Jan Taks span sy net wyer, minister bekommerd oor e-tolgeld en beginsels

(Argieffoto: Maroela Media)

Gerhard van Onselen, senior ontleder van Sakeliga, kyk in die jongste 3 Minute, 3 Sake na Jan Taks wat kleiner ondernemings se sake met die regering fyner wil bekyk. Hy gesels oor die beginsel van “gebruikers betaal” en Mauritius se aanloklike aanbod vir verblyfpermitte.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gaan nou sekere kleiner sakeondernemings onder die vergrootglas plaas, veral waar daar inkomste is wat volgens Jan Taks se mening onderverklaar word.

Dit is dalk nog ʼn rede om skepties te wees oor sake met die regering. Sulke ondersoeke sal glo slegs gebeur waar daar goeie rede is, maar selektiewe uitsondering was nog altyd ʼn gevaar by owerhede se vergrype.

Die risiko’s vir sakebedrywighede met die regering neem toe. Nie net sukkel ondernemings om hulle betalings by die regering te ontvang nie, maar verskerpte vereistes vir swart ekonomiese bemagtiging word op sulke ondernemings afgedwing.

Sakeliga se raad aan lede met groot blootstelling aan onderhandelings met die regering is die oorweging van sinvolle diversifisering – weg van sake met die staat. Veral indien die net van skadelike ideologie stywer getrek word.

Die gedagte vanuit sommige regeringskringe is miskien dat sakebetrekkinge met die regering ʼn voorreg is. Die werklikheid is egter dat dienste en produkte wat sakelui lewer vir burgers van waarde is.

Dit is daardie waarde wat burgers, veral armes, moet dien. Daardie feit moet nooit vergeet word nie.

Volgende: Enoch Godongwana, minister van finansies, is bekommerd oor die afskryf van e-tolgeld.

Godongwana meen dit bedreig die beginsel van die “gebruikers betaal”, waaraan die ANC kwansuis toegewyd is.

Snaaks dat klem daarop gelê word. In Suid-Afrika se belastingstelsel word heelwat mense juis tog gesubsidieer deur ʼn klein aantal belastingbetalers wat die meeste betaal. Dienste, soos welsyn en ander “sosiale infrastruktuur”, word deur talle mense gebruik wat nie daarvoor betaal nie.

Dan wys Sakeliga ook daarop dat alle motoriste reeds brandstofheffings betaal. Dit is dan eerder ʼn geval van sekere gebruikers moet al hoe meer betaal.

Die probleem is eintlik dat die regering sekere dienste monopoliseer. Ware markmededinging word weerhou wat ondoeltreffendheid aanspoor. In markte betaal gebruikers, ja, maar hulle kry ook ʼn ware keuse.

Diegene wat betaal word, is dié wat dienste van waarde lewer en ʼn “marktoets” oorleef.

Wat is dan redelik wanneer monopolistiese agentskappe soos Sanral of die SAUK (SABC) praat van “gebruikers betaal”? Kom dit nie maar net neer op nog belasting in ʼn ander baadjie nie?

Gepraat van gunstiger belastingregsgebiede, kenners op die gebied van emigrasie wys daarop dat Mauritius die vereistes vir emigrasie onlangs verder vergemaklik het.

Luidens emigrasie-agente se meningstuk op Moneyweb is die minimum vereistes vir ʼn verblyfpermit van $100 000 (R1 511 180) tot $50 000 (R755 590) verminder. Permanente verblyfreg kan ook verkry word vir ʼn belegging van $375 000 (R5,67 miljoen), nie meer $500 000 (R7,56 miljoen) nie.

Die tydperk waarvoor byvoorbeeld aftreepermitte geld, is ook verder verleng. Die kenners wys ook daarop dat permitte, vir sogenaamde digitale nomades, nou ook meer verkrygbaar is.

Die proses van emigrasie is nie eenvoudig nie en die SAID span sy net stywer, maar die werklikheid is egter dat Suid-Afrika teen ander regsgebiede meeding. Wat hartseer is, is dat swak beleid juis die mees mobiele burgers onder ons, met kapitaal en vaardighede, in die arms van ander regsgebiede injaag.

Beter beleid is natuurlik die beste oplossing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

SomeOne ·

wie se reël is dit dat pakistanse en ander buitelanders wat besighede het, dat hulle geen belasting betaal nie, said, waarom kyk julle nie daarin nie

Jack ·

As die beginsel van gebruiker betaal moet geld, moet die quid pro quo beginsel ook geld: Die ontvanger moet lewer/presteer. Ek kry geen afslag as die staat onderpresteer nie.

Hardekwas ·

Betaal taxis belasting? Betaal tenderpreneurs belasting? Betaal shebeens belasting? Betaal onwettige sigaret, drank en dwelm smokkelaars belasting? Ek glo nie.

Winnie ·

SARS moet die net wyer span dat almal belasting betaal soos taxis en die buitelanders wat teer op ons belastingbetalers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.