Luister in 3 minute: Grondwetwysiging faal en BBP krimp in derde kwartaal

grondwet-argieffoto-03

Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

In die jongste aflewering van 3 Minute, 3 Sake gesels Gerhard van Onselen van Sakeliga oor die grondwetwysiging wat in die hek geduik het. Hy bespreek ook die bruto binnelandse produk (BBP) se inkrimping in die derde kwartaal en bespreek die belang van netwerke en desentralisering om staatsbestand te word.

Die omstrede 18de wysigingswetsontwerp op die Grondwet is dié week in die parlement afgestem. Dit is die omstrede voorstel om artikel 25 van die Grondwet te wysig. Artikel 25 beskerm eiendomsreg en in besonder die reg op vergoeding by onteiening.

Daarmee het die ANC gepoog om onteiening sonder vergoeding in die Grondwet te bekragtig.

Die wetsontwerp het egter nie geslaag nie. Die ANC het nie die 267 stemme, oftewel ʼn tweederdes-meerderheid, verkry om te slaag nie.

Sakeliga het in reaksie steeds waaksaamheid gemaan, en gewys op die gevaar van die onteieningswetsontwerp, ʼn ander wetsontwerp wat eiendomsreg bedreig.

Luidens ʼn verklaring meen Sakeliga die verwerping van die 18de wysigingswetsontwerp in die parlement was noodsaaklik, maar ook ʼn onvoldoende stap in die rigting van herstel van konstitusionele normaliteit op eiendomsreg.

Groot opposisie partye, soos die DA en VF Plus was tevrede met die uitkoms. Die VF Plus maan egter die regering om internasionale beste praktyk met betrekking tot eiendomsreg te volg. Op sy beurt het die DA gemeen die stemming is ʼn oorwinning vir die grondwetlike orde.

Sakeliga reken egter dit sal naïef wees om te dink dat die stryd vir bestendige privaatbesitregte nou oor is. Die ANC het reeds aangedui dat ander maniere gevind sal word om onteiening sonder vergoeding in die wet te aktiveer.

Volgende: Statistieke SA berig oor die jongste BBP-syfers vir die derde kwartaal van 2021.

Openbare onrus en die derde vlaag met inperkings het die BBP-groei in die hek laat duik. Dit het gekrimp met 1,5% in derde kwartaal.

Die ekonomie se uitset was in dié kwartaal gelyk aan die eerste kwartaal van 2016. Wat Sakeliga bekommer is BBP-grafieke wat dui op ʼn verdere tendens van verswakking in BBP-groei.

Sakeliga verwag dat die nadraai van inperkings, en ander probleme wat daaraan verwant is, nog geruime tyd met Suid-Afrika sal wees. Die komende beleidsreaksies van politici moet ook versigtig oorweeg word.

En laaste, nog ʼn paar gedagtes oor staatsbestandheid. Deel van die plan van ʼn onderduimse regering, so blyk dit, was nog altyd om die indiwidu weerloos en alleen te laat staan voor die groot staat.

Sodanig is daar gewoonlik ʼn dryf om mag te sentraliseer en te konsentreer. Daarby word instellings wat as remme teen die misbruik van staatsmag dien ook stelselmatig verwater en met heersende regeringideologie saamgesmelt. So word die staat se ideologie vanuit alle oorde ondersteun.

Gesonde politieke samelewings het sterk remme en teenwigte teen die staat se magsmisbruik. Deel daarvan is hegte gemeenskap- en godsdiensinstellings, gesonde families, allerlei groepe en netwerke, en organisasies wat op plaaslike vlak ʼn gesonde mate van selfbestuur uitoefen.

Privaat eiendom vorm ook deel hiervan en daarsonder, meen prof. Koos Malan ʼn kenner van publieke reg, staan die burgery die gevaar om alewig aan die territoriale staat se doen en late uitgelewer te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.