Annelise de Jager: ’n Vrou wat glo in die krag van welsynsorganisasies

Annelise de Jager glo in die krag van opleiding en persoonlike ontwikkeling. (Foto: Verskaf.)

Sy is die vrou wat agter die ontwikkeling van nasionale projekte soos Loslitdag en Tekkie Tax staan, wat steeds jaarliks geld vir ʼn verskeidenheid van welsynsorganisasies in Suid-Afrika insamel. Só het Annelise de Jager en haar toegewyde span al met projekte soos hierdie meer as R200 000 miljoen vir liefdadigheid ingesamel.

Deesdae fokus De Jager van Centurion egter meer daarop om die personeel van hierdie soort organisasies, wat so ʼn groot verskil in Suid-Afrika se maatskaplike omgewing maak, toe te rus met ʼn verskeidenheid van vaardighede sodat hulle hul gemeenskappe op die beste wyse kan dien.

De Jager, wat ook ʼn ma en kranige motorfietsryer is, sê sy wou nog altyd die wêreld ʼn beter plek help maak. Dit is dan ook die rede waarom sy maatskaplike werk en kommunikasie aan die Noordwes-Universiteit gaan studeer het.

Na ʼn paar jaar as ʼn maatskaplike werker het sy besef sy wil op ʼn manier ʼn bydrae lewer wat ʼn groter rimpeleffek op die wêreld van welsyn sal hê. Dit is hier waar sy betrokke geraak het by talle geldinsamelingsprojekte om welsyn- en liefdadigheidsorganisasies se hande te versterk.

Sowat vier jaar nadat sy die nasionale Tekkie Tax-veldtog, wat in 2012 gestig is, weer eens suksesvol afgehandel het, het sy besef dit is nou tyd om te konsentreer op haar programme wat nieregeringsorganisasie bemagtig en oplei.

“Jy weet, die geld wat ek destyds help insamel het, is lankal weer opgebruik, maar as ek in ʼn persoon se opleiding belê, kan dit net uitkring en op die ou end ʼn hele gemeenskap verander.

“Met die opleiding wat ek nou verskaf, kan ek persoonlike ontwikkeling gebruik om mense se lewe te verander, terwyl hulle ook vaardighede soos bemarking en tegnologie aanleer.”

Annelise is ook ‘n kranige motorfietsryer. Hier ontdek sy die skoonheid van Lesotho op haar motorfiets. (Foto: Annelise de Jager/Facebook.)

De Jager erken dit is nie maklik om altyd met mense te werk nie.

“Dit is ongelukkig nie soos om kolwyntjies te bak nie, want daar kan jy net ʼn eenvoudige resep volg wat altyd dieselfde bly. Gelukkig kanselleer die lekker van hierdie soort werk altyd die slegte en uitdagende dinge uit.” Dit het sy nog elke keer in haar sowat 30 jaar in die welsynswêreld gesien.

Volgens De Jager rus daar nou beslis ʼn groter onus op welsynsorganisasies om geld en ondersteuning te werf ná die Covid-19-pandemie die land getref het.

“Die hartseer werklikheid is dat talle van hierdie organisasies met die afsonderingstyd nie enige geldinsamelingsprojekte kon aanbied nie of welsynswinkels se deure kon oophou nie. Boonop het talle organisasies verdere finansiële ondersteuning verloor omdat maatskappye eerder geld aan die regering se Solidariteitfonds geskenk het. want daar was ʼn groter belastingvoordeel vir hulle daarin.”

Tog het De Jager mense wat steeds in hierdie veld bly werk te midde van die uitdagings en groter verantwoordelikhede, bemoedig.

“Ek wil vir mense sê hulle moet net aanhou om te hoop, moenie nou moedeloos raak nie. Covid-19 het ons nou op ʼn grondpad gegooi, maar dit kan nie vir altyd aanhou nie en as dit eers verby is, sal ons kan terugkyk en terugdink aan die goeie lesse wat ons uit hierdie tyd geleer het. Niks is ooit net sleg nie.”

Annelise is ook ‘n gereelde stem op radio waar sy gesels oor die goed waaroor sy passievol is. (Foto: Annelise de Jager/Facebook.)

Sy benadruk ook dat organisasies net so goed kan wees soos die mense wat daarvoor werk.

“Jy is die plafon en as jy wil hê jou organisasie moet groei in jul sukses van geldinsameling en bemarking, moet jy as persoon ook groei. Daar is ongelukkig geen kortpad nie, want jy bepaal waar organisasie is en dit is waarom ontwikkeling en opleiding so belangrik is.

“Dit is egter ook so dat ons almal nie direk vir ʼn welsynsorganisasie kan of wil werk nie, maar jy kan steeds ʼn verskil maak deur ʼn organisasie wat jou na aan die hart lê, finansieel te ondersteun. Tog is dit belangriker om eerder jou tyd en kundigheid aan hierdie organisasie te bied.”

De Jager meen iets so eenvoudig soos om ʼn organisasie of personeellid se opleiding te borg, kan ook reusagtige verskil maak.

“Ek glo ook ʼn mens borg net 50% sodat die res deur die persoon self betaal word, anders heg hy of sy nie self werklik waarde aan die opleiding nie.”

Terwyl daar verskeie maniere is wat ʼn mens wel ʼn verskil kan maak, glo De Jager vas dit is elke Suid-Afrikaner se plig om minstens iets te probeer doen.

“Al is dit so eenvoudig soos om net dankie te sê, of ʼn koek vir die personeel van jou gunsteling-welsynsorganisasies te bring; as ons almal elkeen net een klein stukkie doen, kan ons saamwerk om die wêreld ʼn beter plek te maak.”

  • Annelise de Jager het met Esté Meyer Jansen van Maroela Media gesels oor die wêreld van welsynorganisasies en waarom sy deesdae opleidingsgeleenthede vir mense in hierdie bedryf skep. Getrou aan Annelise se aard, deel sy ook ʼn hand vol hoop en wysheid oor moedhou, aanhou en uithou. Luister na die volledige onderhoud boaan hierdie berig.
  • Daar is verskillende maniere waarop welsynsorganisasies saam met De Jager kan werk. Sy bied ook talle aanlyn opleidingsgeleenthede aan – baie daarvan gratis – en begin boonop ʼn NWO Fondsinsamelingsforum, wat 25 opleidingsessies oor ʼn tydperk van ʼn jaar bied in aspekte van persoonlike ontwikkeling, bemarking, geldinsamelingsprojekte en tegnologie. Besoek Annnelisedejager.com of haar Facebook-blad vir meer inligting hieroor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae