Luister in 3 minute: Die werkloosheidsyfer, noodbegroting en kopiereg

(Grafika: Sakeliga.)

Gerhard van Onselen van Sakeliga kyk in die jongste aflewering van 3 Minute, 3 Sake na die werkloosheidsyfer, wat skerp toegeneem het in die eerste kwartaal, die noodbegroting en die wetsontwerp op kopiereg, wat terug na die parlement verwys is.

Volgens Statistieke Suid-Afrika het die amptelike werkloosheidkoers in die eerste kwartaal 30% verbygesteek. Dié koers staan tans op 30,1%. Daarvolgens is daar nou sowat 7,1 miljoen werkloses in die eerste kwartaal.

“Wanneer ons kyk na die uitgebreide werkloosheidkoers, wat onder meer ontmoedigde werksoekers byreken, sien ons ʼn ysingwekkende 10,8 miljoen mense wat wil werk, maar nie kan werk nie.

Die uitgebreide koers is waarskynlik meer relevant vir Suid-Afrika en trek nou by 39,7%, opwaarts van 38,7% in die vierde kwartaal van 2019.

“Die afsonderingstydperk is egter eers aan die einde van die eerste kwartaal ingestel. Alle aanduidings is dat die koerse in die tweede kwartaal dramaties slegter gaan voorkom. Kwartaal een se syfers is dus net ʼn voorsmakie en erger syfers word vir die tweede kwartaal verwag,” sê Van Onselen.

Tito Mboweni, minister van finansies. (Foto: Shayne Robinson/SAPA)

Tito Mboweni, minister van finansies, stel hierdie week ʼn aangepaste noodbegroting vir Suid-Afrika voor. Mboweni reken dat die regering ʼn soewereine skuldkrisis te wagte is indien die geldsake nie versigtiger bestuur word nie.

“Dit stem ooreen met Sakeliga se ontledings wat ook reken dat die regering ʼn skuldkrisis nader. Skuldvlakke van 80% van BBP, met ʼn tekort van meer as 13%, word nou deur ekonome voorsien. Dit laat ons dink aan die ou gesegde wat lui, hoe speel mens bankrot? Eers stadig en dan al hoe vinniger,” sê Van Onselen.

Mboweni reken Suid-Afrika is nou nie meer so welvarend soos wat hy was nie en dat verwagtinge daarvolgens aangepas moet word.

“Dit gebeur waar welvaartskepping afgetakel word. Groter belasting of groter staatslenings gaan kwalik die probleem oplos. Nuwe planne is nodig. Die planne wat nodig is, is dat die regering ʼn resessie betree sodat mense in markte kan saamwerk om nuwe rykdom te skep,” voeg Van Onselen by.

Luidens berigte het pres. Cyril Ramaphosa die omstrede wysigingswetsontwerp op kopiereg terugverwys na die parlement. Ramaphosa is blykbaar bekommerd daaroor dat die wetsontwerp grondwetlike probleme sal ondervind.

Hierdie wetsontwerp het veral die aandag van die International Intellectual Property Rights Association getrek. Hierdie liggaam het gewaarsku dat daar by die Amerikaanse regering beding sal word sodat Suid-Afrika se voorkeurstatus in Amerikaanse markte onthef word, indien die wetsontwerp bekragtig word.

Plaaslike belangegroepe het ook hul stem teen die wet verhef. Die vrees is dat intellektuele eiendom weens die wet bloot regulatories onteien sal word.

“Die aard van intellektuele eiendom is ʼn komplekse saak en moet versigtig oordink word. Dit is egter ʼn goeie teken wanneer wetmakers versigtiger handel om wette te maak. Sakeliga hou hierdie verwikkelinge dop,” sê Van Onselen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.