Ivan en Donnalee raak ‘romanties op radio’

Ivan Botha en Donnalee Roberts (Foto: Instagram)

Die gewilde akteurspaar Ivan Botha en Donnalee Roberts speel vir ʼn derde keer teenoor mekaar – dié keer in ʼn radiodrama wat Donderdag op RSG uitgesaai word.

Dié radiodrama, getiteld Spieëlbeeld, is geskryf deur Ronel Mostert wat voorheen haar debuut met Bosluisie gemaak het.

Spieëlbeeld vertel die verhaal van Andrea en haar tweelingsuster, Minke, wat sukkel om vrede met mekaar te maak. Dit is ʼn liefdesverhaal vol intrige wat luisteraars gaan laat wonder oor wat dan presies die ware geheim is vir die wrok tussen die susters wat dreig om die skeiding tussen hulle net al groter te maak.

Roberts het op sosiale media sy voel bevoorreg om deel te wees van dié radiodrama. “Donderdagaand raak en Ivan Botha romanties op radio. As Amanda Strydom jou ma speel, [is dit ʼn] voorreg,” het sy gesê.

Mostert sê dié stuk is geskryf uit persoonlike ervaring. “Ek word tans in my persoonlike lewe gekonfronteer met vriende wat teen kanker veg,” sê sy. “Spieëlbeeld bevat ook só ’n element van hartseer. Dalk besef mense dat die lewe kort is. Dat ons elke dag moet aangryp en die beste daarvan moet maak. Dat ons makliker moet vergewe en meer moet liefhê. Net leef. Dit is ’n voorreg!”

Sy sê skryfwerk gee haar die geleentheid om beheer te hê oor wat die uiteinde van ʼn verhaal moet wees – in dié geval ʼn positiewe einde.

“Ek het Spieëlbeeld baie geniet. Ons leef in ’n gebroke wêreld, maar met my skryfwerk kan ek nog happy endings skep en selfs daaraan vashou en daarin glo. Ek hoop dat die luister na dié radiodrama vir elke luisteraar ’n positiewe ervaring sal wees.”

Die regisseur van Spieëlbeeld is Christelle Webb-Joubert. Ander akteurs soos Amanda Strydom, Cindy Swanepoel, Karen Wessels en Eloise Cupido is ook in die stuk.

Webb-Joubert sê Botha en Roberts het tydens die vervaardiging van dié stuk RSG-radiogeskiedenis gemaak. Volgens haar word “radio-soene” gewoonlik op die speler se eie hand gedoen, maar dié paartjie, wat vroeër hul verlowing aangekondig het, het “die radio-soen met vurigheid en passie aangepak,” sê sy.

Spieëlbeeld word tydens RSG se Radioteater-program uitgesaai. Radioteater word tot einde Desember elke Donderdag om 20:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai. Die radiodramas word Maandagoggende tussen 01:00 en 02:00 herhaal.

Kyk ook hier na die video.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.