Kommer oor openbare skuld; skerper aanslag teen ekonomiese vryhede

ekonomie-finansies

(Foto: pixabay)

In vandeesweek se 3 Minute, 3 Sake gesels Gerhard van Onselen van Sakeliga oor die Reserwebank se kommer oor openbare skuld en finansiële stabiliteit.

Die soeklig word ook geplaas op die swak prestasie van plaaslike hawens en vrae gevra oor die regering se beleidstellings wat lyk of dit tot ʼn skerper aanslag teen ekonomiese vryhede in Suid-Afrika kan lei.

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) is bekommerd oor openbare skuld en finansiële stabiliteit. Die bank waarsku dat hoë vlakke van openbare skuld ʼn materiële risiko vir finansiële stabiliteit kan inhou.

Inperkings weens die pandemie en swakker belastinginkomste plaas nog meer druk op die skuldvlakke en stabiliteit.

Sedertdien is nuwe vlak 2-inperkings aangekondig, maar dit is duidelik dat ʼn algehele inperking, soos vroeg in 2020, nie bekostig kan word nie, meen die bank.

Verder sê die SARB die mate waarin finansiële stabiliteit geraak word, sal afhang van die graad van toekomstige inperkings.

Sakeliga meen dit bevestig net weereens dat beleidsbesluite oor die bestuur van Covid-19 om verskeie redes uiters versigtig opgeweeg moet word.

Maroela Media het onlangs berig dat Suid-Afrika se hawens as van die swakste ter wêreld gelys word.

Die Durbanse hawe is byvoorbeeld onlangs die derde slegste posisie op ʼn lys van 351 vraghanteringsfasiliteite toegeken. Dit is nou op die Wêreldbank se Container Port Performance Index van 2021.

Die agteruitgang van Transnet se spoorvragdienste is ʼn groot rede vir die lae telling, meen Malcolm Hartwell, maritieme vervoerkenner van Norten Rose Fullbright.

 Dit is duidelik dat Suid-Afrika baie potensiaal het vir handel en toegang tot Afrika. ʼn Hawe soos Durban s’n is inderdaad goed geplaas. Dit is egter nie net ʼn vraag oor ligging nie, maar ook oor die goeie of slegte aanwending van kapitaal.

In vrye markte word goeie aanwending gewoonlik aangespoor, maar klaarblyklik nie so nie in die openbare sektor van Suid-Afrika. Privatisering, meen Sakeliga, sal help om ondoeltreffende bates in swak openbare bestuur beter te benut.

Laastens neem ons ʼn meta-kykie na skadelike beleid in Suid-Afrika. Die werklikheid is dat die beleid wat regerings volg, saak maak.

Sakeliga meen ons sien verskeie voorbeelde van ʼn skerper aanslag teen ekonomiese vryhede in Suid-Afrika.

Swart ekonomiese bemagtiging was aanvanklik vrywillig, verduidelik dr. Anthea Jeffery, van die Sentrum van Risiko-analise (CRA), maar die vrywillige karakter daarvan is met toenemende owerheidsdwang vervang, en dit gebeur orals in openbare beleid.

Ons sien nou hoe die Transformasieraad vir die Finansiële bedryf (FTSC) selfs klein ondernemings op die swartlys wil plaas oor nie-deelname aan swart ekonomiese bemagtiging. Die beleid word nou afgedwing op ondernemings wat glad nie met die regering handeldryf nie.

Swart ekonomiese bemagtiging word nou ook gekoppel aan getrouheidsfonds-sertifikate vir eiendomspraktisyns; gaan kyk na die Wet op Eiendomspraktisyns.

Dan is daar ook verskeie pogings tot groter sentralisering en burokratisering deur middel van oordadige reguleerders. Die transportreguleerder, in vooruitsig, is een voorbeeld, maar daar is ook ander.

Instellings wat vir sakevryheid en burgerlike vryhede beding, het hulle hande vol. Dink net aan die voorstel oor vuurwapens en selfverdediging, grondonteiening en die voorstelle vir invoerbeperkinge en alewige hoër belasting.

In geheel weerspieël Suid-Afrika die uitwerking van sy beleid, dit is ʼn gegewe, maar hoe lyk die sukses daarvan? Vir wie werk beleid werklik? Vir die politieke sektor of die meer as 11 miljoen werkloses volgens die uitgebreide definisie? Sakeliga meen daar moet diep nagedink word oor hierdie soort vrae.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.