Luister in 3 minute: IMF-lening, kleinsake-ondernemings bekyk

(Foto: Maroela Media)

Gerhard van Onselen van Sakeliga plaas die volgende kwessies onder sy vergrootglas in die jongste 3 Minute, 3 Sake: die IMF-lening aan die regering, Transunion-opname wys hewige uitwerking op kleinsake-ondernemings, en die Covid-19-leningsprogram is nou makliker.

Luidens mediaberigte het die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) sowat R70 miljard aan die regering geleen. Hierdie geld is ʼn noodlening wat vir Covid-19-verligting gebruik moet word. Dit vorm deel van ʼn snelfinansieringsmeganisme spesifiek van die IMF.

Die gevreesde strukturele aanpassingvereistes, die leningsbepalings wat sommige in die ANC en sy alliansievennote so vrees, is nie aan dié lening gekoppel nie. In ʼn skrywe aan John Steenhuisen van die DA sê die IMF dat die regering tot deursigtigheid in dié besteding verbind is en dat dié geld inklusief aangewend moet word.

“Wat egter interessant is, is dat die regering te midde van interne politiek nou die geld gevat het.

“Hoewel daar nie nou hervorming vereis word nie, is die eerste stap gedoen. Die ANC-regering is nou op die IMF se boeke. Die IMF het wel melding gemaak van die begroting, tekorte en ander probleme wat aandag moet kry.

“R70 miljard is maar ʼn klein bedrag gemeet teen die hewige tekorte, maar is volgende lenings ʼn moontlikheid?” vra Van Onselen.

Navorsing deur die kredietburo Transunion bevestig die benarde stand van kleinsake-ondernemings weens die regering se Covid-19-ingrypings. Dit sluit nou ook ʼn nuwe verbod op jag oor grense in.

“Sakeliga se ledepeilings het tot soortgelyke gevolgtrekkings oor kleinsake-ondernemings gekom. Transunion het byna 660 deelnemers gehad.

“Daarvolgens is byna 50% van die ondernemings onseker of hul onderneming die staat van inperking sal oorleef. Amper 80% beleef ʼn beduidende daling in inkomste. Sowat 60% moet salarisse of personeel besnoei, en 50% was onseker oor hul vermoë om finansiële verpligtinge na te kom.”

Lee Naik van Transunion sê voorts dat meer likwidasies op kort termyn verwag kan word. Die inperking het duidelik ʼn drastiese uitwerking op kleinsake-eienaars. Om te oorleef, meen Transunion, benodig ondernemings nou gesonde kredietbeheerbeginsels, beleggings in sinvolle tegnologie en sterker bemarking.

Laastens gesels ons oor die regering se Covid-19-leningswaarborgprogram. Volgens die Business Insider was die program, soos teen einde Julie, ʼn groot teleurstelling. Sowat R200 miljard is vir die program bewillig, maar lenings van slegs R12 miljard is goedgekeur.

“Leningsvoorwaardes vir ondernemings is nou verder verslap. Dit beteken dat meer ondernemings nou om dié lenings kan aansoek doen, maar gaan hulle?

“Gemakliker voorwaardes sal miskien die kredietkrane oper draai, maar daardie krediet moet nog steeds terugbetaal word; hetsy deur ondernemings self, die belastingbetaler of bankverliese.

“Kortliks saamgevat, hoop op toekomstige winsgewendheid is nodig voor bekwame sakelui geld sal leen,” meen Van Onselen.

Hy voeg by ʼn uitgerekte inperking en willekeurige regulasies, soos ʼn onverwagse halsoorkop algehele drankverbod, maak sakebeplanning uiters moeilik. Verder word sakevooruitsigte in die algemeen danksy politieke inmenging by die ekonomie verswak.

“Die beste stimulus is eerder ʼn oper ekonomie en ʼn beter beleidsomgewing, met minder politiek en meer sakeonderhandelinge, maar allermins ʼn ruimer ‘kredietkaart’.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.