Luister in 3 minute: Die ekonomiese uitval van Covid-19

Foto: (AP Photo/Brian Inganga)

In die jongste 3 Minute, 3 Sake kyk Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, na die ekonomiese nagevolge wat die koronavirus (Covid-19) in Suid-Afrika kan veroorsaak.

Hy bespreek die verwarring oor maatreëls en permitte, asook die groter belastingtekorte wat verlede week aangekondig is.

“Die staat van inperking is ʼn uitsonderlik drastiese stap aan die kant van die Suid-Afrikaanse regering (en ander). Hoewel sommige glo dat dit die enigste manier is om druk op die gesondheidsorgstelsel te verlig kan ʼn aansienlike uitwerking op die ekonomie verwag word,” sê Van Onselen.

“Motorverkope tuimel reeds en die rand het uiters verswak. Daarby is volledige rommelstatus nou amptelik. Miljoene mense sal inkomsteverliese die hoof moet bied terwyl belemmerde produksie minder koopkrag sal oplewer.”

Tot dusver voorsien ekonome, soos Russell Lamberti van ETM, dat BBP vir die meeste ekonomieë met ʼn reusagtige 5-10% kan krimp.

“Hierdie negatiewe uitwerking is egter nie net ʼn hou op maatskappywinste nie. Sekere sektore soos tydelike werknemers gaan disproporsioneel swaar getref word. Suid-Afrika het ook 10 miljoen werkloses en baie stukwerkers wat opgesluit is. Gaan hulp vir hierdie mense aan die lig kom?”

Van Onselen sê verder dat die informele en formele ekonomie mekaar op minder sigbare maniere ondersteun en die verlies aan die een gaan ook die ander belemmer.

Tweedens kyk hy na die verwarring oor die staat van inperking se noodmaatreëls en permitte. Soos verwag, is die onderskeid tussen sogenaamde noodsaaklike en nienoodsaaklike dienste en produkte nie eenvoudig nie.

“Tot dusver is verskeie regulasies hieroor verslap. Dit was te wagte,” voeg Van Onselen by.

Dit blyk egter dat ondernemings soos eenmansake sukkel om te registreer, selfs om noodsaaklike produkte te lewer. Sakeliga het reeds regsbriewe hieroor aan die toepaslike owerhede hieroor gerig. (Sien gerus Sakeliga se Covid-19-webblad vir meer.)

“Dit is egter nodig om te beklemtoon dat alle produksie uiteindelik belangrik is. Hoewel die beperkinge tans groot is, moet buitengewone sakeproduksie sover moontlik aan die lewe gehou word. Produksie onderlê uiteindelik koopkrag. Ondernemings wat nog kan produseer, behoort verwelkom en ondersteun te word.”

Piet le Roux, Sakeliga se uitvoerende hoof, meen egter die onsekerheid dwing onnodige sluitings van klein ondernemings wat noodsaaklike dienste kan lewer. “Nou word jonk en oud, gesond en siek, gedwing om die risiko van besmetting te loop wanneer hulle saamtrek by ʼn betreklike klein aantal winkels. Meer noodsaaklike winkels is veral nou nodig,” sê Le Roux.

Die staatskas was reeds voor die Covid-19-pandemie in ʼn verknorsing. Die regering se belastinginkomste was teen die einde van Maart 2020 sowat R66 miljard onder begroting.

Dit was selfs R14 miljard onder die verlaagde teiken vir belasting volgens ʼn aanpassing in Oktober 2019.

Edward Kieswetter, hoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, meen dat die 2021-boekjaar selfs nog groter uitdagings gaan bied.

Nie net staar die gevolge van Covid-19 die regering nou in die gesig nie. Daardie negatiewe uitwerking lê bo-op jare lange wanbestuur en teenproduktiewe regulering van die Suid-Afrikaanse ekonomie.

“Die regering het as’t ware die voete van die markekonomie onder homself uitgeskop, maar dit is ongelukkig ook die stelsel wat die grootste vermoë het om die huidige penarie op te los,” sluit Van Onselen af.

  • Luister na Van Onselen se volledige uiteensetting van hierdie drie sakekwessie boaan die berig.
  • Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andries ·

Waarom is geen organisasie bereid om die regering hof toe te neem om die inperkings ter syde te probeer stel ogv die skeefgetrekte statistiek waarop die inperkingsmaatreels berus en veral om die geweldige ingrype en vertrapping van privaatheid teen te staan.
Die geweldige ekonomiese skade wat deur die inperkings veroorsaak word is nog ‘n rede om dit teen te staan.

Kosie ·

Die Covid histerie is gebaseer op valse inligting. Gaan ons nou die hele ekonomie kelder vir 12 mense? Dit gee die regering ‘n nuwe sondebok vir hulle onder prestasies en nou kan hulle lekker nuwe reëls skep, soos om jou selfoon na te spoor, sonder enige opposisie en hulle gaan nie weer van hierdie magte afstand doen nie. Vandag moet hulle jou naspoor vir die virus, môre omdat jy ideologies van hulle verskil.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.