Kreatiwiteit, innovasie en denkvoorkeure in ’n pandemie

Dr. Kobus Neethling (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Dr. Kobus Neethling, Suid-Afrika se eie kreatiwiteitskenner, meen Suid-Afrikaners het sedert die instelling van afsondering hul kreatiewe denkspiere gerek en veel meer innoverend gedink as wat hulle hulself krediet voor gee.

“As ek aan die begin van hierdie jaar vir mense gevra het of hulle al ooit ʼn paradigmaskuif gemaak het, sou die meeste van hulle dadelik nee gesê het, maar dit is presies wat almal nou gedoen het.

“Die Covid-19-pandemie het ons reeds gedwing om meer kreatief te wees. Jy het jou brein verplig om anders te dink en sake anders te doen op ʼn heeltemal ander wyse as wat ons twee maande gelede nie eers kon droom van nie,” het Neethling gesê, wat ook die president van die Suid-Afrikaanse Kreatiwiteitstigting is.

Hy meen ʼn mens kan nie deesdae voortgaan op dieselfde wyse as wat jy voorheen gedoen het nie. Die nuwe normaal waarna almal verwys, vereis van jou om vir ’n slag om jou rond te kyk en te besluit hoe jy dinge kan verander. “Vra jouself veral hoe jy sake vinniger, anders en meer skeppend kan aanpak.”

Neethling maan egter dat ʼn mens versigtig moet wees om nie in ʼn gemoedstoestand van vrees en pessimisme te verval nie.

“Vrees is die vyand van kreatiwiteit en dit is moeilik om vanuit hierdie toestand kreatief en innoverend te dink.

“Wees nou veral versigtig om ander mense te blameer vir jou situasie. Dit maak jou ʼn gevange van jou omstandighede. As jy self verantwoordelikheid neem vir jou omstandighede gaan jy ʼn vryheid in jou gees ervaar en jou kreatiwiteit gaan outomaties ook sommer ʼn hupstoot kry.

“Onthou jy kan iets anders as pessimisme kies. Elke keer as jy ʼn negatiewe gedagte het oor jou situasie, moet jy die teenoorgestelde gedagte vir jouself in ʼn dagboek neerskryf om dit te verdryf. Dit is nie ʼn lekker of maklike proses nie, maar dit is die beginpunt van waar die Bybel sê ons moet onsself vernuwe deur ons eie denke te verander.”

Neethling het gesê dit help jou ook om jouself te anker.

“Mense moet besef hierdie is nie die res van hul lewe nie. Die pandemie is net ʼn oomblik daarvan. Moenie die pandemie nou jou lewe maak en jou denke daaroor jou laat oorweldig en aftrek in ʼn donkerte nie.”

Hy meen dit is juis kreatief om te sê” “Hierdie is ’n oomblik, ek hanteer dit soos ʼn oomblik om dan van daardie punt af aan te beweeg.”

Neethling het bygevoeg dat kreatiwiteit alleen jou egter nie deur die lewe sal trek nie. “Kreatiwiteit moet gewoonlik aan ’n ander karaktereienskap gekoppel word – een wat nou veral belangrik is vir die tydstip waarin ons nou verkeer, is moed.”

Hy meen moed is, net soos kreatiwiteit, iets wat jy kan ontwikkel. Neethling voeg by dat navorsing al telkemale bewys het dat alle kinders met hope kreatiwiteit gebore word.

“Dit gaan verlore soos ons ouer word, maar gelukkig is dit nooit weg nie, ons moet dit net weer vir onsself gaan opeis.”

Neethling is ook die hoof van die Kobus Neethling Instituut wat wêreldkenners op die gebied van kreatiwiteit en heelbreininstrumente is. Neethling staan bekend vir sy 8 dimensie-breininstrument wat hy in die negentigerjare ontwikkel het om te bepaal waar jou sterkpunte in kreatiwiteit lê – dus om te bepaal wat jou vorm van kreatiwiteit is. Op grond van hierdie model kan kreatiwiteit ook op enige ouderdom aangeleer of verbeter word, sê Neethling.

Sy span het ʼn interessante analise gedeel van hoe die verskillende denkvoorkeure in ʼn breinprofiel na die Covid-19-pandemie kyk.

ʼn Kykie na die groter prentjie en toekoms

Strateë en verbeeldingrykes (imagineers) beskou die pandemie vanuit die hoek van ʼn groter prentjie en gebruik hul verbeelding om die toekoms te dink. Hulle vra vrae soos:

  • Wat gaan hiervan kom?
  • Is daar enige geleenthede in die pandemie versteek?
  • Ek wonder wat gebeur met die res van die wêreld?

Hierdie is die verbeeldingryke gedeelte van die brein en ʼn mens kan verwag dat daar visualisering en fantasie hier sal plaasvind. Die gevare vir mense wat vanuit hierdie kwadrant van hul brein dink en in isolasie werk, is dat daar gespekuleer word sonder enige feite.

“Dit klink soos die potensiaal om vals nuus te ontwikkel, en dit is waarom ons voorstanders is van ʼn heelbreinbenadering is. Kom ons kyk hoe die ander kwadrante van ʼn breinprofiel mekaar aanvul.”

Die effek van die chaos op mense

Hierdie kwadrant in ʼn breinprofiel se belangrikste fokus is die mense en hulle sal aangetrokke voel tot die tragedies en die getuienisse. En die koste wat die pandemie vir mense inhou, lê voorop die gedagtes van mense wat uit hierdie kwadrant werk.

Hulle vra vrae soos:

  • Hoe beïnvloed die pandemie my gesin?
  • Wanneer sal ek weer my mense kan sien?
  • Wat gaan van my grootouers word?

Dit is natuurlik nie die enigste kwadrant wat bekommerd is of omgee vir mense nie, want liefde is ʼn allesomvattende konsep, maar hierdie denkvoorkeur stel mense eerste.

Die risiko’s van hierdie kwadrant tydens die pandemie is dat hulle konstant sit en tob oor ander mense en intense eensaamheid in hierdie tyd kan ervaar. Die kern van hierdie kwadrant is kontak met ander mense (groot groepe mense of een-tot-een) en isolasie sal dit natuurlik beïnvloed. Mense wat vanuit hierdie kwadrant dink en werk, kry gewoonlik hul motivering van die mense rondom hulle. Daarom sal dit vir hulle nodig wees om kreatiewe maniere te kry om met ander te skakel en die motivering aan te wakker.

Prosesse en tradisie altyd eerste!

Waarom hou hierdie mense nie by die nuwe regulasies nie? Weet hulle dan nie dat hulle maskers moet dra nie?

Hierdie is die soort vrae wat die denkers van die breinprofiele van organiseerders en preserveerders sal vra. Hulle is ook die mense wat wette en tradisies in standhou. Hulle respekteer gesag en vind vertroosting in goed georganiseerde prosesse.

Die risiko’s hier is dat hierdie mense ʼn wrok mag koester teenoor ander mense wat volgens hulle nie hul deel doen om die pandemie bekamp nie.

“Mense met dié breinprofiele moet besef dat daar egter altyd mense sal wees wat dit wat hulle duidelik gevra is om nie te doen nie, sal doen, maar die punt is dat jy vir jouself moet sorg en as genoeg mense dit doen, sal die kurwe van nuwe infeksies afplat.”

Wat sê die statistiek?

Hierdie is die mense met ʼn wetenskaplike ingesteldheid en hulle is die mense wat gereeld die statistieke en video met netjiese infografiese inligting aanstuur wat verduidelik wat die afplatting van die kurwe beteken of hoe die virus oorgedra word.

Hulle dink getalle en feite en vra vrae soos:

  • Hoe lyk die infeksiekurwe van my land in vergelyking met dié van ander lande?
  • Hoeveel sekondes het die video gesê neem dit presies vir seep om die virus te dood?

Feite is goed, maar as dit aanleiding gee tot pedantiese gedrag kan dit selfs genadeloos word.

“Ons moet altyd die groter prentjie in gedagte hou en bewus bly van die menslike faktor. Dink maar aan die volgende gevaarlike gedagte: ‘Miskien is die virus goed vir die wêreld; ek bedoel, dat ons so oorbevolk is dat hierdie miskien ʼn manier is waarop die wêreld weer ʼn balans kan vind’.

“As jy mooi hieroor nadink is dit werklik ʼn wrede manier om oor die virus na te dink en ʼn vorm van fascisme wat mense se dood regverdig. As ons van empatie en die mense vergeet wat ons nie kan sien nie, kan feite genadeloos word.”

Sit alles bymekaar

Die heelbreinbenadering is noodsaaklik vir ons geestesgesondheid en is ʼn voordeel tot die mensbevolking. Ons moet die groter prentjie in gedagte hou. Daarmee in gedagte, kan jy oorweeg om ʼn liefdadigheid- of welsynsorganisasie van jou keuse te ondersteun, maniere vind om in verbindinge met mekaar te bly en die nodige higiëniese maatreëls volg – dit is vir ʼn rede ingestel.

Laastens, onthou om altyd die feite in konteks te plaas en gebruik jou vermoë om die regte nuus en fopnuus van mekaar te onderskei. Hoe seker is jy dat die foto’s van vernietiging in Italië wat in Maart 2020 uitgestuur is, nie foto’s van ʼn natuurramp is wat ʼn dekade gelede in ʼn ander land plaasgevind het nie? Gebruik eerder die feite om die mense rondom jou te bemoedig.

“Ons is nie vreessmouse nie, laat ons eerder ligdraers wees op sosialemediaplatforms,” het Neethling bygevoeg.

  • Dr. Kobus Neethling het met Maroela Media gesels oor kreatiwiteit en innovasie in die Covid-19-pandemie. Luister na die volledige gesprek boaan hierdie berig of kyk die video hier.
  • Wil jy meer uitvind oor jou breinprofiel of ʼn NBI-praktisyn word? Skakel in vir ʼn webinar oor die onderwerp op Vrydag 8 Mei om 15:00. Besoek die Kobus Neethling Instituut se Facebook-blad vir meer oor die webinar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.