Fiksheidsentrum wil hele gesin saam laat oefen

Kick-fit-klasse by die Hybrid High Performance-sentrum. (Foto: Pieter von Wielligh / Human Cave Studios / Hybrid High Performance Centre)

Die hele gesin kan nou saam aan hulle fiksheidsvlakke kom werk by die Hybrid High Performance-sentrum in Pretoria.

Hierdie unieke fiksheidsentrum wat in September vanjaar sy deure by die Weiveld-kuierplek in die Bronberg-gebied geopen het, bied oefeninge vir die hele gesin, onder andere skopboks, selfverdedigingsklasse en persoonlike afrigting.

“Ons het net besef ons sal ʼn sentrum moet skep waar die hele gesin kan werk aan hulle gesondheid en saam fiks word. Die oefeninge wat ons ook afrig, is ʼn wonderlike uitlaatklep vir mense wat voel hulle spandeer nou meer tyd vasgekluister agter ʼn skerm en skolesport wat dramaties in die pandemie afgeskaal is,” verduidelik Adriaan Heijns, bestuurder van die sentrum.

Die jongste lid wat by die sentrum oefen, is tans net vyf jaar oud en die afrigters het al klasse vir 70-jariges aangebied.

Volgens SD Heijns, hoofafrigter by die sentrum, is die Kick-fit-klasse, wat ʼn kombinasie is van skopbokstegnieke en liggaamsgewigoefeninge is, veral gewild. SD sê die soort oefeninge help nie net met gewigsverlies nie, maar dit is sommer ook goeie selfverdedigingstegniek.

Adriaan en SD meen ook die oefeninge help mense om hulle longkapasiteit te verbeter omdat hulle asemhalingstegnieke vir jou leer terwyl jy oefen.

“Ons fokus daarop om mense stelselmatig deur die proses van fiksheid te neem – dit is ʼn marathon en nie naelloop nie,” sê SD, wat self ʼn bekroonde skopbokskampioen is.

“Hier gaan ons jou ook help met jou dieet omdat dit jou fiksheidsreis ondersteun en jy behoorlike energievlakke benodig om te kan oefen.”

En hoe gemaak met die verskriklike styfheid na ʼn intense oefensessie? Volgens Adriaan is die enigste raad om weer te kom oefen. “Die liggaam is ʼn masjien en dit is gemaak om te werk. Die grootste fout wat jy kan maak, is om net te gaan lê en dit is ook ʼn fout wat veral ouer mense maak wat dan al meer sit en minder oefen.

“Ons wil egter die ergste styfheid verhoed en daarom is strekoefeninge ook ʼn belangrike komponent van ons oefenprogram.”

  • Adriaan en SD Heijns het onlangs by Maroela Media kom kuier en meer vertel oor die Hybrid High Performance-sentrum. Die fiksheidsentrum is ontwikkel om die hele gesin se fiksheidsvlakke ʼn hupstoot te gee. Die manne het gesels oor fiksheid en raad gegee op vrae oor oefeninge wat hulle gereeld hoor. Luister na die volledige gesprek bo-aan hierdie berig.
  • Besoek ook die webwerf Hybrid-fitness.co.za of Hybrid High Performance se Facebook-blad vir meer inligting oor dié fiksheidsentrum. Die sentrum bied ook ʼn Hybrid‑vegaand op 13 November aan, waar van die skopboksers mekaar uitdaag. Volg die sentrum se Facebook-blad vir meer inligting oor die geleentheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.