Luister: Dié persoonlikheid smag na beheer

Foto ter illustrasie. (Foto: Goumbik/Unsplash)

“Al wie jy in hierdie lewe het, is jouself.”

Dít is wat die tipe 8, oftewel die uitdager, op die Enneagram oor hulself glo.

In die jongste episode van Maroela Media se reeks oor die Enneagram, word die persoonlikheidsmotivering van die agtste tipe op dié persoonlikheidsmodel ondersoek. Louis Venter, kliniese terapeut, stigter van Couples Help en Enneagram-kenner, werp lig op die agt.

Die tipe 8 het ʼn vrees daarvoor om broos te voel, om te voel dat hulle nie in beheer van ʼn situasie is nie en dat hulle in die proses dalk kan seerkry. Weens dié vrees, verkies hulle om in beheer te wees en te bly.

“Die agt se fokus is op krag. Hulle maak baie seker dat hulle nooit in ʼn situasie is waar mense hulle kan beheer, waar hulle nie al die antwoorde het of waar hulle in ʼn blik gedruk kan word nie.

“Dit is mense wat dikwels moeilik in ʼn span werk en moeilik opdragte aanvaar. Hulle voel in beheer wanneer hulle in die uitdager- of baasposisie staan,” verduidelik Louis.

Vir ʼn tipe 8 op die Enneagram, is konflik nie ʼn bron van vrees of ongemak nie – hulle pak dit sonder om te blik of te bloos aan.

“Hulle sal baklei en doen wat nodig is om bo uit te kom.”

Louis vertel verder dat dié persoonlikheidstipe dikwels hul eie broosheid, die sagte kant aan hul menswees uit die oog verloor het. Die fokus is en bly daarop om in beheer te wees, en dit is dikwels die oorsaak dat ʼn agt kontak met sy of haar weerlose kant verloor.

Hulle sien dikwels nie hul eie hartseer, leegheid of eensaamheid raak nie.

Alhoewel hierdie aspekte van die tipe 8 dit vir ander moeilik kan maak om in vriendskap of ʼn verhouding met hulle te tree, word hulle ook as die beskermers van die wêreld beskou.

“Omdat hulle ʼn stuk pyn vir alleenwees beleef het, het hulle ʼn besonderse bewustheid vir wanneer iemand uitgebuit word.”

  • Luister boaan na dié episode van Maroela Media se podsendingreeks oor die Enneagram.
  • Besoek Louis se webwerf, Couples Help, hier.
  • Luister na vorige episodes in die reeks hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.