Luister in 3 minute: ANC span pandemie vir transformasie in

ANC-logo

ANC se logo op ‘n muur in Soweto, Johannesburg. Foto: Ben Sutherland/Flickr.com

Gerhard van Onselen, ʼn ontleder van Sakeliga, kyk in vandeesweek se 3 Minute, 3 Sake hoe die ANC die Covid-19-pandemie gebruik om transformasie te bevorder. Hy gee ook die jongste nuus oor die Suid-Afrikaanse Lugredery (SAL) en Standard Bank se waarskuwing oor slegte skuld.

Die Buro vir Ekonomiese Ondersoek het vandeesweek insae in die ANC se denke oor Covid-19 gegee. Die buro verduidelik dat die ANC klaarblyklik nou poog om die regering se infrastruktuurbesteding te versnel. Groter staatsbesteding was nog altyd die ANC se plan, maar Covid-19 word nou as ʼn verdere regverdiging daarvoor aangevoer.

“Die probleem is uiteraard dat die geld op is. Waar meen die ANC sal geld vir sodanige projekte dan vandaan kom? Pensioene en die sentrale bank, natuurlik, as Enoch Godongwana, die ANC se hoof van transformasie, geglo moet word. Voorts reken pres. Cyril Ramaphosa ook dat die ekonomie nou herverstel moet word,” sê Van Onselen.

Sakeliga meen dit lyk of die ANC se plan uiteindelik is om soveel hulpbronne moontlik uit die hande van private eienaarskap en markte te haal. Dit beteken groter politieke bestuur van hulpbronne.

“So iets kan nie anders nie as om die ekonomie op selfs ʼn groter skaal te belemmer en minder doelmatig te maak. Dit belemmer op sy beurt dan juis die kanse op ekonomiese herstel,” sê hy.

Tweedens kyk Van Onselen na die SAL. “Die lugdiens is weer in die nuus. Hierdie keer oor, jy het reg geraai, reddingsboeie.”

Luidens ʼn konsepdokument word ʼn sogenaamde “nuwe lugdiens” voorsien. Dit volg nadat die sakereddingspraktisyns wat die SAL aanvanklik wou likwideer onder reusagtige druk van die regering geswig het en met ʼn nuwe voorstel vorendag gekom het.

“Die lugdiens se ou skuld sal opgerol en uiteindelik op die belastingbetaler se rug gelaai word. Dit is sowat R17 miljard. ʼn Bykomende R2 miljard is nodig vir ʼn skikking met die werknemers.

“Volgens die plan sal die bates van die SAL in ʼn nuwe houermaatskappy geplaas word. Daarna sal die spektakel waarskynlik voortgaan,” reken Van Onselen.

Alf Lees van die DA beskou hierdie voorstel steeds as ʼn fiskale swartgat. “Met ander woorde, iets wat op ʼn groot skaal belastinggeld sal bly opslurp. Ek kan dit net beaam.”

Laastens gesels Van Onselen oor Standard Bank wat waarsku dat afskrywings weens slegte skuld in 2020 erger kan wees as tydens die groot finansiële krisis van die laat 2000’s. Die bank verwag verder dat sy winste in die eerste helfte van die jaar met tot 20% kan tuimel.

Die afsonderingsmaatreëls se sluiting van die aktekantore en voertuighandelaars in April het meegebring dat die nuwe lenings in April met ʼn reusagtige 70% teenoor Maart 2020 gedaal het.

“Standard Bank se aankondiging is natuurlik kommerwekkend, want sistemiese risiko in die finansiële sektor is ter sprake.

“Herstel in die algemeen gaan nie eenvoudig wees nie. Heelwat bedrywighede gaan onder druk bly weens vrese dat regerings weer inperkingsmaatreëls kan afdwing,” sê Van Onselen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Willem ·

Glad nie bekommerd nie. Hul het nie geld nie en kan nie enige besigheid bestuur nie. Van belegings kan hul vergeet niemand sal hier bele nie

BoerSonderRoer ·

Ek het geen tyd vir die ANC nie. Nie 3 minute nie, nie 3 sekondes nie.

Anoniem ·

Presies wat Ramaphosa sedert die begin van die inperking gesê het, naamlik dat dit nou die tyd is vir versnelde ekonomiese hervorming. Die ANC was tot dusver net op papier in beheer, maar kon nog nie hulle hande op die totale ekonomie lê nie. Hulle wil van alles ontslae raak wat in ‘n Witman se besit is.

BoerSonderRoer ·

Gaan nie oor wit en swart nie. Hulle PR hom net so. Die kode woord vir kapitalisme is “racist white economy”. Hierdie is net ‘n klomp kommuniste wat hulle beleid wil implementeer, en al wat hulle keer die die Boere, of, “wit man” soos hulle hom noem.

Johan ·

Ons sal nou alle verskille moet agter wee plaas en begin saam werk/staan en dit wat aan ons behoort met alle mag beskerm want dit is nou ons teen hulle.

Willem ·

Dis eenvoudig skryf nafsa lenings af van 2 mil dan het jy geld. My kommentaar word geblok

MAGRIETHA ·

Dis nou die tyd dat die regering maandeliks met die private sektor , sake ligas , boere, en miljoeners moet vergader oor die pad vorentoe en tot vergelykings kom dis al hoe ons gaan wen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.