Luister: Dié mense verkies vrede

Foto ter illustrasie. (Foto: Daniel Mingook/Unsplash)

“As ek nie my hand opsteek nie, en ek wys myself nie vir die wêreld nie, gaan die pyn weg en word die wêreld makliker.”

Dít is wat die negende persoonlikheidstipe op die Enneagram oor hulself glo.

In die laaste episode van Maroela Media se podsendingreeks oor die Enneagram, word tipe 9 onder die loep geneem. Louis Venter, kliniese terapeut, stigter van Couples Help en Enneagram-kenner het lig op die persoonlikheidsmotivering van dié persoonlikheidstipe gewerp.

Die tipe 9 fokus op harmonie, en sal enigiets doen om daardie harmonie in hul lewens te bewaar.

Hierdie persoonlikheidstipe sê dikwels maklik ja, selfs al wil hulle nie eintlik nie. Hulle verkies om nie die middelpunt van enige sosiale omstandigheid te wees nie en vermy konfliksituasies soos ʼn pes. Hulle verkies ʼn passiewe deelname aan die lewe, en gee nie daaroor om om hul vingerafdruk op die wêreld te los nie.

Wanneer daar wel ʼn konfliksituasie oor hul pad kom, verkies die nege om dit op ʼn passief aggressiewe wyse te hanteer.

“Dit word soos die olifant in die vertrek. Hulle sê niks nie, maar hulle word onbuigbaar weens dié passiewe aggressie.”

Venter benadruk dat die nege dikwels dié konflikpad kies om terug by ʼn plek van harmonie te kom. Wanneer dit nie gebeur nie, is hulle onseker oor waar hulle hulself bevind.

“Konflik beteken disharmonie, en hulle het eintlik ook hul eie gevoelens, maar sou hulle dit uitdruk sal dit tot verdere konflik lei. Dit oorweldig neges.”

Omdat ʼn tipe 9 sukkel om hulself raak te sien en daarmee saam sukkel om hulself uit te druk, word hulle dikwels hul eie blindekolle in die lewe. Hulle gee hulself op ter wille van harmonie.

“Hulle is ook die mense wat al die persoonlikheidstipes bymekaar hou. Hulle het die vermoë om vrede te maak en het gewoonlik sagte persoonlikhede.”

  • Luister boaan na dié episode van Maroela Media se podsendingreeks oor die Enneagram.
  • Besoek Louis se webwerf, Couples Help, hier.
  • Luister na vorige episodes in die reeks hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.