Luister in 3 minute: Groenkragooreenkoms, stygende kospryse en pensioenwet bespreek

Argieffoto (Foto: Beeki/Pixabay)

In vandeesweek se 3 Minute, 3 Sake bespreek Gerhard van Onselen van Sakeliga die jongste nuus uit die energiesektor en kommer oor stygende kospryse, asook die voorgestelde wysigings aan die pensioenwet wat gepubliseer is.

Luidens berigte het die Suid-Afrikaanse regering ʼn ooreenkoms gesluit om van steenkool na groen krag oor te skakel. Die prentjie word rooskleurig ingekleur, maar Sakeliga het sy voorbehoude.

Die plan is dat steenkoolkragstasies vroeër as beplan afgeskaal word. Die ondersteuning vir groen krag sal gunstige lenings en subsidies van welgestelde lande insluit.

Die ooreenkoms, ingevolge die Parys-ooreenkoms oor klimaatsverandering, sal beteken dat koolstofdioksied en ander uitlaatgasse verminder moet word.

Sakeliga het reeds sprake hiervan in vorige wetsontwerpe soos die Wetsontwerp op Klimaatsverandering gesien, waar ʼn gedwonge vermindering van koolstofdioksied beoog is.

Dit sal aanlegte en verbruikers raak aangesien sulke maatreëls koste afdwing.

Wat nou ʼn regmatige oorskakeling (“just transition”) genoem word, kom neer op groter owerheidsbestuur en burokrasie in die energiesektor.

So iets sal vryemarkprosesse in energie-ontwikkeling verder kniehalter. Daarby kan dit nasionale skuld verhoog, kragpryse verhoog en inmenging in belangrike sektors aanjaag.

Volgende: Berigte wys daarop dat kospryse, ná afloop van die Covid-19-inperkings steeds besig is om vinniger as oorkoepelende VPI-inflasie te styg. Prof. Ruth Hall van die Instituut vir Armoede, Grond en Agrariese Studies (PLAAS) is van mening dat stygende kospryse nou in ʼn krisis ontwikkel.

Suid-Afrika is ʼn arm land en kosaankope is die grootste onkoste vir heelwat arm huishoudings.

Natuurlik word die vinger ook na die sakesektor gewys oor regulatoriese bevoordeling, tog het politici en reguleerders tot groot mate die hele ekonomie deur owerheidsdwang tot stilstand gedwing.

ʼn Mens kan nie ʼn verwikkelde sosio-ekonomiese stelsel van voorsiening, soos van die Suid-Afrikaanse ekonomie, hardhandig inperk sonder enige nagevolge nie. Die regering is ook gedurig daaroor gewaarsku.

Die regering het verbruikersvraag gesteun met welsynsubsidies, maar min begrip getoon dat klein ondernemings heelwat kos aan die informele sektor voorsien. Daardie voorsiening is grootliks ontwrig deur inperkings en onluste.

Sakeliga meen dit speel ʼn beduidende rol in stygende kospryse.

En laastens: Wysigings aan regulasie 28 van die Wet op Pensioenfondse is gepubliseer vir openbare kommentaar. Hierdie wysigings sal beteken dat pensioenfondse in openbare infrastruktuurprojekte kan investeer.

 Luidens die tesourie se verklaring moet sulke projekte ekonomiese, maatskaplike en ekologiese nut inhou.

Sakeliga stel ʼn vraag oor sodanige aanwending van pensioenfondse.

Die tesourie noem dat dié openbare investering steeds ʼn opbrengs vir lede moet lewer, maar Sakeliga en lede van die publiek moet weet dat opwegings betrokke is. Hoe groot is daardie opwegings en wat gaan dit jou aftrede kos?

Tot watter mate sal fondse dan, om redes soos gunstiger politieke aansien, miskien, pensioengeld in hierdie soort projekte belê? Projekte wat moontlik vergelykbaar ʼn slegter opbrengs sal lewer?

Die risiko bestaan ook dat vrywillige samewerking met dwang vergoed sal word. Dit was minstens die verloop van beleidstellings soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB). SEB sien nou al hoe meer openlike dwangbepalings.

Ekonomies gesproke is die groot gevaar egter ʼn herleiding van waardevolle hulpbronne na politieke projekte en oogmerke. Sakeliga meen daarteen moet streng gewaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Foefie ·

Watse TWAK is dit hierdie om nou die groen kaart te speel om mense se aandag weg te lei van die olifant in die kamer??? Dink hulle ons is geheel onnosel of wat? Dit help veel ons sit in die groenste, mooiste wereld maar sonder enige kos of elektrisiteit of brandstof? What’s the point? Wil hulle ons dwing om kos by hulle te vat of om die slangbyt te vat sodat hulle ons kan beheer?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.