Luister in 3 minute: Bankstaking, SA se ekonomie en VSA-China-handelsoorlog

In 3 Minute, 3 Sake bespreek Sakeliga hierdie week die staking wat dreig in die bankwese, die voortgesette verswakking in die Suid-Afrikaanse ekonomie en die jongste verwikkeling in die VSA-China‑handelsoorlog.

Argieffoto (Foto: Leon Nicholas/ANA)

Vakbond wil banke tot stilstand dwing

Sasbo, die Suid-Afrikaanse vereniging van bankamptenare, dreig om vir twee dae in Augustus hul poste te verlaat in protes teen grootskaalse afleggings in die sektor, onder andere by Absa, Standard Bank en Nedbank Suid-Afrika.

Talle maatskappye in hierdie sektor staar geweldige uitdagings in die gesig. Daar is nie net ’n geweldige oorspoeleffek vanweë die algemene negatiewe ekonomiese omstandighede waarin Suid-Afrika verkeer nie, maar ook nuwe kompetisie uit digitale oorde vir talle gevestigde spelers.

Nuwe soorte banke, soos Tyme, Discovery Bank en Bank Zero, word gekenmerk deur aansienlik minder personeel – of selfs ’n algehele gebrek aan enige takke. Hierdie banke maak staat op elektroniese infrastruktuur en kontantlose betalingsmiddels – wat by die dag meer geredelik deur gebruikers en besighede gebruik word.

Selfs al sou ekonomiese omstandighede verbeter, is dit nie duidelik of die banksektor dus altyd so arbeidsintensief sal bly as wat dit vandag is nie. Dit is dus nie duidelik of tradisionele banke, soos stakers vereis, kan bekostig om hierdie afleggings te heroorweeg nie.

Stakers het ook onderneem om te verseker dat ATM’e se geldvoorraad nie aangevul word nie – om, so sê hulle, die land se geld op te droog en toegewings te eis. Dit mag dalk, ironies genoeg, egter juis hierdie tipe optrede wees wat die gebruik van kontantlose betalingsmiddels bespoedig – en dus afleggings uiteindelik bevorder.

Suid-Afrikaanse ekonomie se benarde situasie

Volgens die IHS Markit‑aankopersindeks wat vandeesweek vrygestel is, het saketoestande in Suid-Afrika vir die derde opeenvolgende maand verswak. Hierdie indeks meet verskeie subkomponente van maatskappye in die private sektor se prestasie – en dit is veral kommerwekkend in watter mate nuwe aankope en indiensname hier veral verswak.

’n Soortgelyke verslag, voorberei vir ABSA deur die buro vir ekonomiese navorsing, het weliswaar ’n klein verbetering in die vervaardigingsektor bespeur, maar tot die gevolgtrekking gekom dat sodanige verbetering nie in die bestaande politieke en arbeidstoestande volhoubaar is nie.

Nedbank het ook in sy halfjaarverslag hierdie tendens beaam, waarin dié gevestigde speler in die Suid-Afrikaanse finansiële sektor BBP groei vir hierdie jaar op sowat 0,5% geraam het.

Dit word by die dag duideliker dat, afgesien van president Ramaphosa se pogings om die Suid-Afrikaanse ekonomie te verbeter deur middel van beleggingskonferensies en werkloosheidspitsberade, daar veel meer nodig is as samesprekings.

Die tyd sal leer of die regering die politieke wil sal kan vind om die geweldige strukturele probleme in die ekonomie wat hy daargestel het, tot ’n einde te bring.

Pres. Donald Trump op 6 Maart 2019 by die Withuis in Washington. (Foto: Jacquelyn Martin/AP)

VSA-China-handelsoorlog

In internasionale nuus: markte wêreldwyd reageer op nuwe verwikkelinge in die handelsdispuut tussen die VSA en China. Die Amerikaanse regering, by monde van die Federale Tesourie, het amptelik China verklaar tot geldeenheidsmanipuleerder.

Hierdie klagte is nie heeltemal onverwags nie – trouens 2012 se Republikeinse presidensiële kandidaat, Mitt Romney, het in sy veldtog onderneem om vergeldende stappe teen China te doen in hierdie verband. President Trump het ook hierdie ondernemings vier jaar later in sy eie veldtog om die presidensie gemaak.

Kortliks behels hierdie aanklagte dat Amerika die Chinese regering daarvan beskuldig het dat die juan/dollar‑wisselkoers doelbewus laag gehou word om Chinese invoere meer kompeterend te maak in die Amerikaanse mark.

Hoewel dit onwaarskynlik is dat hierdie aanklag enigsins meer ingrypende gevolge sal inhou vir internasionale handel as wat die handelsdispuut reeds tot gevolg gehad het, is dit te verstane dat dit internasionale vertroue sal aftakel.

  • Luister na Daniel du Plessis, regsontleder by Sakeliga, se volledige uiteensetting van hierdie week se grootste sakekwessies boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

emily ·

Ek vertrou nie eers ons huidige banke nie, Waar gaan ek ek nog nuwes vertrou.
Hahaha

mini ·

ons mag nie staak nie , ek werk vir n bank, ons teken vorm om te se ons gaan nie staak nie ……

George in Bloem ·

Die stakings sal ‘n goeie geleentheid wees vir die banke om te kyk of hulle tellerlose sisteme op standaard is en sommer die kans gee om vas te stel wie hulle eerste kan pos. Om in elkgeval van enige van die unies te verwag om ekonomiese realiteite in te sien,is ‘n mors van tyd en ver bo hulle vuurmaakplek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.