Luister in 3 minute: Drankverbod se gevolge en nuwe basiese toelaag bekyk

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

In vandeesweek se 3 Minute, 3 Sake bespreek Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, die nuwe Covid-19-maatreëls wat vir vlak 3 van afsondering aangekondig is. Hy kyk ook na die gevolge van die nuwe drankverbod en ʼn voorstel vir ʼn nuwe basiese inkomstetoelaag.

Pres. Cyril Ramaphosa het die afgelope Sondagaand nuwe maatreëls om Covid-19 sogenaamd te bestuur aangekondig.  ʼn Nuwe aandklokreël en ʼn eensydige drankverbod is ingestel.

Verder moet werkgewers en bestuurders die dra van maskers afdwing en kriminele aanspreeklikheid geld as dit nie gebeur nie.

“Weereens word die koste en risiko van sake verhoog. Loop jy nou op die strand sonder jou masker is jy ʼn krimineel, terwyl taxi’s vir kort roetes ten volle kapasiteit passasiers mag vervoer,” het Van Onselen gesê.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, meen dat die gevolg van die grendelstaat soos dit hier toegepas word slegs marginale mediese voordele sal bring, maar met omvattende skade aan lewens en lewensgehalte.

“Hierdie nuwe maatreëls volg op ʼn regering wat steeds lyk of dit medies onvoorbereid op Covid-19 is, selfs gegewe die relatief matiger sterftekoers en stadiger verloop van dié pandemie in Suid-Afrika. Na amper vier maande se afsondering lyk dit of daar byvoorbeeld steeds nagelaat is om vir genoeg suurstof by sommige hospitale te beplan.

“Die wankoördinasie van mediese sentrale beplanning word nou behoorlik gesien. Daar kan met reg gevra word of dit die nasionale gesondheidsversekering in Suid-Afrika se voorland is?”

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Hy meen die voorsienbare gevolge van die nuwe drankverbod is natuurlik veelvoudig.

Restaurante en drankwinkels, wynmakers en ander, wat effens kop kon optel ná die afsonderingstyd, is weereens eensydig te pletter gereguleer.

“Natuurlik word die maatreëls ingestel om die proporsioneel klein aantal persone wat hulself wangedra met drank te probeer beteuel – maar nou word almal oor dieselfde kam geskeer. Diegene wat ʼn glasie wyn met ete geniet, word saam met die kriminele misbruiker gereguleer.

“Die negatiewe impakte van ʼn verbod self, soos gevaarliker produkte en die versterking van kriminele netwerke, word verder nie ingereken nie. Drankverbruik gaan natuurlik nie staak nie, verbruik vind altyd ʼn weg.”

Van Onselen meen die probleem is dat beleidmakers bykans nooit self die koste van die skadelike regulering se gevolge dra nie. Amptenare dra ook nie die koste van die ondernemings wat nou sal ondergaan nie.

Minister Lindiwe Zulu. (Foto:. Jairus Mmutle/GCIS)

“Laaste sien ons hoe minister Lindiwe Zulu met ʼn voorstel vorendag gekom het om ʼn basiese inkomstetoelaag vir Suid-Afrika in te stel.”

Die voorstel, berig Bloomberg, is dat sowat R500 per maand betaal word aan mense tussen 19 en 59 jaar wat nie vir ander inkomstehulp kwalifiseer nie. Dit sal die staat, oftewel die belastingbetaler, tot R200 miljard per jaar kos.

Blykbaar wil die ANC sowat 60% van die koste hiervan “verhaal” deur belastings op diegene wat werk. Die ANC-voorstel waarop dit berus, is die mening dat “Covid-19 die veerkragtigheid en oorlewingsvermoë van arm huishoudings verswak en ondergrawe het”.

“ʼn Interessante woordkeuse waarmee Sakeliga verskil. By verre die grootste impak sover was nie Covid-19 nie, maar tuisbly-bevele, gedwonge sluitings en ander rampspoedige onredelike regulasies. Dit bo-op jare en jare van inmenging op die mark en kaderontplooiing.”

Van Onselen het gesê so ʼn nuwe toelaag is ʼn enorme uitgawe. “Hierdie uitgawe sal eenvoudig net bo-op bestaande uitgawes gelaai word, terwyl dit die regering se boeke net nog dieper in ʼn krisis sal dompel. Daarby sal die bykomende belasting op diegene wat werk, sake-bedrywighede ontmoedig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Piet ·

Stem nie saam met die drank verbod nie, maar die basiese inkomste toelaag is fantasties. Ek het min vertroue dat hulle dit suksesvol kan implimenteer word met die paloekas wat dit moet administrateer, maar dis definitief die pad voorentoe. Tyd dat ons armoede waaragtig aanspreek

JJ ·

Uitstekende, wel deurdagte artikel. In hierdie balanstaat word die negatiewe leiding deur die Staat beklemtoon. Die teenkant word glad nie gestel nie. Skyn die lig ook op beter oplossings soos wat jy dit sien. Op hierdie manier kan die leser beide kante van die saak sien en so word debat bevorder. Soos die saak nou staan is dit net een echokamer van negatiewe kommentaar. Ek is seker ons kan beter doen as dit.

...M... ·

Al wat hierdie regering besig is om te doen is om die belastingbetaler (wat ‘n BAIE klein % mense is) finiansieel dood te maak om mag oor die hele land te kry. Covid-19 is net ‘n “cover up” vir hulle vuilspel….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.