Chris Chameleon: Die uitkontraktering van emosionele skuld

Chris Chameleon (Foto verskaf)

Dit is ʼn kenmerk van wat algemeen as ʼn hedendaagse, moderne beskawing beskou word om dinge uit te kontrakteer. Spesialisasie noodsaak dit.

Tot so min as 100 jaar gelede was dit nog moontlik om ʼn meester van vele nerings te wees, terwyl dit deesdae so te sê onmoontlik is. En die rede daarvoor is dat spesialisasie die grense van uitnemendheid na sulke verre uiterstes gedu het, dat vir jou bevoegdheid om enigsins in aanmerking te kom vir die meesterlinie in enige dissipline, verg ʼn toewyding en aanwending van tyd en inspanning wat noodwendig geskied ten koste van gelyke aandag aan ander velde.

Vyfhonderd jaar gelede kon ʼn genie soos Leonardo Da Vinci hom meesterlik van sy taak kwyt in ingenieurswese, argitektuur, beeldhouwerk en skilderkuns. ʼn Mens kan jou nouliks indink hoe enige persoon in vandag se wêreld die tyd kan hê om in al hierdie rigtings tot die hoogste vlak uit te styg.

ʼn Verdere nadeel van hedendaagse spesialisasie is dat daar juis as gevolg van die enorme toewyding van tyd en inspanning wat deur sodanige uitnemendheid vereis word, ʼn groter kans bestaan vir wesenlike tekortkominge in vele ander fasette van die lewe. Die karikatuur van die verstrooide, emosioneel afgeslote professor is in ʼn groot mate ʼn manifestasie van hierdie tekortkoming.

En so word ons dan deur hierdie neiging tot spesialisasie genoop om ʼn verskeidenheid aspekte van ons hedendaagse lewe uit te kontrakteer: die skoonmaak van ons huise, die in stand houding van ons tuine, die opvoeding van ons kinders, die voorbereiding van ons etes, ons veiligheid, welstand ensovoorts. Hierdie kontrakteurs kom uit die privaatsektor, maar ook, veral vir dinge soos veiligheid en welstand, uit die regering.

Verantwoordelikheid is mag vanuit die self. Hoe meer verantwoordelikheid die individu uitkontrakteer, hoe meer mag vanuit homself staan hy af. In beginsel hoef dit nie ʼn probleem te wees nie, maar, soos alle dinge, word dit by oormaat ongewens en selfs gevaarlik.

Ek het tydens die vele jare wat ek in die buiteland gewerk het, gemerk hoe die burgery se druk op die regerings van Europa om vir hulle meer, omvattender welsyn te bewerkstellig, stelselmatig al hoe meer reëls en regulasies tot gevolg gehad het. En ja, reëls en regulasies is noodsaaklik vir ʼn samelewing, want dit fasiliteer die samelewendheid van mense deur die wispelturigheid en uiteenlopendheid van individue te tem deur middel van toegepaste konvensies.

Vir die wins in orde en voorspelbaarheid is daar egter met elke reël en regulasie die teenprestasie van inperking van denke en handelinge, wat uiteindelik ʼn kreatiewe inperking konstateer. Beide is noodsaaklik, die reëlmatige sowel as die kreatiewe, en die balans tussen die twee is die balans tussen onderdrukking en anargie waarvan ʼn oormatige neiging na ieder kant distopies uitspeel.

Maar die visier van hierdie skrywe rig ek eintlik op ʼn baie spesifieke vorm van uitkontraktering, naamlik die uitkontraktering van skuld. Nie finansiële skuld nie, maar emosionele skuld. Toe ek nog in die stad gewoon het, het ek gereeld die verskyning waargeneem veral onder juis die individue wat makliker skuld kan verkry en dienste kan uitkontrakteer, naamlik die relatief hoog opgeleide, hoër middelklas burgery.

ʼn Meer bekende voorbeeld is waar ouers vanweë hul professionele spesialisasie die emosionele skuld, voortspruitend uit ʼn gebrek aan teenwoordigheid in hulle kinders se lewens, uitkontrakteer aan vermaaklikheidsdienste, versorgers of die vervaardigers van speelgoed en lekkernye. In hierdie voorbeeld is dit duidelik dat die langtermynseëninge van ouerlike teenwoordigheid, toewyding en aandag, verpand word vir die kortstondige bevrediging van afleidende dopamien-dosisse. ʼn Verdere, langtermynverskil tussen die twee fenomene is dat die een bevrediging en versekering broei, terwyl die ander verslawing en onsekerheid kweek.

ʼn Minder bekende, heimliker voorbeeld, is waar mense inkoop op die propaganda-aanslag waarvolgens die hardverworwe verdienste van hul voorouers, wat uiteindelik hul erfenis geword het en soms ook hul eie swaarverworwe lewenswinste, onverdiend en deur middel van sistemiese bevoorregting in hulle skote geval het. Die skuldgevoelens wat spruit uit die inkoop op hierdie propagandatrant, kan vir sulke individue dikwels bemiddel word deur die aankoop van boetedoenings wat toevallig verskaf word deur dieselfde kanale wat die aanvanklike aanslag van stapel gestuur het.

Hierdie boetedoenings vra dat die intekenare hulle tradisies ontsê, hulle erfenis versmaai, hulle so luidkeels as moontlik uitspreek teen hulle voorouers se waardes en die pogings van hulle gemeenskappe om hul tradisies, erfenis en voorouers te eer en in stand te hou, sonder gesprekvoering of debat af te maak as verkrampte ekstremisme.

Die bonus van hierdie boetedoenings is dat dit geen wesenlike belegging buiten napratery en smadelikheid verg nie. Die langtermynnadeel is egter dat dit die torings van hul huidige werksaamhede laat ineenstort bo-op die vergruisde fondasies, ʼn proses wat egter so lank duur om te vergestalt dat die skade daarvan na alle waarskynlikheid eers in die volgende geslagte beleef sal word.

Want skuld, in die materiële wêreld sowel as die emosionele, is presies dit: ʼn onbetaalde, uitstaande som vir dienste en goedere wat reeds ontvang is, wat tot in die boedel verreken word en teen presies dieselfde insette terugbetaal moet word. En met rente, natuurlik.

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Podsendings, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.