Luister in 3 minute: Minimumlone en rentekoerse bekyk

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, bekyk in dié week se 3 minute, 3 sake die bemagtigingskommissie by MTN, minimumlone en afleggings asook die plaaslike rentekoers.

Die kommissie oor swart ekonomiese bemagtiging (SEB) het verlede week ʼn ingrypende bevinding oor ’n bemagtigingtransaksie van die selfoonreus MTN gemaak.

Hierdie bevindinge – wat MTN se jongste bemagtigingtransaksies in twyfel trek – bevestig dat ʼn verskerpte fase in die afdwing van SEB beoog word.

Kontrakteur-vryhede en aandelestrukture is nou in die weegskaal. Op die oog af druis die bevindinge in teen bestaande maatskappyreg en aanvaarde BEE-praktyk.

Sakeliga reken dat die bevindinge ʼn waninterpretasie van die Wet op B-BBEE is en dat dit ʼn redelike quid pro quo ignoreer wat behoort te geld wanneer BEE-aandele teen groot afslag bekom word.

Sakeliga meen dat die kommissie fouteer in sy uitspraak.

Daar is egter duisende BEE-transaksies wat op soortgelyke wyses as dié van MTN aanmekaargesit is.

Sou hierdie bevindinge praktyk word, gaan dit ingrypende gevolge vir ondernemings en aandeelhouers inhou.

Thulas Nxesi, die minister van arbeid en indiensneming, het die afgelope Woensdag beweer dat die nuwe nasionale minimumloon (NML) nie skadelik vir indiensneming is nie. Hy meen ook dat “doemprofesieë” oor die afleggings en dispute nie gerealiseer het nie.

Dit het egter net tot laas Vrydag geduur vir Times Select om verslag te doen oor die feit dat afleggings by die KVBA met meer as 27% in die tweede kwartaal van 2019 teenoor 2018 toegeneem het.

Tog meen Van Onselen die saak moet versigtig bekyk word. Die minister bedoel waarskynlik sake waar die NML direk betrek kan word.

Relatief min werkers in KVBA-sake kry slegs die minimumloon. Afleggings gebeur natuurlik om verskeie redes, nie net oor minimumlone nie.

Minimumlone is eintlik ʼn stadiger gif vir ondernemings en die uitwerking daarvan is moeiliker om te sien.

Werkgewers sal waarskynlik nie dadelik aflê nie, maar verhoogde loonkoste moet op ander maniere geabsorbeer word.

Dit kan insluit die stadiger uitbreiding van ondernemings, terugsny van voordele en werksure, of die sluit van ondernemings op die grens van winsgewendheid.

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank vergader vandeesweek om oor die monetêre beleid en rentekoerse te besin. Die verwagting onder ontleders en die markte is dat die repokoers marginaal verlaag sal word.

Jana van Deventer, hoof van finansiële markte by ETM Analytics en gasskrywer by Sakeliga, reken dat die wêreldmarktoestande sodanig verander dat dit vir die beleidskomitee ruimte mag skep om rentekoerse te kan verlaag.

Die rasionaal agter dié toeskietliker retoriek is tweeledig van aard.

Groeivooruitsigte gaan wêreldwyd geleidelik agteruit namate die internasionale sakesiklus voltrek word. Tweedens bly inflasierisiko’s gedemp.

Van Deventer wys egter daarop dat hoewel plaaslike en globale faktore op die oog af gunstig vir ʼn rentekoersverlaging kan voorkom, sodanige verlaging nie noodwendig ʼn “stimulus” vir ʼn struktureel verswakte plaaslike ekonomie sal beteken nie.

  • Luister ook na Van Onselen se bespreking in ʼn podsending boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.