Luister in 3 minute: BBP-syfers, afleggings en die tesourie se plan

Direkteur-generaal van die tesourie, Dondo Mogajane (links) saam met Tito Mboweni, die minister van finansies (Foto: Phando Jikelo/African News Agency/ANA)

Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, bespreek vandeesweek in 3 Minute, 3 Sake die jongste BBP-syfers, Group Five se aankondiging dat dit afleggings voorsien en die tesourie se dokument vir ’n ekonomiese omkeer.

BBP-syfers se tweede kwartaal

Volgens die amptelike syfers van Statistieke Suid-Afrika het die BBP met sowat 3,1% toegeneem op ’n kwartaal-tot-kwartaal grondslag.

Gewag word gemaak oor SA wat nou ’n resessie vryspring, maar gegewe die swak vlakke van groei, is die vermyding van ’n sogenaamde “tegniese resessie” maar min troos.

Op ’n jaargrondslag projekteer groei steeds ver onder 1% vir 2019. Ontleders wys daarop dat groei vir die eerste ses maande van 2019 teenoor die eerste ses maande van 2018 nou by slegs 0,4% staan.

Sakeliga meen die ekonomie groei eenvoudig net nie sterk genoeg nie. Ekonomiese uitdagings is wesenlik en beïnvloed natuurlik die persepsies en vertroue van sakelui.

Boonop weeg politieke onsekerheid en beleidsuitdagings steeds swaar op die sakesektor.

Afleggings by Group Five

Die konstruksiegroep het gesê dit sal van die JE onttrek en voorsien afleggings in die groep. Dit is volgens die groep se sakereddingsplan wat laas Vrydag aangekondig is.

Tot soveel as 5 000 poste by Group Five kan deur afleggings geraak word. Group Five het groot uitdagings, maar hulle is nie die enigste nie.

Volgens die Absa-aankopebestuurdersindeks (ABI), wat deur die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BER), uitgereik word, het sakebedrywighede in Augustus teruggesak.

Die BER meen Augustus se terugsakking was nie onverwags nie, maar swakker as voorsien. Wat wel steurend is, is die indeks se meting van indiensneming wat van 43,1 tot by 39,1 punte geval het.

Dit dui uiteraard op swak toestande vir indiensneming en werknemers. Die koste van skadelike beleid en ʼn onderdrukte ekonomie word al ʼn geruime tyd in indiensneming gesien.

Tesourie se regrukplan

Hierdie betrokke dokument, wat op 27 Augustus uitgereik is, is uit verskeie oorde verwelkom en word as ’n vars briesie op die beleidsfront beskryf.

Die dokument bevat idees wat ondersteun kan word, soos die vermindering van rompslomp vir sakeondernemings en meer kompetisie in sekere sektore. Hoewel sodanige kompetisie oënskynlik steeds kwaai deur die staat gereguleer sal word.

Diegene wat stappe na markvryheid ondersteun, sal bly wees oor die rigting en bestaan van die plan. Tog kan die plan geensins staan as ʼn harde oproep vir vryemarkte nie.

Wat wel opmerklik is, is die kritiek wat die plan gekry het uit sommige oorde, soos uit ANC-geledere, die SAKP en ander. Dit is die reaksie op die plan wat opmerklik is. Die reaksie is as sodanig ʼn aanduiding van die groot moeilikheid waarin die ekonomie verkeer.

Die plan steun uiteindelik steeds maar baie op staatgedrewe ekonomiese ontwikkeling. Die rol van die staat word nie werklik bedreig nie.

En tog is aanduidings dat selfs hierdie matig markvriendeliker idees teengestaan sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.