Luister: ‘Begrond’ wys daar is hoop, selfs in donkerste tye

Tydens die verfilming van die ‘Begrond’-rolprent. (Foto: begrond.co.za)

Begrond is die eerste fiksiewerk uit die pen van dr. Dirk Hermann. Dié drama vertel die verhaal van ʼn gemeenskap en familie wat tot stilstand gedwing word weens ʼn jong man wie se oupa wreed vermoor is.

Hermann het die regisseur en vervaardiger Bettie Kemp genader met ʼn versoek om die drama se teks tot ʼn enkelradiodrama te verwerk. Sy het dadelik aan die werk gespring en die skrywer Joe Kleinhans genader om die verwerking te hanteer.

Kemp sê omdat die enkeldrama ʼn dokumentêre drama is, is dit soveel meer aangrypend. Die geskiedenis is dikwels meer boeiend as fiksie, meen sy.

“Dit plaas die kollig weer op plaasmoorde wat so deel van ons bestaan geword het dat dit vir baie net statistieke is, en plaasmoorde word in al sy felheid in perspektief geplaas,” sê Kemp. Die kern van die boodskap wat oorgedra word, is dat daar hoop is – selfs in die donkerste tye.

Begrond is ʼn aangrypende verhaal rondom ʼn plaasmoord in Suid-Afrika wat die jong Faan Venter, sy familie en die gemeenskap tot in hul fondamente skud. Faan keer terug na die familieplaas waar sy oupa Faan wreed vermoor is en hier probeer hy antwoorde kry. Uit briewe van sy grootouma Katryn kom daar lig.

Die verhaal gaan maak ʼn wye draai by die Heilbron-konsentrasiekamp, die krygsgevangenekamp in Ceylon en die swaarkrytyd ná die Vryheidsoorlog toe sy voorouers by dieselfde kruispad gestaan het. Hulle het die plaas se naam verander na Staanop!

Soos sy ouma Katryn skryf “… ek vertrou dit gee jou insig in my ou tyd, antwoorde vir die nuwe tyd en hoop vir die toekomstige tyd”. Dit word ʼn boeiende verhaal van trane, liefde en hoop wat oor sewe geslagte strek.

In die rolverdeling van die enkeldrama is Anton Dekker as pa Theuns, Magda van Biljon as ouma Hester, Luan Jacobs as Kleinfaan, Su-An Müller-Marais as Katryn, Antowan Nothling as Karel, Bettie Kemp as Katryn se ma, Lieb Bester as vader Martiens en Leon van Nierop as oom Gert.

Tegniese versorging is deur Marius Vermaak behartig en die drama is in Maroela Media se ateljee opgeneem.

Nie net is Hermann se boek in ʼn enkeldrama verwerk nie, maar dit is ook in ʼn fliek omskep. Die première van die Begrond-rolprent vind op 22 September plaas en kykers sal dit tydens ʼn regstreekse uitsending op dieselfde tyd kan bywoon. Meer inligting volg binnekort.

  • Luister boaan die berig na Begrond, ʼn enkelradiodrama uit die pen van dr. Dirk Hermann.
  • Lees meer oor Hermann se boek Begrond op Maroela Media.
  • Lesers kan op 22 September om 20:00 aanlyn saam na die rolprent van Begrond kyk. Besprekings kan hier gedoen word.

Kyk hier na die lokprent van Begrond: die film wat op 22 September uitgereik word:

#BegrondFilm

▶️ Hoe sien ’n mens die lig wanneer alles om jou donker is? ???? Kán ons ’n toekoms uit niks uit opbou? Solidariteit en AfriForum stel met trots die aangrypende Anglo-Boereoorlogfilm, Begrond bekend. Kom kyk dit GRATIS ???? aanlyn saam met ons op 22 September om 20:00. #MassaFliek #BegrondFilmBespreek jou plek hier: www.begrond.co.za

Posted by Solidariteit on Saturday, September 4, 2021

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Phil ·

Dis n aanlyn film, kliek bo op besprekings om jou plek gratis te bespreek.

Phil ·

My plek is klaar bespreek, hierdie gaan n groot treffer word!

Jan Seerot ·

Ek het die lokfliek gekyk. Ek was self ‘n soldaat in die elite magte, maar ek het nooit, en nog nooit aan ‘n vrou geslaan nie. Daardie toneel het my bloed laat kook.

annie ·

Herman het skynbaar nou sy nis bereik. En toe klim hy, dapper, van die rak af. Doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.