Luister in 3 minute: Hou die oog op belastings in 2021

(Foto: pixabay)

Gerhard van Onselen van Sakeliga ondersoek die volgende sake in die jongste 3 Minute, 3 Sake: Vlak 3-inperkings word volgehou, munisipale druk in 2021 en Sakeliga is op soek na ʼn beter kleinsakewysigingswet.

Pres. Cyril Ramaphosa het verlede week aanpassings aan die Covid-19-maatreëls aangekondig. Die grootste bykomende impak is die gedeeltelike sluiting van grense met Afrikalande. Maatreëls soos die aandklokreël en die verbod op drank bly geld met groot gevolge vir sekere ondernemings en werkers.

Op plekke wat as brandpunt uitgewys is, bly opelugplekke soos damme en strande gesluit. Dit is nadat toerisme aan die kus tydens die vakansie reeds erg deur inperkings geraak is. Die opswaai van die Covid-19-siekte bring duidelik ernstige mediese uitdagings. Die uitdagings word deur gesentraliseerde, burokratiese bestuur van gesondheid vererger.

Dit is wys om so goed as moontlik na jou eie gesondheid om te sien. Covid-19 is egter nie die enigste uitdaging nie.

Die sakesektor is nou op ʼn moeilike plek en die maatreëls het duur gevolge. Dit is duidelik dat die Covid-19-maatreëls van die regering – of ʼn mens glo in die sukses daarvan of nie – onbepaald met Suid-Afrikaners sal wees.

Tesame met die mediese impak moet mense en ondernemings voorberei op bykomende ongunstige ekonomiese gevolge.

Net ʼn paar punte: Voertuigverkope het in 2020 gedaal tot by 2000 se vlakke. Daar is miljoene meer werkloses. Kosprysinflasie het in November sneller as ander pryse gestyg en die duurder kos sal armes erg raak.

Talle wynplase, brouerye en ander ondernemings sal ten gronde gaan. Beleggers belyn nou noodgedwonge hul investeringsplanne met die lukraak, stuksgewyse en lokval-aard van verskeie inperkings. Dit beteken swakker belegging, produksie en vraag.

Die uiteinde van talle van hierdie maatreëls dui tans op swakker gemiddelde lewenstandaarde en verarming.

Nog ʼn gevolg van die Covid-19-inperkings en endemiese openbare wanbestuur is die impak op munisipaliteite. Druk op munisipaliteite gaan verder toeneem in 2021.

Onlangs het die Amathole-distriksmunisipaliteit in die Oos-Kaap by die nasionale regering vir geld aangeklop. Dié munisipaliteit sal na berig word nie salarisse vir die volgende vier maande kan betaal nie.

Namate Covid-19-verwante druk op die fiskus en plaaslik toeneem gaan allerlei maniere gesoek word om die regeringskoffers aan te vul.

Een manier is bykomende heffings en verskuilde belastings op plaaslike vlak; waarvoor verbruikers sal moet wakker sit.

Sakeliga meen belastingrealiteite gaan ʼn kerntema van 2021 wees.

Laastens het Sakeliga verlede week kommentaar ingedien op ʼn nuwe wysingingswetsontwerp oor kleinsake. Die organisasie meen die voorstel se fokus soos dit tans daaruit sien is misplaas. Die wetgewing verwater die teoretiese inspraak van ondernemings by ʼn statutêre kleinsakeraad.

Dit poog om die klem te verskuif na dispute tussen groot en klein ondernemings terwyl die olifant in die kamer, die regering se versmorende regulatoriese omgewing, nie die nodige aandag geniet nie.

Martin van Staden, ʼn regsgenoot van Sakeliga, meen die departement maak ʼn fout met die kleinsakewetsontwerp.

Sakeliga vra eerder vir regulatoriese vrystellings vir klein ondernemings, deregulering en die uitroei van rompslomp met makliker voldoeningsvereistes ten doel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Adam Adriaan ·

Die tyd is baie naby dat Our People almal met rieme om die mae gaan loop om die hongerte in te bind, met die wan regering van die ANC en sy trawante. Die land gaan nog wemel van lewende karkasse, wat die wêreld vol gaan loop. Wonder wat gaan die voorvader geeste hiervan sê?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.