Luister in 3 minute: Fiskale stres plaas druk op SA se begroting

geld-finansies-spaar-begroting-belegging-deur-stevepb-op-pixabay

Foto: Stevepb/Pixabay.com

In vandeesweek se 3 Minute, 3 Sake gesels Gerhard van Onselen van Sakeliga oor die fiskale stres op die Suid-Afrikaanse begroting. Hy bespreek ook Sakeliga se deelname aan belangrike regsake en die VSA-regering wat planne vir grondonteiening sonder vergoeding kap.

Die hoofstorie hierdie week is natuurlik die nasionale begrotingtoespraak deur die minister van finansies, Tito Mboweni, wat vir 26 Februarie geskeduleer is.

In aanloop tot die toespraak dui ETM Macro Advisors se aanwyser van fiskale stres op groot druk op die regering se boeke. Hierdie aanwyser het sedert middel 2018 skerp gestyg.

Volgens ETM maak nuwe staatslenings en voortgesette rente-uitgawes nou ʼn derde uit van regeringsbesteding.

“Wanneer dié verhouding van die fiskale tekort plus rentekoste as ʼn proporsie van regeringsuitgawes 40% bereik, is die kans van ʼn fiskale krisis hoog.  Hierdie verhouding staan tans bokant 30%. Grootskaalse hervorming is nodig, maar tot dusver was die regering óf nie in staat nie óf onwillig om die staatsdiens en sy salarisrekening te verklein,” het Van Onselen gesê.

Sakeliga het verlede week aan twee belangrike hofsake deelgeneem. Die eerste was teen Julius Malema. Malema het die Konstitusionele Hof genader om te argumenteer dat aanhitsing tot betreding en grondbesetting as spraakvryheid beskerm moet word.

“Sakeliga het as vriend van die hof aangevoer dat aanhitsing tot ’n misdaad soos betreding, nooit as spraakvryheid beskerm kan word nie.”

In die tweede saak het Sakeliga ook as ʼn vriend van die hof aangevoer dat rassekwotas en rasseklassifikasie soos toegepas in die Wes-Kaapse regspraktykraad ongrondwetlik is.

“Dié hofsaak in die hooggeregshof spruit uit ʼn voorval vroeg in 2019 by die Wes-Kaapse regspraktykraad. Advokaat Ncumisa Mayosi het die derde meeste stemme in die raadsverkiesings ontvang.

“Maar weens ʼn kwotastelsel is sy nie toegelaat om ʼn posisie in die raad op te neem nie,” het hy gesê.

In ʼn onlangse verwikkeling rakende onteiening sonder vergoeding het Mike Pompeo, die Amerikaanse staatsekretaris, openlik daarteen uitgevaar.

Pompeo het by verrigtinge van die Afrika-Unie (AU) op 18 Februarie onteiening sonder vergoeding veroordeel. Hy meen sulke planne het in ander lande misluk en sal vernietigend wees vir mense in Suid-Afrika. Sy opmerkings is noemenswaardig gegewe die gewone gematigde aard van uitlatings deur Amerikaanse diplomate.

“Hoewel dit onseker is tot watter mate Amerikaanse belange werklike plaaslik betrokke sal raak, is dit duidelik dat onteiening sonder vergoeding op die VSA-regering se radar is.

“Plaaslike beleidmakers se stappe is nou openlik in die Trump-administrasie se oog,” het Van Onselen afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.