Kommentaar op mini-begroting, staatsbeheerde instellings se verliese

Enoch Godongwana, minister van finansies (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

In vandeesweek se 3 Minute, 3 Sake lewer Sakeliga kommentaar op die mini-begroting. Daar word ook gekyk na nuwe insigte oor die arbeidsmark ná die pandemie en verliese by staatsbeheerde ondernemings.

Russell Lamberti, hoofekonoom verbonde aan Sakeliga, reken die begroting wys op die noodsaak vir staatsbestandheid.

Die regering, sê Lamberti, het hom daartoe verbind om in die afsienbare toekoms elke jaar R350 tot R400 miljard se nuwe skuld aan te gaan. Dit is sowat 6% van bruto binnelandse produk (BBP) en beteken omtrent R2 000 se nuwe skuld per huishouding per jaar.

Suid-Afrika se enorme nasionale skuld moet beskou word as ʼn morele mislukking aan die kant van die regering, asook ʼn vername strukturele risiko vir maatskaplike stabiliteit en die kommersiële orde. Dit laat die bankstelsel meer vatbaar vir groot plaaslike of buitelandse ekonomiese skokke.

Daarom beklemtoon Sakeliga die noodsaak van dringende staatsbegrotingsurplusse en die spoedige afbetaling van die nasionale skuld.

Hoe word ondernemings staatsbestand? Lamberti meen ʼn verminderde blootstelling aan regeringskontrakte, toepaslike valutaverskansing, verhoogde belastingdoeltreffendheid en verbeterde blootstelling aan buitelandse markte- en inkomstestrome is nodig.

Daarby kan handelsnetwerke ook gevestig word wat daarop gemik is om risiko’s op soortgelyke wyses te verminder. Daarin gaan Sakeliga ʼn rol speel.

Kenners op die gebied van arbeid is bekommerd oor ʼn vlaag van bedankings in die arbeidsmark, luidens Businesstech.

In ʼn meningstuk wys Emma Durkin by Altron Karabina dat pandemie-uitbranding en ander faktore ʼn rol speel om die arbeidsmark te verander.

Werknemers is klaarblyklik nou meer bereid om rond te kyk vir ander geleenthede. Virtuele werk bied nou nuwe opsies en mense kan in Suid-Afrika vir oorsese werkgewers werk. Daarmee is besoldiging in ander geldeenhede soos dollar of ponde natuurlik baie aantreklik.

Werkgewers moet oorweging gee aan hierdie veranderinge in die arbeidsomgewing, veral in spesialisgebiede. Daarby, reken Sakeliga, is daar unieke Suid-Afrikaanse verwante afstootfaktore – soos hoë misdaad en swak beleid wat ook ʼn rol speel.

Suid-Afrika se uitdagings verg sterk netwerke en samewerking om die sakesektor te versterk.

Moneyweb doen verslag oor die finansiële state van 26 semi-staatsbeheerde ondernemings wat Eskom, PetroSA en Denel insluit. Van die 26 ondernemings het sowat die helfte verliese getoon.

Uit hierdie ondernemings wat state uitreik, presteer Eskom, Petro SA, Denel en SAUK besonder swak. Eskom se verliese word aan hoë skulddienskoste toegeskryf en is meer as R20 miljard vir 2020 finansiële jaar.

Dinge sou nog erger gelyk het indien die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) ingesluit was. SAL publiseer nie tans state nie, weens sakeredding. Nog erger, volgens Moneyweb is heelwat van hierdie instellings, soos Petro SA, gevaarlik naby aan finansiële ineenstorting.

Dan kan ons ook wonder wat dit sê wanneer ʼn instellings soos ACSA (lughawemaatskappy) en Randwater aansienlike winste toon. ACSA en Randwater het effektief monopolieë op sekere dienste wat opsies vir markmededingers uithou.

ʼn Mens wonder of verbruikers nie moontlik minder sou kon betaal met ware markmededinging nie. Derhalwe is sulke instellings wat wins toon ook nie noodwendig ʼn troos vir die publiek nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Andre

Die dag wat hy moet kom verduidelik is hy siek, tiepies ANC. Hulle kan geen verantwoording of verduideliking gee vir hulle gemors nie, kruip net altyd weg agter stories.