Chris Chameleon: Die etiket van gebed

Chris Chameleon (Foto verskaf)

Ons lewe in ʼn sekulêre wêreld. Ten spyte van my Christelike begronding, pla dit my nie veel nie.

Ek het nog altyd geglo dat praktyke van dwang baie slegte reklame is vir enige geloof, ideologie of oortuiging. Die behoefte tot dwang spruit nie uit verheerlikte eienskappe soos liefde, hoop, geloof en moed nie. Dwang is eintlik die onchristelike werksdonkies van haat, kommer, wêreldsheid en vrees en, soos so dikwels al bewys is, speel dit uiteindelik altyd selfvernietigend in op diegene wat dit as gereedskap inspan.

Terselfdertyd is daar in die Westerse beskawing ʼn geruime tyd al ʼn neiging om die sekulêre aspirasies van die samelewing sodanig te bedryf dat dit soms neerkom op ʼn passiewe, soms aktiewe vyandskap teenoor die lewensleer van die gelowige burgers. Dis ʼn fyn balans, want aan beide kante is daar, getrou aan die mens se geaardheid, altyd die neiging om harder te druk en trek as wat nodig is en sodoende op die ander kant se tone te trap. En tog is dit deur die strewe en hantering van hierdie balans dat ʼn samelewing ʼn gelukkiger bestel vir beide kante kan bewerkstellig.

My liewe moeder het my nougeset Christelik grootgemaak en die skool en samelewing van my jeug in die 70’s en 80’s was sterk ter ondersteuning daarvan ingerig. Toe die rock en roll in my 20’s (die 1990’s) inskop het ek blind geword vir my herkoms. Nie op ʼn aktiewe, anti-my-inbors manier nie, maar eerder deur die oogklappe van nuwe wêrelde en ook die verblinding van die ligte wat bo nuwe horisonne verrys het.

Dit sou eers weer in 2017 wees dat my wortels my stam sodanig kon uitstoot dat ek bo die oerwoud van my omstandighede kon uitrys en myself weer gemaklik kon vind in my geloofslewe. Toegegee, die jare, die paaie, die plekke en ondervinding sou bepaal dat ek dit nooit weer kon beleef soos toe ek ʼn kind was nie, maar dit voel eerder soos ʼn verryking as ʼn verlies. Nou vang ek in ʼn sekulêre wêreld “vreemde” dinge aan soos om te bid voor etes in restaurante.

Onlangs het ek ʼn vergadering bygewoon, ʼn sake-gedoente, en die voorsitter het deur die gees gelei gevoel om met gebed te open. Ek het verseker geweet van ten minste vyf individue by die vergadering vir wie dit nie die gebruik was nie. Gelukkig het niemand iets daaroor gesê nie, maar dit het my laat wonder oor die etiket van so ʼn gebruik. Wat doen ʼn mens wanneer daar by ʼn vergadering mense is wat voel hulle besluite word gelei en geseën deur hulle god of gode daarin te ken, asook mense wat vere daarvoor voel? Hoe maak ʼn mens as die helfte van die hokkiespan voor die wedstryd wil bid en die ander helfte ongemaklik daaroor voel?

Nie te lank na hierdie vergadering nie, sou ʼn ete by een van my dierbare bure, wat glad nie die biddende tipe is nie, die antwoord te voorskyn bring. Hierdie vriende van my is, ondanks hul lank reeds agterweë gelate Calvynse inbors, nie “gelowiges” nie. Hulle doen nie die bid-ding of oordenking gelei deur eeueoue geskrifte uit die grotte van Qumran nie. Maar ek kan hulle ook nie regverdiglik voor die voet afmaak as ongeestelik nie. Daar is definitief ʼn geestelike bewustheid in hulle. Maar vir die etlike jare sedert ons af en toe oor en weer kuier en eet, is hulle nog altyd genoeë met ons huis se bidkultuur en sal hulle selfs vanuit hulle eie dit voorstel.

En dit het vir my die oplossing belig:

Wanneer gelowiges en, kom ons noem hulle maar sekulêres, aan een en dieselfde kant skouer aan skouer staan in ʼn saak waarin die een deel van die groep genoop voel tot geestelike erkenning en die ander deel nie, is die tweede beste oplossing dat die groep wat wil bid, noem dat hulle graag wil bid, maar nie ongemak by die ander deel van die groep wil wek nie, en daarom geensins omgee dat die ander deel van die groep hulleself vir ʼn wyle verskoon terwyl daar gebid word nie. Na afloop van die geestesformaliteite kan hulle dan by die sekulêre groep aansluit sonder oordeel en met liefdevolle vriendelikheid.

Omdat dit egter makliker en eenvoudiger is om voorsiening vir mense se spesifieke behoeftes te maak as om draaie om die onbekende van mense se nie-behoeftes te loop, is die eerste, die beste oplossing dat die sekulêre groep, indien hulle weet dat die gelowige groep wil bid, vanuit hulle eie inisiatief noem dat hulle bewus is daarvan dat die gelowiges wil bid, en hulle daarom graag die geleentheid wil gun om dit met gemak en in vrede te doen. So word daar dan ook die geleentheid geskep om te handel vanuit ʼn positiewe posisie van die krag van ʼn toegewing (nie met mag te verwar nie), eerder as om naastes te noop om te handel vanuit die onmag (nie met swakheid te verwar nie) van ʼn versoek. Die gegewe perd is meer werd as die genome perd.

Dit hoef nie so gedoen te word nie, maar indien dit so gedoen word, is dit die hantering wat buite die raamwerke van geloof of sekulariteit ʼn nuwe gemeenskaplikheid vestig om die beginsels van billikheid, beleefdheid en beskaafdheid.

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Podsendings, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Martie Smartie ·

Baie nie-biddendes voel hulle word onnodig blootgestel sou hulle die geleentheid gebied word om uit te stap, half of hulle nie deel is van ‘n geestelike gewaarwording nie. So nee, dis beter om saam bid uit die werksplek en professionele omgewing uit te hou, tensy ‘n groepie dit op hul eie tyd op hulle eie privaat plek gaan doen. Maw die biddendes stap uit na ‘n private plek en keer terug na die nie-biddendes. En base moenie gebed afdruk in werknemers se kele nie. Ek weet van werknemers wat gelowig en graag bid maar ongemaklik voel as dit by die werk in almal se kele afgedruk word. Dit bly ‘n persoonlike geestelike saak en mense gaan werk toe om te werk, nie vir geestelike voeding nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.