Christene in Indië kom onder skoot te midde van pandemie

Foto ter illustrasie. (Foto: Geopende Deure.)

Vervolging is niks nuuts vir Christene in Indië nie, maar dit is beslis besig om te midde van die Covid-19-pandemie skerp toe te neem.

Dit is die mening van Jan Gouws, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suid-Afrika, ʼn organisasie wat homself beywer om vervolgde Christene in etlike lande te ondersteun. Gouws het met Maroela Media gesels oor die uitdagings wat Christene nou in dié land ervaar.

Indië is tans die land met die derde meeste gevalle van Covid-19 ter wêreld en het die afgelope maande streng beperkings toegepas. Dit het daartoe gelei dat sommige van die mees geïsoleerde en kwesbare Christene deur erge hongersnood in die gesig gestaar word.

“Vervolgde Christene ervaar die impak van Covid-19 ekstra erg want hulle is vanweë hul geloof dikwels die laastes om kos en hulp te kry. Hulle word deur hul plaaslike gemeenskappe verstoot wanneer hulle weier om hul geloof te versaak – wat hulle sonder ʼn heenkome laat en dus uiters kwesbaar maak. Hulle word ook van hul families afgesny en word by gemeenskapversorgingstelsels weggewys,” het Gouws gesê.

Terselfdertyd is Hindoe-nasionalisme besig om in Indië toe te neem. Dié land is tans tiende op Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys van lande wêreldwyd waar Christene die ergste vervolg word.

“Hindoeïsme is die meerderheidsgeloof en daar is slegs 4,8% Christene in die land. Gemeenskapsleiers diskrimineer teen Christene en sorg dat hulle laaste in die ry is vir hulp. Hulle word ook toegang tot werk, skole en ander noodsaaklike dienste geweier,” het hy bygevoeg.

Gouws vertel van ʼn vennoot van Geopende Deure in Indië, Rajesh*, wat daagliks sien hoe erg die vervolging van Christene in hierdie land toeneem. Geopende Deure-vennote soos Rajesh verskaf praktiese en geestelike ondersteuning aan ons vervolgde broers en susters in Indië – enigiets van noodsaaklike voorrade en mediese sorg tot persoonlike besoeke om saam met hulle te bid, Bybels, skuilhuise, ondersteuning met voorspraak en hulp om klein ondernemings te begin.

“Rajesh sê Indiese Christene word aan alle vorme van vervolging onderwerp, fisiek én geestelik. Soms word hulle selfs mishandel en so erg aangerand dat hulle met hul lewens boet vir hul persoonlike verhouding met Jesus.”

Volgens Gouws loop huiskerke in Indië die ergste deur onder vervolging want hulle is geïsoleer en kan dus maklik geteiken word. Hulle het dikwels nie ʼn opgeleide pastoor nie en weet nie hoe om vervolging te hanteer nie, maar God se genade is genoeg vir hulle.

“Ons broers en susters is afhanklik van die ondersteuning van die liggaam van Christus wêreldwyd om hulle te help om sterk te staan vir Christus, ongeag wat die koste is.

“Bid asseblief vir krag en beskerming vir die kerk in Indië, veral geïsoleerde huiskerke. Bid vir wysheid en beskerming vir Rajesh en ander vennote van Geopende Deure terwyl hulle hul noodsaaklike werk onder vervolgde Christene doen.”

Lesers kan met ʼn geskenk van so min as R50 help om in die dringendste behoeftes van vervolgde Christene in hierdie tyd te voorsien. Dit sal hulle opnuut laat besef dat hulle nooit alleen is nie, en dat hul geloofsfamilie regoor die wêreld hulle ondersteun.

SMS net “MAROELA en jou NAAM” na 43699. Geopende Deure sal jou dan terugskakel om die inligting vir jou te gee. Standaard SMS-tariewe geld.

Bid vir Indië

  • Bid vir Christelike bekeerlinge van Hindoeïsme, wat kragdadiglik onder druk geplaas word om terug te keer na hul nasionale geloof.
  • Bid saam met Christene in Indië vir God se voorsiening en beskerming namate hulle die Evangelie verkondig in plekke met anti-bekeringswette.
  • Bid vir die gesinne van pastore om Christus as hul eerste prioriteit te behou en vas te staan te midde van vervolging.

*Rajesh is ʼn skuilnaam en verander vir sekuriteitsredes.

  •  Jan Gouws, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, het met Esté Meyer Jansen van Maroela Media gesels oor die uitdagings wat Christene in Indië ervaar. Die land het tans die derde meeste gevalle van Covid-19 in die wêreld en die streng beperking het daartoe gelei dat die mees geïsoleerde en kwesbare Christene erge hongersnood in die gesig staar. Gouws verduidelik ook hoe jy hierdie Christene kan ondersteun. Luister na die volledige onderhoud bo-aan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cheryl ·

Kosbare Vader hoor ons gebed. Beskerm en bewaar U kinders soos net U kan en voorsien in hul daaglikse behoeftes Vader. Hou U hand oor hulle en bedek hulle onder U vlerke. In Jesus almagtige naam. Amen.

Elize ·

Amen. Hierdie afduimpie, ek glo hierdie gebed het ook betrekking op jou. Mag Jesus se liefde jou lewe vul

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.