Winde van verandering oor Rusland en China

Pres. Wladimir Poetin van Rusland (2006) Foto: Kremlin.ru via Wikimedia Commons

’n Blonde 35-jarige TV-persoonlikheid, Ksenia Sobtsjak, het haar as presidentskandidaat vir volgende jaar se verkiesing in Rusland beskikbaar gestel. Sy sal na verwagting gemaklik deur die huidige president, Wladimir Poetin, geklop word, hoewel Poetin hom nog nie formeel as kandidaat beskikbaar gestel het nie.

Sobtsjak is tevore reeds die Russe se eie Paris Hilton genoem. Sy is die dogter van Anatoly Sobtsjak, Poetin se voormalige mentor. Met haar toetrede, wat sy aanlyn gedoen het, het sy egter min kritiek op Poetin gelewer, en van die ontleders meen sy is eintlik deur die Kremlin as kandidaat in die veld geplaas om teenstand teen Poetin te verdeel.

Hoewel Poetin volgens peilings maklik die pyp gaan rook, glo ’n groot deel van die kiesers dat Poetin en sy vertrouelinge korrup is.

Terwyl Rusland onder Poetin sy wêreldmag probeer herstel, is daar ook gebeure in China wat op soortgelyke verwikkelinge dui. Die Chinese leier, Xi Jinping, het tydens die 19de kongres van die Kommunistiese Party gesê China gaan ’n meer sentrale rol in wêreldpolitiek inneem. Dit beteken China gaan homself as volwaardige groot moondheid beskou en as sodanig optree.

Tog is daar groot veranderinge vir China in aantog, hoewel ’n demokrasie nie een is nie. Trouens, Xi Jinping het aangedui hy beskou die eenpartystelsel van China as ’n model van hoe ’n land sy groeidoelwitte kan bereik.

Die vernaamste verwikkeling is dat China nou ’n eenheid via die grondwet in die lewe roep wat bekend staan as Xi Jinping se Gedagtegang oor Sosialisme met Chinese kenmerke vir ’n nuwe era.

Dit lyk of Xi die weg begin baan om die grondwet so te wysig dat hy hom in 2022 weer verkiesbaar kan stel. Hy sal dan immers ’n soortgelyke onsterflike baadjie dra as Mao Zedong en Deng Xiaoping wat op soortgelyke wyse vereer is.

Orville Schnell, hoof van die Asia Society’s Center on US-China Relations, sê met dié stap word nie net gepoog om Xi ’n soortgelyke stempel as gedagteleier te gee as wat Mao gekenteken het nie, maar dit impliseer ook dat daar aanvaar word dat sosialisme met Chinese kenmerke ’n lewensvatbare alternatief is vir die Westerse liberale demokrasie en kapitalisme.

Nie almal stem saam met die Chinese kommunistiese party se aansprake dat dit vryheid van spraak, demokrasie, gelykheid en die regstaat voorstaan nie. In die praktyk, aldus ’n ope brief van ’n menseregteprokureur, het China niks daarvan nie.

Dit lyk of die Koue Oorlog met sy yster- en bamboesgordyn veel dieper spore getrap het as ’n oornagtelike normalisering van betrekkinge. Ons is net nie op dieselfde golflengte nie. Maar Suid-Afrika is tans allermins ’n maatstaf om normale demokratiese politiek mee te meet.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.