Chris Chameleon: Kuns vir wins

Chris Chameleon (Foto verskaf)

Geen dag gaan verby sonder dat ek êrens, in die loop van die dag, ondoelbewustelik kennis neem van die geseënde omstandighede van my lewe nie. Die gewaarwording vind dan gewoonlik vergestalting in iets tussen ootmoed, verpletterende dankbaarheid en oorstelpte blydskap wat dikwels met ʼn lukraak luide uiting gepaardgaan.

Ons almal streef na geluk, vervulling, blydskap en vreedsaamheid. Hoe ons daardie hoë ideale bereik, wissel maar van persoon tot persoon – elkeen het sy of haar eie idees oor hoe om dit te bereik. En die meeste van ons sal waarskynlik na ʼn ander persoon se benadering kan kyk en kan fout vind met die metode, of waardes of keuses daarvan.

Om byvoorbeeld oordadig op finansiële gewin te fokus, kan soms per abuis gemak en bevrediging bo geluk en vervulling plaas en dit boonop nadat heelwat gemak en bevrediging reeds opgeoffer is om die bankrekening met nog nulle toe te bedeel. Om andersyds asketies op waardes en geestelike vervulling te fokus, gaan die liggaam en gees waarskynlik aan ongemak en sosiale vereensaming blootstel. En so kan ʼn mens aangaan… elkeen moet maar vir hulself besluit.

Vir my het dit egter mooi uitgewerk, en sonder om my skuldig te maak aan geveinsde beskeidenheid kan ek met eerlikheid beken dat ek self nie veel krediet daarvoor kan neem nie. Ek dink nie dit is aan my te wyte dat ek met die gawe om te kan toneelspeel en musiek maak toebedeel is nie. Dis nie aan my te danke dat hierdie gawes op die regte tyd op die regte plek êrens aan die regte bemagtiging blootgestel is nie. Dis ook nie aan my te wyte dat die produk van hierdie inspanning aan genoeg mense se voorkeur voldoen het ten einde ʼn lewensvatbare inkoop op die beskoude waarde daarvan te bewerkstellig nie.

Trouens, ek is nie eens seker dat die werksetiek wat dit van my vereis het om my ideale te realiseer aan my te danke is nie. Dit het nooit na werk gevoel nie, maar as dit rekenkunde of administrasie was wat die verskil gemaak het, het ek dit nie gemaak nie want beide hierdie dissiplines wek in my ʼn weersin so oorweldigend dat ek ten spyte van die mooiste beloftes van vergoeding vir my inspanning, êrens die pad sou byster raak in die verwesenliking daarvan en, gevolglik, liederlik sou faal.

Teen hierdie agtergrond dan die volgende:

Ek kry reeds jare lank gereeld navrae van aspirant uitvoerende kunstenaars in verband met wenke vir deurbrake en aanduidings van kontakte, ten einde die onduidelike kronkelpad na bo in ʼn snelweg met duideliker aanwysings te omskep. Ek het ook baie begrip vir hierdie navrae – self was ek vroeër in my loopbaan nie bo sodanige navrae verhewe nie. Ek het byvoorbeeld in my onkunde destyds vir Coenie de Villiers, Anton Goosen en ʼn paar ander gevestigdes blootgestel aan die moontlike ongemak van dieselfde vraag.

As hierdie skrywe die doel kan dien om vir die res van my lewe bloot ʼn Maroela Media-skakel as antwoord te verskaf, dan is ek tevrede.

Eers die slegte nuus: Ek ken kunstenaars, briljante kunstenaars, met vaardighede wat ver bo my eie vermoëns strek, wat in armoede en obskuriteit swoeg en sweet vir ʼn plekkie in die son. Sommige van hulle het die droom verlaat en uiteindelik as neuroloë of internetspesialiste ʼn finansieel gemakliker lewe gevind. Die goeie nuus is dat hierdie ouens hul verhouding met hulle kuns voortgesit het en die vrugte van vervulling deurgaans pluk.

Dus: vaardigheid alleen is klaarblyklik onvoldoende.

Nog slegte nuus: Ek ken kunstenaars met ʼn werksetiek wat vir niks skrik nie. Hierdie mense sit die ure in, eet, drink en slaap die droom. Hulle oefen, onderhou netwerke, besin reklamefoefies en ry na heinde en verre ten einde die saad van hulle droom na enige en alle teelaardes te versprei. En met al hierdie moeite kan hulle net-net kop bo water hou terwyl hulle die foltering verduur van die droom ewig in die sig, maar nooit in die hand nie. Die goeie nuus is dat hulle darem in die nastreef van hul droom kan funksioneer en ten spyte van die tekortkominge hulle nie hoef te begewe in ʼn loopbaan wat hulle die vonkel in hul oë sal ontneem nie.

Dus: Werksetiek alleen is onvoldoende.

Verdere slegte nuus: Ek ken kunstenaars met benydenswaardige menslike en materiële hulpbronne tot hulle beskikking. Hulle pappas is ryk, hulle ken belangrike mense en het toegang tot infrastruktuur wat vir selfs die mees bekende name in die bedryf ontoeganklik is. En tog vind hul produksies nie aanklank nie. Die goeie nuus is dat hulle besig bly met die sake van hul hart en terselfdertyd elke bakhand op hulle weg seën met ʼn bydrae.

Dus: Enorme hulpbronne alleen is onvoldoende.

O! Wag! Daar is nog slegte nuus: Daar is geen resep nie. As daar was, sou die skrywer van daardie resep die resep self kon verkoop vir meer geld as wat daar ooit uit enige toepassing van die resep verdien kan word. Die voor die hand liggende aanwysings vir toeganklikheid van kontemporêre kuns is, juis vanweë hul resepmatigheid, duidelik sigbaar. En grootse, tydlose kuns, lê in óf die vervolmaking van die resep, of die radikale herskepping van die resep, wat in beide gevalle alles wat daarop volg na nabootsings sal laat lyk.

Wat vas en seker bly is die volgende:

Besigheid kan faal, bloot omdat besigheid meetbaar is aan plusse, minusse, vermenigvuldigings en breuke. Kuns kan nie faal nie, omdat dit onmeetbaar is.

Ander mates wat soms, verkeerdelik, op kuns toegepas word, is uiteindelik afleidings wat uit geassosieerde belange soos geld, aanhang en opspraak spruit en wat niks aan die kuns kan toevoeg of daarvan kan ontneem nie. Die beste kuns is kuns wat spruit uit toewyding, verdieping, inspirasie, opregtheid, en die vergestalting van geestelike verheerliking soos slegs kan geskied uit die aflegging van belange, agendas, voorneme en die druk van verwagtinge.

En die goeie nuus is dat voorgenoemde kuns in ʼn uitkomsgedrewe wêreld, in ʼn wêreld waarin die mens toenemend met kunsmatige intelligensie gaan wedywer om produksiegehalte, in ʼn wêreld waar hulpbronne, vaardigheid en geoptimaliseerde werksetiek tot groter uitnemendheid verskerp gaan word, die beskeie lig van diens en toewyding tot die onvervatbare, geestelike oorsprong van die siel, die oer-stukrag van kuns, helder en sterk sal skyn soos ʼn vuurtoring in die donker chaos.

 

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Podsendings, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jakkie ·

Persoonlike smaak en gewildheid? Oorspronklikheid? Voor ons worry oor kunsmatige intelligensie moet ons nie eers iets doen aan natuurlike dwaasheid nie……….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.