Waarnemende NVG-hoof se antwoorde in onderhoud ‘te filosofies’

Dr. Silas Ramaite. Foto: npa.gov.za

Die waarnemende hoof van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), adv. Silas Ramaite, is Woensdag meermale gemaan om vrae direk te beantwoord tydens sy onderhoud vir die amp van nasionale direkteur van openbare vervolgings

“Die probleem, advokaat, is dat u nie vrae reguit beantwoord nie,” het min. Jeff Radebe, voorsitter van die raadgewende paneel, tussenbeide getree terwyl Ramaite gereageer het op ʼn vraag van die paneellid adv. Lawrence Manye.

“U word direkte vrae gevra en is baie filosofies in u verwysing na die Britse hoërhuis…. Hier in Suid-Afrika wil ons weet wat in die NVG gebeur. Hoe sal u te werk gaan as u aangestel sal word as die hoof daarvan?”

“Ek het nog nie u uitsprake hieroor gehoor nie. Adv. Manye sê byvoorbeeld dat u in 2015 waarnemende direkteur van openbare vervolgings was. Ek het verwag u sou sê: ‘In dié tyd was dít die besluite wat ek geneem het’.”

Ramaite het aan die paneel gesê daar was nie slegte uitsprake teen hom nie.

In ʼn stadium het die paneellid Thembekile Kimi Makwetu, ouditeur-generaal, opgemerk dat Ramaite die paneel van die geleentheid ontneem het om insig in die werking van die NVG te verkry.

Nog ʼn paneellid, adv. Jaap Cilliers, het gesê Ramiaite se antwoorde is kommerwekkend.

“Dr. Ramaite, ek is ietwat bekommerd oor u antwoorde. Ek sou dit waardeer indien u in meer praktiese terme kon antwoord. Blykbaar is u dit met my eens dat die NVG in ʼn krisis verkeer. Sou u hiermee saamstem?”

Ramaite het van hom verskil.

“Terwyl ons nou gesels, nee,” het Ramaite gesê. “Nie hier waar ons nou gesels nie. Toe ek versoek is om waar te neem, was daar beslis ʼn groot probleem, veral op hoofkantoorvlak. As u kyk na wat tans gebeur, in die kantore van die direkteurs van openbare vervolging, was daar baie verbeterings ten opsigte van die werk, werk wat op die oomblik gedoen word.”

Cilliers wou by Ramaite weet of hy bewus was van enige probleme by die NVG wat die instelling lamlê.

“Op die oomblik is ek nie van enige sodanige probleme bewus nie,” het Ramaite geantwoord. “Daar is ook niks van dié aard onder my aandag gebring nie.”

Die onderhoude vir ʼn nuwe NVG-hoof wat Woensdag begin het, duur tot Vrydag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.