In 3 minute: Bloedneus vir toerismefonds; stakings in staatsdiens dreig

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, die minister van toerisme (Foto verskaf deur Solidariteit)

In die jongste aflewering van 3 Minute, 3 Sake bespreek Gerhard van Onselen van Sakeliga die toerismefonds se “bloedneus in die hof”, hy gee aandag aan makliker reëls vir “eie” kragopwekking wat voorgestel is en gooi laastens ʼn blik op die verloop van die huidige staatsdiensloononderhandelinge.

Van Onselen het verlede week gesels oor die toerisme-ekwiteitsfonds. Dit is die omstrede fonds wat hulp aan die bedryf ná die inperking se skade wil koppel aan die rassevereistes van swart ekonomiese bemagtiging met 51% of meer swart eienaarskapvereistes.

Solidariteit en AfriForum het daarin geslaag om ʼn dringende interdik teen die fonds te bekom. Die fonds mag nou geen geld uitbetaal nie, tot tyd en wyl die howe oor die wettigheid daarvan beslis het.

Dr. Dirk Hermann van Solidariteit het die interdik verwelkom. Hy beskou dit volgens berigte as ʼn bloedneus in die hof vir die regering.

Die regsargumente sal ook in die komende tyd aangehoor moet word. Dit sal egter nie verbasend wees indien die saak ook uiteindelik na die appèlhof geneem word nie. Die saak raak beslis aan ʼn ideologiese brandpunt en die ANC is reeds voorheen die stryd hieroor aangesê.

Dan goeie nuus: Die departement van energie en minerale bronne het oor die langnaweek nuwe voorgestelde reëls vir die eie opwekking van krag in die Staatskoerant gepubliseer en dit is tans oop vir kommentaar.

Volgens hierdie reëls sal die perk vir ingebedde opwekking verhoog word van 1 MW tot 10 MW. Onder dié perk sal sulke projekte nie lisensiëring van die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) benodig nie.

Projekte sal wel onderhewig wees aan voorwaardes en registrasie by Nersa sal steeds moet plaasvind in sekere gevalle.

Die graderingagentskap Fitch het egter gewaarsku dat beurtkrag in die voorsienbare toekoms sal voortduur, ongeag die kragaankoopplanne van die regering. Die voorgestelde regulasies, meen Businesstech, sal individue en sakeondernemings groter vryheid bied om hul eie krag op te wek en dit is ʼn goeie ding.

Selfs die tesourie beskou energiebeperkinge as ʼn demper op groei – ingebedde opwekking is onlangs ook deur die tesourie as “die enigste uitweg” genoem.

Sakeliga verwelkom stappe na groter kragonafhanklikheid, en hopelik sal Nersa-registrasie nie met veel rompslomp gepaard gaan nie.

Laastens, die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) het weer benadruk hoe belangrik dit is dat die regering sy betaalstaat onder beheer moet bring.

Die kruks van die saak is die loonrekening. Gemeet aan die uitlatings van sommige vakbonde sal taai onderhandeling en groot eise egter aan die orde van die dag bly.

Luidens die media eis Nehawu, ʼn vakbond van Cosatu, reeds die minister van die staatsdiens, Senzo Mchunu, se bedanking.

Volgens die buro maak die vergoeding van staatsamptenare effe minder as ʼn derde (30%) van die regering se gekonsolideerde besteding uit.

Sou die regering nie sy uitgawes kan beteuel nie, sal dit die planne vir fiskale konsolidasie in die wiele ry en verdere laste op die belastingbetaler plaas.

Of ʼn 0%-styging in staatsdiensvergoeding werklik deurgevoer sal kan word, is egter twyfelagtig.

Vakbonde in die openbare sektor, soos die Vereniging vir Staatsdiensamptenare (VSA) en Nehawu is tans ook besig om vir massa-aksie voor te berei. Dit volg nadat onderhandelinge klaarblyklik ʼn dooiepunt bereik het.

Heelwat moet nog gebeur voor ʼn staking kan plaasvind, maar dinge lyk so ver onstuimig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Aikie ·

Daar moet op al die vakunies ‘n Margaret Thatcher getrek word en hulle onwettig verklaar. Ons land is in’ n gemors en in plaas van dat die mense hande vat en help, wil hulle staak en die land verder afbreek. Die vakunies het die ANC by die korthare en hulle trek vir al wat hulke werd is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.