met min uitsonderings, deur radio, televisie, koerante en tydskrifte bekendgemaak. Andersins was inligting te vinde in genoeg betroubare boeke, geskryf deur gerespekteerde en geloofwaardige skrywers soos Chester Crocker, Helmoed-Römer Heitman en Willem Steenkamp.

Die meeste mense onthou dus net die deel van die geskiedenis wat hulle pas – en dan is daar die VHT-verskynsel. Die probleem met geskiedenis is dat dit in die verlede gebeur het, in ’n tydperk met sy eie ekonomiese, politieke en sosiale traumas en sindrome. Maar geskiedenis word geskryf in die skrywer se huidige tyd, met daardie tyd se eie anderse ekonomiese, politieke en sosiale traumas en sindrome van die dag. Voorts word geskrewe geskiedenis in die toekoms gelees, met die verskillende tendense wat die massas dan weer op daardie tyd aanhang. En dis in orde so, maar beteken eintlik dat dit menslik bykans onmoontlik is om geskiedenis gelyklopend korrek te kan skryf, lees en verál, te interpreteer, vir ’n juiste perspektief.

In die Suid-Afrika van 2010 het baie veterane begin om hulle eie ondervindings en weergawes van die Bosoorlog neer te skryf. Dis hoog tyd, want die grootste gros van die populêre media was vir baie lank reeds oordonder met die weergawes van diegene wat negatief deur die Suid-Afrikaanse Weermag[1] se oorwinnings in dié betrokke oorlogtyd geraak is – en die geskiedenis toe óf verdraai óf blameer het.

Die naaste wat u aan enige waarheid kan kom, bly steeds om dit aan te hoor van die mense wat daardie geskiedenis gemaak en meegemaak het in die tyd en atmosfeer toe dit gebeur het.

Dis dieselfde mense wat die gebeurde in herinnering roep in die atmosfeer van die nadraai, en presies ook dieselfde mense wat dit hier in hul verhale bevestig in die omgewing en sindrome van die huidige tyd – inderdaad Geskiedkundige Korrektheid.

Die skryf van hierdie boek

Hierdie boek is deur ’n groot aantal individue, vanaf soldatevlak tot by dié van ’n generaal, geskryf. Elkeen vertel sy storie in bekende militêre terminologie of op sy eie besondere trant. Dis nie maar net nog ’n spul ineengerygte Afrika-Bosoorlogverhale in ’n boekomslag nie. Die soldate se vertellings verskil – van die infanterieskutter tot kanonnier, van vlieënier tot mediese ordonnans en logistikus tot die spesialis-spoorsnyer.

Elkeen van die skrywers was ’n werklike rolspeler of iemand wat die verantwoordelikheid moes dra vir dit wat hy of sy in die storie vertel.

Al die bydraes is tot ’n geheel verweef om die werklike verloop van die oorlog weer te gee. Dié boek gaan oor die globale Koue Oorlog-era in Suider-Afrika in die algemeen, maar ook oor die warmer episodes, soos spesifiek in Namibië[2] en Angola, met die fokus op die beslissende operasies vanaf omgeveer 1985 tot op 10 April 1989.

Min het hierdie vegters besef dat die impak van hulle individuele en gesamentlike bydraes sulke verreikende gevolge sou hê. Die leser mag ontdek dat die infanteris in die bos dalk nooit kon besef het dat sy rol by die deurslaggewende Lombastreek-gevegte in Angola, tot die uiteindelike val van die Berlynse Muur bygedra het nie. Die individuele vlieënier sou destyds dalk nooit kon besef het dat hy een was van ’n groep wat konvensionele konsepte van lug-tot-grond-aanvalle ná sononder, verander het nie. Die kanonniers kon dalk nooit gedink het dat hulle met hul ultramodêrne offensiewe aanwending van artillerie die wêreld verras het nie, en die infanterievegters in pantservoertuie ook nie watter inisiatief en waagmoed hul aan die dag gelê het, om vyandelike tenks met hulle gewone gevegs-Ratels op wiele aan te durf nie.

Ongelukkig was dit onmoontlik om almal wat ons sou wou betrek by hierdie poging, te laat deelneem. Meer as twintig jaar het verloop en tot ons leedwese, het sommige van die sleutelpersone al heengegaan: Mense soos genl. Kat Liebenberg, hoof van die leër en later ook die weermag, gedurende die laat tagtiger- en negentigerjare, so ook kol. Deon Ferreira, operasionele bevelvoerende offisier van die grondmagte in die suidooste van Angola, gedurende die middel tot laat tagtigerjare.

Daar was ook ander met wie ons nie kontak kon bewerkstellig, of wat nie beskikbaar was nie – mense wat hulself én Suid-Afrika tans met hulle kennis, vaardighede en dapperheid in oorlogs- en vredesoperasies regoor die wêreld onderskei, in lande soos Afghanistan, Irak en Sentraal-Afrika. Gelukkig het meer as genoeg mense vrywillig bydraes gelewer om van hierdie boek ’n unieke, geloofwaardige en baie boeiende leeservaring te maak.

Algemene konsep 

Die resultaat van hierdie manuskrip is uiteindelik ’n amperse chronologiese verloop van ’n menigte stories deur baie skrywers, met geen spesifieke individuele skryfstyl of motief nie. Insgelyks is die redigeerders en vertalers ook stip riglyne gegee om nie aan inhoud van bydraes te torring nie, en met oordeelkundige taalversorging te verseker dat ’n unieke skryfstyl en idiomatiese gebruik, nie ingeboet word nie.

Natuurlik het die meeste van hierdie skrywers nie die vaagste benul gehad van die waaroms en waarvoors, of oorsake en gevolge nie. Wat wel in so ’n proses verlore kan gaan, is kontinuïteit en ’n logiese vloei. Om hiervoor te kompenseer en die teks meer lesersvriendelik te skaaf, is daar plek-plek ’n paar stukkies bindteks tussenin ingewerk, geskryf deur mense in posisies van verantwoordelikheid, hoewel nie altyd fisiese doeners nie en dié voorwoord is ook een so ’n stukkie.

Deel I (1939-45 tot 1986) weerspieël die toepaslike agtergrondsgebeure vanaf die Tweede Wêreldoorlog tot en met die meer opsigtelike begin van die “warm voorvalle” van die Koue Oorlog-era in Suider-Afrika, veral in Angola, en die insurgensie in Suidwes-Afrika.

Deel II (1986 tot 1988) bestaan uit ’n reeks stories oor die toppunt van aksie gedurende die warm tydperk van die Koue Oorlog-era in die suidooste van Angola, toe MPLA[3]– en FAPLA[4]-magte, ondersteun deur die Russe[5] en Kubane, hulle daarop toegespits het om Jonas Savimbi uit die weg te ruim en sy UNITA[6]-magte by Jamba uit te wis.

Deel III (1988 tot 1989) skets die daaropvolgende gebeure in die suidweste van Angola, met die klap van die laaste skote tussen Kubane en Suid-Afrikaners en die algehele onttrekking van alle vreemde magte uit Angola.

Deel IV (1989 tot die hede) het in die algemeen te make met die laaste insidente en gebeure van ’n militante aard in die Koue Oorlog-era in Suider-Afrika.

Deel V, anders as die eerste vier dele wat amper uitsluitlik die gebeure ín die  oorlogsarena aan u bring, fokus hierdie deel op die nie-fisiese politieke, sielkundige en propagandistiese vuishoue en toutrekkery van die oorlog.

En daarna bring ons ’n sakkie vol pêrels en verrassings.

Ek vertrou dat u ’n gesonde aptyt vir die res van hierdie besondere boek sal gewaar na die voorsmakie van die sensasionele Operasie Coolidge II by: The Bridge on the River Cuito

 


[1] Die afkorting SAW sal meestal in hierdie teks gebruik word.

[2] Voorheen Suidwes-Afrika: In hierdie teks sal skrwyers die name SWA, SWA/Namibië en Namibië, gebruik volgens die populêre vorm
van die dag.

[3] MPLA – Politieke party: “Popular Movement for the Liberation of Angola”.

[4] FAPLA – Militêre gewapende vleuel van die MPLA-politieke party: “Popular Armed Forces for the Liberation of Angola”. Die
woord Fapla sal vervolgens gebruik word.

[5] Russe en Sowjette word in die algemeen en deur skrywers van hierdie boek as Russe bestempel.

[6] UNITA – Nasionale Unie vir die Algehele Onafhanklikheid van Angola. Een van drie Angolese politieke partye na die Portugese bewind. Die woord Unita sal deurlopend in hierdie teks gebruik word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.