Aardklop soos in die ou dae


Foto: Facebook

Foto: Facebook

Toe ek die eerste keer Aardklop beleef het, was ek ʼn student op die Puk en die fees was nog op die Bult. Ek en Aardklop is goeie maats, ons ken mekaar goed. Maar as ek aan my lekkerste Aardklop dink, dink ek terug aan daardie eerste keer, daar op die Bult.

Ek het my gunsteling-skrywer daar op die Bult ontmoet, sommer daar tussen die Portugese oom se winkel en die boekwinkel. Ek onthou nog hoe opgewonde ek was toe een of ander rocker ook verby my gestap het – vandag kan ek nie onthou wie die rocker was nie, maar as ek my oë toemaak, sien ek vir Mel Botes.

Ek onthou die hitte – dit is mos altyd warm tydens Aardklop, maar dit het ons nie gekeer nie. Ek onthou ook hoe ek en my medestudente in die straat gestap en sing het – op pad na een of ander vertoning. Ek het daardie jaar nog kaartjies gewen na Karen Zoid se vertoning wat later die jaar sou plaasvind. Sy het by haar konsert gevra wie kaartjies wil hê en ek was heel voor by die verhoog met ʼn groen kopband om my kop. Ek het so gegil vir daardie kaartjies, ek dink nie sy het eers iemand anders gehoor nie. Ons was tot laat in die strate, en kon oral heen stap – die koshuis was mos naby die terrein gewees. Wat ʼn fees!

Toe die terrein skuif, het dit gevoel of ek my Aardklop kwyt was. Ek weet nie waarom nie, maar die fees het so bietjie van sy “magic” verloor. Dalk omdat ek ouer geword het, of dalk omdat my verwagting te hoog was. Ek weet nie. Toe die aankondiging vroeg vanjaar gemaak is dat daar glad nie meer ʼn Aardklop sal wees nie, was ek geskok. En hartseer, baie hartseer.

Vanjaar, vir die eerste keer in jare, is ek weer opgewonde oor Aardklop. Kinderlik opgewonde. Die fees word weer op die Bult gehou, studente sal weer kaartjies kan bekostig, en die feesprogram lyk goed!

Vanjaar gaan ek weer Aardklop soos in die ou dae, en die kans is goed dat ek weer verby ʼn rocker gaan loop.

Mel Botes, ek hoop ek sien jou daar…

Besoek Aardklop se webtuiste of Facebook-blad vir meer besonderhede, of gaan loer op Computicket vir kaartjies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lithop ·

Toe ek die eerste keer Aardklop bygewoon het het ek besef hoe ongelooflk amateuragtig dit is. Skoolsale wat maak dat mens niks voor jou kan sien nie. Swak klank. Swak en arrogante houdings van sogenaamde sterre wat nie weet dat jy vêr gery en heeltemaal te veel betaal het vir hulle powere pogings nie. Stukkende sitplekke. Duur kos. Nee wat, dit sou beter wees om hierdie abominasie dood te laat gaan.

Tina Venter ·

Baie geluk Alexa, ek weét sommer dit gaan ‘n yslike sukses wees. Sjoe ek wens ek kon dit bygewoon het

Rupert Ashford ·

Mag Steve ook kom of pas julle nogsteeds sensuur toe?

Lance ·

Wonderlik dit gaan weer SO lekker wees so bly die fees is weer terug soos hy was …DANKIE ons is daar !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.