Luister in 3 minute: Internasionale verslag oor SEB beklemtoon kommer

SEB-swart-ekonomiese-bemagtiging

(Foto: Rawpixel/Pixabay)

Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, bespreek in vandeesweek se aflewering van 3 Minute, 3 Sake ʼn internasionale verslag wat die probleme met swart ekonomiese bemagtiging uitwys. Hy kyk ook na twee ekonomiese gevolge van die afsonderingsmaatreëls vir die Covid-19-pandemie.

Die Europese Unie se kamer van handel en nywerheid in Suid-Afrika het onlangs ʼn verslag oor swart ekonomiese bemagtiging (SEB) laat opstel. Hierdie verslag is gefinansier deur die “EU-South Africa Partners for Growth”-projek.

Die verslag bekyk EU-ondernemings se belewenis van SEB in Suid-Afrika. Die verslag is insiggewend en vra vir ʼn aangepaste benadering tot SEB waar die elemente van eienaarskap versag en vaardigheidsontwikkeling versterk word. Die verslag beklemtoon die kommer van EU-ondernemings oor die wisselvalligheid van SEB-beleid, die hoë koste daarvan en ander uitdagings. Kommer oor eienaarskapkomponente van SEB word as die grootste uitdagings in die verslag beskryf.

Uit die verslag is dit duidelik dat SEB buitelandse beleggers se besluite beïnvloed. Dit raak natuurlik ook plaaslike beleggers se besluite, maar enige regeringstrategie om buitelandse beleggers te lok sal van die verslag en sy aanbevelings moet kennis neem.

Daarna kyk Van Onselen na nog ʼn nagevolg van die regering se afsonderingsmaatreëls vir die Covid-19-pandemie.

Luidens Moneyweb is een van die probleme nou ʼn tekort aan boumateriaal. Dit is deels weens sterker as verwagte vraag, maar ook weens Covid-19-inperkings.

Die regering het fabrieke, soos baksteenvervaardigers, in die eerste vlak van inperking gesluit. Produksie-agterstande, sterker vraag en invoerbeskerming speel ʼn rol by dié tekorte. Die gevolg is “kritiese tekorte” aan boumateriaal soos bakstene, sement, staal en hout.

Hierdie toedrag van sake verminder die potensiaal vir ʼn herstel ná die inperkings. Die ekonoom David Metelerkamp meen dit kan selfs die regering se herstelplanne in die wiele ry, wat juis op konstruksieprojekte berus.

Landbou.com berig op sy beurt oor die uitwerking van die hantering van Covid-19 op Suid-Afrika se buurlande. Verskeie verslae van instellings van die Verenigde Nasies (VN) en Internasionale Monetêre Fonds (IMF) word aangehaal.

Die IMF meen dit gaan jare neem om die verlore ekonomiese bedrywighede, werksverliese en armoede in die land om te keer.

Talle lande in Afrika gaan waarskynlik voedselhulp benodig. Die World Food Programme (WFP) het in Julie beraam dat ʼn bykomende 121 miljoen mense in akute voedselonsekerheid teen die einde van 2020 kan verval.

Voedselonsekerheid was selfs voor die pandemie ʼn probleem in dié streek. Amper 28 miljoen mense is daardeur geraak, maar hierdie syfer kan nou weens die hantering van die Covid-19-pandemie en sy afsonderingsmaatreëls tot by 52 miljoen klim.

Migrasie vir werk, wys ʼn WFP-verslag in November, is baie belangrik vir mense in Suider-Afrika. Lande soos Suid-Afrika is steunpilare vir armer buurlande en geslote grense het enorme gevolge.

Werkende migrante stuur geld oor grense na hulle arm families en die betalings is van uiterste belang vir streekstabiliteit.

Sulke oorbetalings gaan na verwagting aansienlik daal in 2020 en 2021 weens die geweldige verliese van werk en inkomste wat toegeskryf kan word aan die regering se reaksie op die pandemie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.