Luister in 3 minute: Eskom verhaal nog geld en herrie in parlement

(Argieffoto: ANA)

Hier is die drie sake wat in die jongste aflewering van 3 Minute, 3 Sake bespreek word: Eskom verhaal nog geld van verbruikers, rassemaatreëls oor Covid-19-hulp lei tot herrie in parlement, en Sakeliga-peiling dui op die skadelike impak van Covid-19-inperking.

Eerste: Maroela Media berig oor Eskom wat ʼn volgende magtiging van die nasionale energiereguleerder, Nersa, gekry het om meer as R13 3000-miljoen van verbruikers te verhaal.

Hierdie verhaling sal bo-op bestaande verhogings aangebring word, wat beteken dat verbruikers meer vir elektrisiteit sal moet opdok. Dit sal natuurlik ʼn bykomende las wees op baie inwoners wat weens die reaksie op Covid-19 reeds moeilike tye binnegaan.

“Nou ja, reguleerders soos Nersa is van mening dat hulle eenvoudig bloot prysverhogings kan toestaan sonder probleme. In die werklikheid, buite die wêreld van prysmodelle, is dinge nie so eenvoudig nie. Verbruikers bly sensitief vir prysstygings en vind deurgaans maniere om Eskom te omseil.

“Aan die een kant plaas jare se roekelose besteding in Eskom insetkoste onder druk. Aan die ander kant is die vraag na elektrisiteit in die wiele gery. Eskom staar steeds die nutsmaatskappy-doodspriraal in die gesig. Beter bestuur, maar ook markkragte is nodig om Eskom reg te ruk. Markkragte word steeds vermy,” het Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, gesê.

Die toepassing van rassekriteria wat gekoppel word aan Covid-19 hulp het selfs tot ʼn herrie in die parlement gelei. Die tesourie het luidens ʼn verslag gesê dat rassekriteria nooit deel moes wees van die gewaarborgde Covid-19-leningskema nie.

Dr. Dion George van die DA het byvoorbeeld aangedring dat die bankwaarborgskema nie op rassegronde toegepas moet word nie. Dit blyk die geval te wees by sommige banke. Natuurlik het die EFF aangevoer dat alle wette, met ander woorde, die raswette ook toegepas moet word.

Van die parlementêre lede het daarop gewys dat rassegronde om byvoorbeeld nie sogenaamde wit ondernemings te help nie tot nadeel van swart werkers in sulke ondernemings kan wees.

“Sakeliga hou vol dat die beste hulp wat die regering nou kan gee, is om die lockdown te beëindig. Gesondheidsmaatreëls behoort slegs riskante praktyke duidelik uiteen te sit en te bestuur, niks meer nie,” het Van Onselen bygevoeg.

Sakeliga sal vandeesweek die resultate van sy derde Covid-19-ondernemingsimpakpeiling bekendmaak.

“Sover sien ons weereens ʼn akute impak op korttermynsakebedrywighede. Daarby was die vooruitsigte van ʼn groot getal deelnemers in Mei steeds oorwegend benard. Duidelik is die oorlewing van ʼn aansienlike aantal ondernemings en gepaardgaande werke op die spel,” het hy gesê.

Sakeliga meen die vorm van die Covid-19-inperkings tans is, ongeag die vlak-4-verslappings, besig om groot skade aan die sakesektor aan te rig. Talle ondernemings – meer as 50% van respondente – voorsien blywende skade weens Covid-19 en die beleidsreaksie daarop.

“Die oopstel van e-handel, eers nadat die Mei 2020-peiling voltooi is, is welkom, maar meer sal moet gebeur om handelsvryheid en ʼn gesonde risiko-aangepaste terugkeer na sake te bevorder. Natuurlik kan nie alle sakemodelle deur middel van e-handel plaasvind nie.

“Sakeliga hou vol dat die beste ekonomiese hulp nou is om die grendelstaat op te hef en maatskappye toe te laat om risiko binne sinvolle beginsels te bestuur,” het Van Onselen afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

J ·

1. EKSDOM word as rookskerm misbruik deur die ANC regime om staatsgeld (gratis krag) te gebruik om STEMME TE KOOP in Soweto en elders.

2. Die “vetkat” SAA werkers is vir jare reeds vooruitbetaal deurdat hulle tot dusver BUITENSPORIGE SALARISSE ontvang het vir bitter min werk.

3. Wie gaan al die besighede en die kliënte stop as almal die regering se “duimsuig” plannetjies blootweg IGNOREER?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.