Blaps met kragskepe, vrae oor drankverkope en ’n grendelgenerasie

Die Turkse noodkragskepe van Karpowership by ‘n hawe in Ghana. (Foto: Karpowership.com)

Die regering se planne om bykomende kragopwekking by Karpowerships te verkry, het reeds ʼn string probleme. Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) vra vir sekerheid oor alkoholverkope en daar is kommer oor die inperkings se uitwerking op jeugarmoede.

Gerhard van Onselen, senior ontleder van Sakeliga, bespreek die belangrikste sakekwessies van die week.

ʼn Vermeende versuim deur die departement van openbare werke kan planne vir Turkse noodkragskepe in die wiele ry, luidens Rapport.

Blykbaar is toestemming van die Transnet Nasionale Haweowerheid (TNPA), nog ʼn staatsinstelling, nodig vir die skepe om as’t ware te mag vasmeer. Die toestemming kan nie gegee word nie, want, volgens berigte, het die owerheid nie ʼn wettige status as reguleerder nie.

Die ooreenkoms met Karpowerships word reeds deur mededingers en omgewingsgroepe betwis.

Die wetlike status van die haweowerheid is nou ʼn verdere twispunt. Dit klink of die owerheid regtens nie korrek saamgestel is nie. Pres. Cyril Ramaphosa het onlangs gesê dat “intensiewe werk” aan die gang is om die owerheid te formaliseer.

Duidelik vorder Suid-Afrika se produksie van onbeholpe burokrasie flukser as die produksie van krag en ekonomiese groei.

Sodanige burokrasie is natuurlik nie ʼn neutrale element in ʼn ekonomie nie, en te veel daarvan kan groei in die wiele ry.

Businesstech het vandeesweek berig dat SAB sy besluit om belegging te kanselleer sal heroorweeg indien die regering sekerheid gee oor alkoholverkope.

SAB soek ʼn vaste versekering dat ʼn algehele verbod op drankverkope nie weer ingestel sal word nie. Die groep eis ook groter duidelikheid oor die langtermynraamwerk van plaaslike alkoholregulering.

Tot dusver is R5 miljard se belegging op ys. SAB onderneem ook litigasie teen die regering op grondwetlike gronde.

Skynbaar het die regering ook nie as’t ware die “wetenskap” gevolg met sy laaste verbod nie. Die ministeriële advieskomitee se aanbeveling was nie vir ʼn algehele derde verbod op drank nie.

SAB is ʼn sprekende voorbeeld van waar uiterste regulering toegepas was. Dit is tans egter nie net hulle wat onder hewige en toenemende regulering gebuk gaan nie.

In huidige staatkundige bedeling word al hoe meer wette bloot “gemaak”. Baie daarvan op grond van heersende regerings se oogmerke en ideologie.

Vryhede het nie meer die betekenis van klassieke of gemenereg-opvattings nie.

Moneyweb deel kenners se kommer oor die ontstaan van ʼn sogenaamde “grendelgenerasie”. Tot voor Covid-19 en die regering se inperkings was dinge in Afrika suid van die Sahara aan die verbeter.

Sedert die 1970’s het uiterste armoede afgeneem, bruto sekondêre innames by skole het versterk en jeugwerkloosheid was onder die gemiddeld (maar interessant genoeg nie is Suid-Afrika nie).

Inperkings, luidens die artikel, het ongelyk voordele vir ouer generasies toegedeel ten koste van die jongeres. Die vrese is dat vlakke van jeugwerkloosheid, beleidsgedrewe ongelykheid en armoede gaan vererger.

Dit is veral die jeug, diegene wat nog loopbane moet vestig, wat die groot koste kan dra. Ten ergste kan so ʼn koste saamgestelde effekte hê oor generasies, veral in armer lande.

Die hoop is dat tegnologie en entrepreneurskap die skade vir die jeug kan teenwerk.

Sakeliga reken wel dat dit sal verg dat gunstige markgerigte beleidsomgewings gevestig moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
annie

Is die kragskepe so onskuldig en hulpvaardig soos wat dit lyk; bloot vriendelike skepies in die hawe en ‘n paar ooms wat inkopies kom doen? Hoe word die krag opgewek en hoe raak dit ontslae van gebruikte materiaal en rommel? Is geen ideologie betrokke nie. Hoekom uit Turkye ‘n radikale Moslemland met ‘n woeste leier met ‘n ysterhand? Iewers klop iets nie buiten dat dit ons miljarde uit die sak gaan jaag? Wie het die idee gekoop? Eskom of Esdom?