Kerkstraatbom: 40 jaar later pleeg die ANC steeds terreur

(Foto: Argief)

Op 20 Mei 1983, vandag 40 jaar gelede, is Pretoria geruk deur ʼn terreuraanval soos nog nooit tevore nie. ʼn Motorbom met 40 kg plofstof het 19 mense dood gelaat en 217 beseer. Die teiken was die Suid-Afrikaanse Lugmag, maar omdat die bom teen spitstyd afgegaan het, is verskeie burgerlikes ook gedood en beseer.

Dit sou later blyk dat die Kerkstraatbom ʼn aanval was wat deur uMkhonto we Sizwe, die militêre vleuel van die ANC, uitgevoer is. Die bom het tien minute vroeër afgegaan as beplan en die terroriste verantwoordelik vir die aanval, Freddie Shangwe en Ezekial Maseko, het ook omgekom.

Die afgelope tyd werk ek aan ʼn verslag vir Pretoria FM oor die 40ste herdenking van die tragiese gebeure en gesels met verskeie mense wat daardie dag op die toneel was. Een van hulle is Danie Swanevelder wat op 20 Mei daardie jaar as ʼn skolier in ʼn nabygeleë hospitaal was vir ʼn mediese prosedure. Hy onthou hoe die hospitaal skielik in totale chaos gedompel is en die hulpelose histeriese krete van mense op soek na hulle geliefdes. Dit is die woorde “waar is my man?” wat hom spesifiek bybly.

Johan van Zyl was aan die einde van sy twee jaar diensplig by Militêre Intelligensie toe hy na die toneel gestuur is. Een herinnering wat by hom spook, is dié van ʼn lamppaal waarteen daar ʼn kabel aangebring is. Tussen die lamppaal en die kabel was ʼn skoen vasgepen wat deur die soldate afgehaal is. Groot was die skok toe ʼn stuk van ʼn voet steeds in die skoen aangetref is.

ʼn Gesprek van die afgelope week wat steeds in my gedagtes maal, was met Johan du Toit-Boning. Johan was in daardie stadium ʼn jong man by die Polisiekollege in Pretoria. ʼn Grutoneel het op hom gewag. Hy het my vertel van die krag waarmee die glasstukke deur die lug getrek het. So dat dit die bome in die omgewing aan skerwe geskiet het dat dit net-net staande gebly het.

ʼn Mens kan self dink wat dit aan mense in die direkte omtrek van die ontploffing gedoen het. Johan het in die tyd daarna op verskeie ander grutonele gewerk en moes selfs by geleentheid ʼn persoon van ʼn “necklacing” bevry. Vir diegene wat nie weet nie – dit is wanneer ʼn buiteband om ʼn persoon se nek geplaas en aan die brand gesteek word. Die lafhartigste van al die ANC-taktieke bly egter steeds, volgens Johan, ʼn bomaanval.

Met ʼn bomaanval kan jy nooit verseker dat dit slegs militêre teikens is wat daardeur geraak word nie. Jy kan nie verseker dat onskuldige mense, dat onskuldige kinders, nie ook deur daardie aanval gedood word nie. Dit herinner nogal sterk aan die ANC se strategie vandag.

Dié vorm van terreur word baie sistematies beplan. Daar is die binnekring, die selgroep van die organisasie, die kaderontplooiingskomitee, wat besluit waar die beste kaders gesetel moet word. Nie die beste persone vir die werk nie, maar die beste persone vir die terreurgroep. Die uitkoms is dat die breër publiek ontneem word van die beste moontlike mense in die regte posisies. Ten spyte van hoe dit kragvoorsiening, dienslewering of die basiese funksionering van die land beïnvloed.

Ek dink weer aan Johan wat verwys na die bome in die omtrek wat deur die glasskerwe van die ontploffing verwoes is. Die skrapnel lyk anders, maar die skade steeds groot. Dit trek deur die vensters van familieondernemings wat aan skerwe gelaat word, deur die drome van mense wat op ʼn beter toekoms gehoop het, deur die skole wat slegs deur die ouers staande gehou word. Die glasskerwe trek die kwesbaarstes van die samelewing plat. Dit laat kinders sonder handboeke, sonder ʼn matriek en soms leweloos op die bodem van ʼn puttoilet.

Lank na ons gesprek bly Johan se aanhaling dat die lafhartigste strategie van al die ANC se aanvalstrategieë bomaanvalle was my steeds by. Want, het Johan verduidelik, jy kan nooit voorspel wie die slagoffers gaan wees nie. Wie deur die skrapnel platgetrek word nie. So is dit ook vandag. Die ANC se maatskaplike en ekonomiese terreur is dalk op een deel van die bevolking gemik, ʼn bom in die vorm van die wet op sogenaamde “billike indiensneming”, maar wanneer die “glasskerwe” trek, tref dit baie breër as hul aanvanklike teiken.

Politieke ontleders het al dikwels genoem dat die ANC sukkel om die oorgang van ʼn bevrydingsbeweging na ʼn regerende party te maak. Ek dink daardie afleiding is verkeerd. Die ANC kon tot op hede nie daarin slaag om die oorgang van ʼn terreurorganisasie na ʼn regering te maak nie. En die glasskerwe van hulle terreur laat vele lyke langs die pad.

Luister ook hier na Pretoria FM se verslag oor die dag:

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: James Kemp

James is die hoofredakteur van Klankkoerant, ʼn nuus en aktualiteitsprogram wat ook op Pretoria FM uitgesaai word.

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.