Luister in 3 minute: Impak van alkoholverbod, huisprysindeks en arbeidswetgewing

(Argieffoto: pixabay)

In die jongste aflewering van 3 Minute, 3 Sake bespreek Gerhard van Onselen van Sakeliga die jongste huisprysindeks van FNB, die ekonomiese implikasies van die algehele alkoholverbod en problematiese arbeidswetgewing.

FNB se huisprysindeks vir die vierde kwartaal van 2020 dui daarop dat heelwat welvarende mense verkoop met die oog op emigrasie. Dit is veral opmerklik by eiendomme ter waarde van meer as R3,6 miljoen.

In die welvarende segmente word sowat 24 uit elke 100 eiendomme tans om dié rede verkoop. Gemiddeld oor alle prysklasse is dit sowat 12 uit elke 100 eiendomme.

Die indeks wys verder dat die laer segmente van die mark groter druk beleef en graag hul huise weens swak finansiële omstandighede wil verkoop.

Finansiële druk het die meeste toegeneem in die (sogenaamde) “bekostigbare” segmente. Druk word oral beleef, maar minder so in die welvarender segmente. In hierdie segment word selfs nog verbeteringe aan eiendomme aangebring.

Duidelik het die inperking die laer segmente van die mark die hardste getref.

Sakeliga het nog altyd gemeen die afsonderingstydperk se impak sou altyd disproporsioneel erger gewees het op diegene nader aan die broodlyn.

Die tema van groter emigrasie – die bloei van rykdomskeppers as’t ware – voorspel verder ook toenemende druk in die aanloop tot die nasionale begroting.

Volgende kyk Sakeliga na die alkoholverbod: Hoewel mens begrip het vir ontleders wat wys op die skade van alkoholmisbruik, is dit nie so duidelik dat daardie selfde ontleders begrip het vir die skade van ʼn algehele verbod nie.

Ons weet dat baie mense nie sal ophou drink nie. Produksie en voorsiening sal by ʼn verbod aanpas en op teenproduktiewe maniere. Dit is ook nie reg om data en waarnemings direk ná ʼn verbod ingestel is as enigsins aanduidend te beskou nie. ʼn Nuwe markewewig is nog nie gevestig nie.

Intussen het Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) ʼn verdere R2,5 miljard se belegging onttrek. Consol glas ly groot verliese. Heineken SA begin met afleggings. Die verbod dien ook as stimulus vir tuisgemaakte drank, smokkelary en skaduverspreiding.

In een geval is daar boonop op polisie toegesak toe hulle beslag wou neem van tuisgemaakte drank. Misnoeë teenoor die owerhede kan toeneem. Een aanvanklike gevaar van tuisgemaakte drank is die tekort aan gehaltebeheer en produkkennis.

ʼn Drankverbod vervorm die mark na een soortgelyk aan ander onwettige middels en herlei polisiehulpbronne weg van ander misdade.

Sakeliga meen ʼn redeliker balans moet nou gevind moet word.

Laaste dan, ʼn kykie na een van die problematiese eienskappe van Suid-Afrika se arbeidswetgewing. Luidens mediaberigte word ʼn loonooreenkoms beplan wat op die hele restaurantbedryf afgedwing word.

Sulke ondernemings is om die beurt deur inperkings, beperkings of drankverkope, ʼn aandklokreël en allerlei inperkings ten gronde gereguleer.

ʼn Mens sou reken dat verligting aan die orde van die dag sou wees, maar moenie glo nie. Ingevolge ʼn loonooreenkoms wat nou oor die hele sektor afgedwing word, word lone nou ver bo die minimumloon vasgestel. Bykomende heffings (koste) word ook verplig.

Dit is skokkend dat bedingingsrade bykans eensydig lone en ander koste op ʼn bedryf kan afdwing. Dit terwyl die bedryf reeds onder die impak van inperkings gebuk gaan.

In die breë dui hierdie besluite op die aspekte van Suid-Afrika se arbeidsregulering wat dit van die ongunstigste vir die sakeman en entrepreneur in die wêreld maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
SUZANNECAN

Eenvoudig. Nou betaal mense meer vir drank.