Luister in 3 minute: Ekonomie steier en Mboweni se zero-begroting

(Grafika: Sakeliga.)

In vandeesweek se 3 Minute, 3 Sake bespreek Gerhard van Onselen, ʼn senior ontleder by Sakeliga, die ekonomie wat byna onder inperkings ineenstort en onsekerheid in die konstruksiebedryf. Hy gesels ook oor Tito Mboweni, minister van finansies, se zero-gebaseerde begroting.

Sakeliga het die afgelope naweek sy kwartaallikse ekonomiese oorsig uitgereik. Hierdie dokument neem die plaaslike en globale makro-ekonomie se impak op die sakewêreld in oënskou.

“Die onlangse verslag lewer kommentaar op die tweede kwartaal van 2020, ʼn kwartaal van ʼn ongekende aard. Die Covid-19-inperkings en regulasies het ʼn uiters skadelike uitwerking gehad.

“Belangrike aanwysers het getuimel tot onder die vlakke wat selfs tydens die 2008- finansiële krisis beleef is. Erger werkloosheid, fiskale agteruitgang en dreigende krisisse en uiters moeilike saketoestande is waargeneem,” sê Van Onselen.

Volgens hom is Sakeliga veral besorg oor die nadraai van Covid-19 en die invloed op beleid. “Sover sien ons dat Covid-19 as ʼn regverdiging voorgehou word om verdere teen-die-mark sosialistiese beleid in te voer.

“Slegter beleid gaan uiteraard die vooruitsigte van alle gemeenskappe benadeel, maar veral die lot van die armes vererger,” voeg Van Onselen by.

As ʼn voorbeeld van ʼn bedryf wat deur die reaksie op Covid-19 geraak is, sien ʼn mens hoe die konstruksiebedryf steier.

“Hierdie bedryf het natuurlik probleme gehad nog voor Covid-19, maar nou is dinge éérs moeilik. Luidens mediaberigte is daar nie net onsekerheid oor projekte nie, maar ook oor hoe maatskappye aan die Covid-19-vereistes gaan voldoen. Covid-19 is waarskynlik die laaste spyker in die kis van ʼn sukkelende bedryf, veral vir die kleiner ondernemings,” sê hy.

Soos gewoonlik die geval is, is kleiner maatskappye minder daartoe in staat om skielike bykomende voldoeningskoste te dra, meen Van Onselen.

Kenners in die bedryf reken nou dat kontrakte hersien sal moet word, en dat force majeurestappe ook kan volg, hoewel dit nie noodwendig aanbeveel word nie.

Drie konstruksiemaatskappye het reeds aangedui dat die pandemie ʼn ongekende negatiewe uitwerking op hul sake sal hê.

Minister Tito Mboweni. (Foto: Nokuthula Mbatha/ANA)

Laastens kyk Van Onselen na Mboweni se uitlatings oor ʼn zero-gebaseerde begroting.

“Dit is nou waar alle uitgawes in elke bestedingstydperk geregverdig moet word. Duidelik wil Mboweni die begroting inperk,” sê Van Onselen.

Hy sê Mboweni is egter nie alleen nie. Pravin Gordhan, voormalige minister van finansies, het ook in sy termyn gemeen die gordel moet stywer getrek word. Die begroting word ter tafel gelê en dan word daaroor gestem. Dus bly dit ʼn politieke proses.

“Die vraag is of die wil werklik daar is om die gordel stywer te trek. Tot dusver het die sakesektor baie skade weens die inperking beleef.  Wat nodig is, is ʼn resessie in regeringsbesteding. Daarby moet meer hulpbronne in die produktiewe sektor gelaat word met groter vryheid tot produksie.

“ʼn Resessie in regeringsbesteding is polities onpopulêr, maar teen dié koers is die regering tans op pad na ʼn fiskale krisis. Die groter krisis is ʼn oormatige politieke bedeling wat private sektor- bedrywighede veels te veel onderdruk,” sê Van Onselen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

marius ·

Zero , niks , nothing , nada , aizikolo , anakona . Hoekom is daar ‘ n minister nodig om dit te verduidelik ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.