Luister in 3 minute: Die staatsrede, ’n ranglys vir sake doen en mededinging

Foto: Presidensie/Twitter

Dit is weer tyd vir 3 Minute, 3 Sake waar Gerhard van Onselen, ʼn senior ontleder by Sakeliga, die afgelope sewe dae se grootste sakekwessies bespreek.

In vandeesweek se episode neem Van Onselen Donderdag se staatsrede vanuit ʼn sakeoogpunt onder die loep. Hy kyk ook na die ranglys wat die graad beoordeel van die gemak om sake in Suid-Afrika te doen en gesels oor nuwe regulasies op mededinging wat binnekort in werking tree.

“Sakeliga meen dat die toestand van die fiskus en ekonomie fundamentele hervorming in regeringsbeleid vereis.

“In stede daarvan het die regering hom opnuut verbind tot ʼn benadering van ingryping, wat reeds verantwoordelik is vir die land se benarde toestand. Groot inmenging en groot besteding staan uit,” het Van Onselen gesê.

Hy meen daar was twee fundamentele mistastings in die staatsrede te sien. “Eerstens word bykans al die skuld vir die geknelde ekonomie en fiskus aan staatskaping toegeskryf. Terwyl dit skadelik was, was hierdie bloot bydraende faktore. Faktore soos hewige belasting, rompslomp, swart ekonomiese bemagtiging, wanbesteding en onteiening sonder vergoeding het ook ʼn uitwerking op die ekonomie.

“Tweedens versuim pres. Cyril Ramaphosa om te erken dat dit nie burokrate en politici is wat welvaart skep nie, maar eerder sakeondernemings in mark-ekonomieë.”

Van Onselen meen dat so lank as wat inmenging en skadelike beleid voortduur, sal dit ook die moontlikheid van vooruitgang vir almal belemmer.

“Nog ʼn probleem is dat die goeie hervormings wat tot dusver genoem is, meestal net teoreties bly. Skadelike bestaande beleid bly egter in plek. En nuwe skade, soos die nasionale gesondheidsversekering en onteiening sonder vergoeding bly op dreef.”

Verder berig Rapport dat Suid-Afrika bedenklik presteer het op die jongste 2019-ranglys van sake doen wat die Wêreldbank saamstel. Dié ranglys word jaarliks vrygestel. Dit is op sulke metings wat Ramaphosa skynbaar wil verbeter.

Suid-Afrika beklee tans die 84ste plek uit 190 lande. Ander lande soos Rwanda en Kenia beklee heelwat beter posisies; 38ste en 56ste plekke onderskeidelik.

“Dit lyk asof dit nie soseer gaan oor die spoed waarteen ʼn maatskappy kan registreer nie, wat wel belangrik is, maar eerder die las om aan allerlei verskillende regulasies te voldoen. Rapport noem bykomende faktore soos gemak om boupermitte te bekom, kragvoorsiening en beskerming van regte wat tot die gemakfaktor bydra.

“Die wendings van sentralisering, burokratisering en inbreuk op eiendomsregte, wat tans uit die regering se planne spruit, maak beslis die sakesektor moeiliker as wat nodig is,” meen Van Onselen.

Ebrahim Patel, die minister van handel en nywerheid, het verlede week nuwe regulasies ingevolge die Wet op Mededinging bekragtig.

Hierdie regulasies bemagtig die mededingingsowerhede om op te tree waar hulle vermoed dat aangewese klein maatskappye en maatskappye in besit van voorheenbenadeelde persone deur onregverdige pryse en handelsvereistes benadeel word.

“Die aard van wat onregverdig is, sal natuurlik deur die mededingingsowerhede met verwysing na die regulasies bepaal word. En die waarskynlike toepassing hiervan lyk vir ons twyfelagtig,” het Van Onselen gesê.

In die kopermag-regulasies word landbouverwerking, groothandel- en kleinhandelsektore en aanlyn dienste en e-handel uitgewys vir spesiale aandag.

“Maatskappye in hierdie sektore moet veral op hierdie nuwe regulasies en die moontlike uitwerking op hul ondernemings let”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan Venter ·

‘Twyfelagtig’ is om dit saggies te stel, soos die regering ook wat met enigiets motiewe het wat eers goed ondersoek na ingestel moet word, dan moet mens ‘n woordeboek nader sleep want een woord van hulle kan 10 betekenisse hê.

Dit laat my aan die Afrika Unie se jongste vergadering dink waar die vergadering ‘n halwe dag voor die tyd tot stilstand geknars het omdat die mense nie ooreen kon kom oor die vertaling van sekere woorde nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.