Luister in 3 minute: Begroting, besoedeling en saketoestande bespreek

begroting-finansies-ekonomie-bestuur-stevepb-pixabay

(Foto: Stevepb/Pixabay)

In die jongste aflewering van 3 Sake, 3 Minute gesels Gehard van Onselen van Sakeliga oor die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) se bevindinge oor die besoedeling in die Vaalrivier. Hy kyk ook na die begrotingsrede en ʼn kwartaalverslag oor plaaslike saketoestande.

Die MRK het onlangs ʼn verslag bekendgestel oor besoedeling van die Vaalrivierstelsel.

Die vermeende skuldiges is nie die gewraakte vrye mark nie, maar organe van die staat en in hierdie geval is dit die plaaslike regering van die Emfuleni-munisipaliteit self.

Stukkende en vervalle infrastruktuur van die munisipaliteit, wat jare laas onderhou is, is verantwoordelik vir die kiloliters rou riool wat in die rivier gestort is. Die MRK beskou dit as ʼn skending van menseregte.

Ons word gereeld vertel dat regerings nodig is om die mark se eksterne kwessies (soos besoedeling) te bestuur. Maar wat as regeringsorgane van die grootste besoedelaars word? Het die vrye markte ʼn antwoord?

Moeilik om met min woorde te sê, maar een gedagte: Met sterk eiendomsregte van oewereienaars en wette wat eienaars toelaat om die munisipale bestuur, miskien selfs persoonlik, te dagvaar – sou dinge anders kon wees?

Ontleders wys ook daarop dat waterhulpbronne jare gelede reeds met die waterwet in openbare “trusteeskap” geplaas is.

As “almal” iets besit, dan besit niemand dit eintlik nie, en wie neem dan die verantwoordelikheid?

Die minister van finansies, Tito Mboweni, het Woensdag die nasionale begroting ter tafel gelê, en die hantering van fiskale druk raak al hoe meer uitdagend.

Die hantering van Covid-19 het op reusagtige tekorte en groot werksverliese neergekom. Luidens ʼn verslag van Sakeliga-ETM vloei belastinginkomste sterker as verwag, maar nie genoeg om die yslike tekort af te weer nie.

Besteding moet daadwerklik besnoei word. Dit is al jare die werklikheid, maar klaarblyklik is hoër belasting vir te lank as ʼn geriefliker opsie beskou.

Belasting het egter op sigself beperkinge. Volgens die bekende Laffer-kromme veroorsaak koersverhogings verby ʼn onsekere kantelpunt dat regerings minder inkomste kry. Dit is nie vergesog of onredelik om te meen dat Suid-Afrika dalk al verby daardie kantelpunt is nie. Koersverhogings, ongeag die aard daarvan, sal volgens Sakeliga nie tot beduidend bykomende inkomste lei nie.

Hewige belasting skaad ook vooruitsigte.

Daarom verwag ons dat die skulpspeletjie met belasting, as’t ware, sal voortduur. Kry plaaslike regerings minder vanaf nasionale vlak, kan koerse op plaaslike vlak weer verhoog word in ʼn poging om op te maak.

So kry die staat, plaaslik en nasionaal tesame, steeds meer van jou geld.

Ons hou die begroting dop, maar belastingbetalers moet wakker sit en organiseer om wal te gooi.

Laastens dan, Sakeliga en ETM Macro Advisors se jongste kwartaalverslag word vandeesweek uitgereik.

Saketoestande, soos verwag sou word, staan nou effe beter ná die versagting van die onverwagse streng inperkings die afgelope Desember en Januarie.

Die hantering van die Covid-19-situasie bring egter voortslepende onsekerheid vir sakelui.

Op die oog af staan die regering weer gereed om sommige ondernemings, bedrywighede en sektore hardhandig en eensydig in te perk, sou die Covid-situasie weer verswak.

Die verslag meen sakelui sal versigtig moet wees met uitbreiding en die toedeling van hulpbronne. Sonder groter sekerheid – selfs miskien waarborge vanuit Pretoria – kan die risiko’s van volgende inperkings nie ontken word nie.

Verder sê dit dat bedrywighede, uitbreidings en investering wat relatief inperkingbestand is in dié stadium bo ander verkies moet word. Dit is ook wys om, waar moontlik, finansiële buffers te versterk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.