Luister in 3 minute: Covid-19-hulppakket en vrae oor regeringstelsels  

(Foto: Stevepb/pixabay)

Gerhard van Onselen, senior ontleder van Sakeliga, kyk in vandeesweek se aflewering van 3 Minute, 3 Sake na die Covid-19-hulppakket, stel vrae oor druk op regeringstelsels en bespreek Sakeliga se onlangse meningspeiling.

Pres. Cyril Ramaphosa het op 21 April die Covid-19- ekonomiese pakket aangekondig. Hierdie plan beloop sowat R500 miljard rand. Planne oor ʼn geleidelike ophef van die Covid-19-beperkinge sal later aangekondig word.

Minstens twee elemente van die plan moet beskou word. Eerstens, dit gaan beslis die skuld van die regering aansienlik verhoog. Volgens ramings sal sowat R170 miljard rand se finansiering ingevorder moet word. Dit kan nuwe regeringseffekte en IMF-Wêreldbank-lenings beteken.

Verder bestaan die hulp uit goed soos skuldwaarborge vir ondernemings en ander vorms van uitstel van betalings. Tog moet in gedagte gehou word dat skuld uiteindelik betaal moet word en uitstel van betalings net dit is – ʼn voorlopige uitstel.

“Ons moet produseer om te kan koop. Herstel sal verg dat produksie weer met heelwat minder beperkings toegelaat word. Dit is die uiteindelike hulppakket wat nodig is,” sê Van Onselen.

Die ekonoom Russell Lamberti het onlangs op ʼn regstreeks webuitsending van Sakeliga belangrike kwessies oor die ekonomie van Covid-19 uiteengesit.

Lamberti meen dat sistemiese risiko besig is om toe te neem en dat die regering se stelsels soos die WVF tans ʼn strestoets ondergaan. Lamberti meen ook dat bedrae wat sover vir werkloosheid uitbetaal is, duidelik baie min is. ʼn Bedrag ter waarde van R1,6 miljard is vroeër die week genoem.

Kommer bestaan dat die regering se stelsels nie opgewasse gaan wees om betyds aan die reusagtige getal nuwe weerlose individue se behoeftes te voorsien nie. Druk op stelsels soos die maatskaplike toelae en werkloosheidsversekering gaan beslis toeneem.

Laastens bespreek Van Onselen ook Sakeliga se onlangse meningspeiling oor Covid-19 se impak op sakeondernemings.

Hierdie peiling vorm deel van deurlopende vraelyste wat tydens Covid-19 aan Sakeliga se lede en netwerk versprei word. In die onlangse peiling het meer as 600 respondente deelgeneem.

Soos verwag kan word, skets die uitslae nie ʼn rooskleurige prentjie nie. ʼn Groot meerderheid van die betrokke ondernemings se saketoestande het dramaties teenoor die voorafgaande sewe dae verswak.

“Verder is vooruitsigte op die kort termyn baie negatief. Onsekerheid oor sakevooruitsigte is beduidend, selfs na die afloop van 12 maande.

Dan sien ons ook dat meer as 70% van die respondente, in sogenaamde noodsaaklike ondernemings, sukkel om die nodige insette vir hul bedrywighede te bekom,” sê Van Onselen.

Maar veral die verwagtinge rondom dalings in omset is skokkend.  Meer as 60% verwag dat omset in 2020 met meer as 25% sal daal. In ʼn kort opvolgpeiling het 44% van ʼn nuwe sowat 430 respondente sover aangedui dat omset met meer as 75% kan daal.

  • Luister na Van Onselen se volledige uiteensetting van hierdie drie sakekwessies boaan die berig.
  • Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Willem ·

Neem aan Sakeliga het die statistiek vir Cyril gewys. Dis verblywend om te sien daar word agter die skerms gewoel. Sal graag wil weet of hul die ANC se plan met vinnige ekonomiese verandering raak sien .Daar gaan weinig wit besighede die krisis deurstaan

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.