Luister in 3 minute: Invoere, NGV en inflasie in die kollig

Minister Khumbudzo Ntshavheni. (Foto: Flickr/GovernmentZA)

In vandeesweek se 3 Minute, 3 Sake bespreek Gerhard van Onselen van Sakeliga ʼn moontlike verbod op die invoer van sekere produkte, oordrag van bates aan die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) en inflasie.

ʼn Plan van die departemente van handel, nywerheid en mededinging (DTIC) én kleinsake-ontwikkeling gaan poog om die sukkelende plaaslike ekonomie te help deur produkte vir plaaslike vervaardiging aan te wys.

Volgens Business Tech is die kruks dat dit skynbaar gekoppel word aan ʼn verbod op invoere van die betrokke produkte.

Sakeliga voel dit is ʼn plan teen handel. Khumbudzo Ntshavheni, die minister van kleinsake-ontwikkeling, meen dat produkte wat vir 100% plaaslike vervaardiging aangewys is, uiteindelik nie meer ingevoer sal mag word nie.

Sover Sakeliga se wete strek, word sodanige “lokalisering” nie direk aan ʼn verbod op invoer gekoppel nie. Sogenaamde “handelsremedies” en invoerbelasting word gebruik om invoere deur staatsbevel burokraties te beperk.

In die jongste DTIC se begrotingstoespraak noem min. Ebrahim Patel dat invoerbelasting en handelsbeperkinge belangrike beleidsinstrumente is. Volgens Patel sal ondernemings verder moet werk skep en pryse laag hou om gunstige invoervoorwaardes te kry.

Volgende, die NGV het ʼn hupstoot gekry nadat die Raad vir Gesondheidswerkers (RGB of HPCSA) aanvoer het dat die reserwes (geld) van mediese fondse na die NGV-fonds “oorgedra” moet word.

Dit is luidens die RGB se onlangse kommentaar op die NGV. Die RGB is die statutêre raad waar jou dokter en verpleegster moet registreer.

Die RGB is volgens berigte van mening dat private geld en alle bates van mediese fondse bloot na die NGV “oorgedra” moet word. Die RGB sien ook min nut vir private mediese fondse, buiten bepaalde “bykomende dienste”.

Die voorstel gebeur nou, nadat wetgewing in die verlede juis mediese fondse verplig het om finansiële reserwes in stand te hou. Sakeliga wonder of dit miskien neerkom op ʼn vorm van onteiening en nasionalisering?

Bes moontlik, maar skynbaar kan die meeste regte deesdae ongedaan gemaak word in die naam van openbare gesondheid.

Markvryheid het ongelukkig lank gelede reeds in die gesondheidsbedryf gesneuwel. Wat oorbly, is toenemende inmenging en ʼn bedryf wat nou so deur die staat bevange is, dat hy moeilik die komende regulatoriese aanslae sal kan afweer.

Laastens, die gevreesde inflasiemonster het in April 2021 sy kop uitgesteek. Luidens Statistieke Suid-Afrika het oorkoepelende verbruikersprysinflasie van 3,2% in Maart (2021) tot 4,4% in April (2021) gestyg.

Die styging word deels verklaar deur dalings van pryse in April verlede jaar, in die strengste Covid-19-inperkingstydperk waartydens kooppatrone wesenlik ontwrig is.

Volgens ETM Macro Advisors, aangehaal uit ʼn komende Sakeliga-ETM-verslag, word plaaslike inflasie tans deur ʼn sterker rand getemper. Indien die rand verswak, kan inflasie daadwerklik vererger vir plaaslike verbruikers en ondernemings.

Die rand bly tans sterk ongeag die baie swak plaaslike beleidsomgewing, wat ʼn mens laat wonder hoe lank ʼn sterker rand volgehou kan word weens eksterne faktore buite Suid-Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jack ·

Die beste argumente teen die oordra van private mediese fondse se bates aan die NGV word elke dag by die Zondo kommissie na staatkaping en korrupsie uitgeryg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.