Luister in 3 minute: Kommer oor ekonomiese herstel ná pandemie

ekonomie-finansies

(Foto: Pixabay)

In hierdie episode van 3 Minute 3 Sake verduidelik Gerhard van Onselen van Sakeliga waarom die organisasie kommentaar gelewer het op die padverkeerwysigingsontwerp. Hy plaas ook die kollig op ekonomiese herstel ná die Covid-19-pandemie en praat oor die jongste verbruikersvertroue-indeks.

Sakeliga het vandeesweek kommentaar gelewer by die parlementêre komitee op vervoer op die voorstel om ʼn 0%-bloedalkoholperk in te stel vir motoriste in Suid-Afrika.

Dit vorm deel van ʼn voorstel in die nasionale padverkeerswysigingswetsontwerp.

Uit ʼn ontleding van internasionale data oor lande en streke het geblyk dat betreklik min lande tot dusver ʼn 0%-perk ingestel het. Sulke lande is in die minderheid.

Sakeliga meen strenger wetstoepassing van verkeersoortredings, soos roekelose bestuur wat skade veroorsaak, kan steeds plaasvind sonder ʼn bykomende 0%-bloedalkohol-perk. ʼn Vraag oor toepassing van die wette wat reeds geld is dus gestel.

Praktiese probleme moet ook oorweeg word, soos meetfoutmarges by toerusting soos asemtoetsers word noemenswaardig by lae en 0%-perke kan wees. Dit meen Sakeliga moet eers opgeklaar word.

Die feit dat sekere kossoorte en medisynes alkohol kan bevat dui ook op moontlike probleme met die voorstel vir ʼn 0%- bloedalkohol-perk.

So ʼn perk mag ook oorspoeleffekte hê op ekonomiese bedrywighede en sosiale interaksie, veral belangrik vir restaurante, toerisme en gasvryheid.

Sakeliga het voorgestel dat die komitee die werkbaarheid van die voorstel teenoor mediese, farmaseutiese en ekonomiese oorwegings beoordeel.

Ideaal gesproke, weens verskeie oorwegings, sal Sakeliga nie ʼn verandering aan die huidige perke wil sien nie, veral nie so ʼn uitermatige verandering nie.

Jeff Gable, ABSA se hoofekonoom, het onlangs ʼn kommerwekkende prentjie oor die post-Covid-ekonomie geskets.

Gable is van mening dat herstel drie tot vier jaar kan neem om terug te keer na vlakke voor Covid-19-pandemie.

Met die groot finansiële krisis van 2008 was die herstel korter, hoewel werke lank gevat het om te herstel.

Gasvryheid, transport en konstruksie is, luidens Gable, 20% kleiner en herstel tans stadig. Gable meen ook dat een ding wat almal moet bekommer is die omvang van staatskuld.

Volgens hom word groot bedrae belasting reeds gebruik om slegs die skulddienskoste van die regering te dek. Dit verklein uiteraard moontlikhede vir ander aanwending in die begroting.

Die tesourie se begrotingsdokument wys dat vir 2022 fiskale jaar byna R270 miljard aan skulddienskoste bestee sal word. Dit is amper 20% van belastinginkomste van R1 365 miljard.

Laastens, die FNB/BEO verbruikersvertroue-indeks is onlangs uitgereik. Hierdie indeks gee ʼn aanduiding oor verbruikers se sekerheid oor die ekonomie.

Verlede jaar het dié indeks gedaal tot by ʼn historiese laagtepunt van -33 in die tweede kwartaal van 2020, en het sedertdien stadig herstel.

Die indeks staan tans by -9 punte in die eerste kwartaal van 2021. Dit is steeds swakker as in 2018 en die eerste helfte van 2019.

Hoewel vlakke swak bly, is enige verbetering welkom. Mamello Matikinca-Ngwenya, hoofekonoom van FNB, wys egter op redes vir voorbehoud wat insluit blywende swak vertroue in ryker inkomstesegmente en stygings in brandstofpryse, kospryse en druk op sosiale toelae.

Hierdie faktore kan negatief inwerk op toekomstige verbruikersvertroue. Daarby, volgens Ngwenya, moet indiensneming sterk herstel om ongunstige faktore teen te werk.

Die gevaar van ʼn derde vlaag van Covid-19 met inperkings word ook genoem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.