Luister in 3 minute: Ent-paspoorte, ekstra belastinglas op spits gedryf

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. (Foto: Solidariteit/Facebook)

In vandeesweek se 3 Minute, 3 Sake bespreek Gerhard van Onselen van Sakeliga die kwessie oor ent-paspoorte, die staatsbeheerde versekeraar wat aansoek doen om nog geld, asook Solidariteit se stappe teen die regering se planne vir bykomende belasting op sy burgers.

Die omstrede kwessie oor sogenaamde “paspoorte” vir inentings word nou op die spits gedryf.

In die VSA is ʼn nasionale mandaat vir federale werkers deur pres. Joe Biden se Withuis aangekondig. Plaaslik word sogenaamde inentingspaspoorte ook nou oorweeg, hoewel sekere instellings, soos die Restaurantvereniging van Suid-Afrika (Rasa), daarteen skop.

Rasa meen byvoorbeeld dat inenting ʼn persoonlike besluit behoort te bly.

Piet le Roux en Russell Lamberti van Sakeliga skryf in Rapport dat die kwessie oor verpligting nie so eenvoudig is nie.

 “Ons weet minder as wat ons dink oor die huidige situasie; ons onderskat die beleidsgevare vorentoe. En ons sien minder ingrypende alternatiewe oor die hoof,” meen Le Roux en Lamberti.

Hulle wys daarop dat alternatiewe tot dwang bestaan; maatskappye kan werknemers eerder aanspoor as om wetgewing af te dwing. Dinge soos versekeringspremies kan ooreenkomstig hanteer word.

Dan moet daar onthou word dat voorgenome dwang en benadeling teen mense wat nie die inentings neem nie skeurings in samelewings kan veroorsaak waarvan die gevolge later onvoorspelbaar is.

Die onlangse onluste in KwaZulu-Natal en dele van Gauteng het die prentjie oor versekering in Suid-Afrika verander. Nie net is die Staatsversekeraar (Sasria) nou bankrot nie, maar hierdie instelling gaan ook by die regering om hulp moet aanklop.

Sasria bestaan om teen polities geïnspireerde kwaadwillige skade te verseker. Luidens ander berigte kan sekere ander gebeurlikhede nou nie meer verseker word nie.

Die staatsbeheerde versekeraar wys daarop dat sy huidige kontant onvoldoende is om eise wat uit onluste voortspruit te vereffen. Die instelling versoek nou meer kontant as die byna R4 miljard wat reeds deur die regering voorgeskiet sal word.

Sasria is ʼn sprekende voorbeeld waar ʼn risiko wat regerings poog om oor te neem later weer in die belastingbetaler se skoot beland.

En laastens, die kwessie oor belasting warm nou op. Die vakbond Solidariteit het onlangs ʼn georganiseerde belastingveldtog van stapel gestuur.

Solidariteit skop teen wat hulle noem die driedubbele verhoging van belasting weens die bykomende voorgenome Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) en die voorstel vir groter belasting vir maatskaplike sekerheid. Die vakbond meen die regeringsplanne sal belastinglaste verhoog.

ʼn Wettige protes word nou in die lewe geroep. Deel van die protes sluit litigasie teen die NGV in.

Solidariteit voer aan in ʼn land van sowat 60 miljoen is daar betreklik min ware belastingbetalers. Sakeliga kan net beaam, hierdie stand van sake is onvolhoubaar.

“Ons moet saamstaan en politici daaraan herinner dat hulle veronderstel is om vir ons, die belastingbetaler, te werk, en nie andersom nie,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê tydens die onlangse bekendstelling van dié veldtog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.