Luister in 3 minute: Kommer oor ernstige munisipale verval, inflasie

Verval van munisipaliteite is landswyd te sien. (Argieffoto)

In die jongste aflewering van 3 Minute, 3 Sake gesels Gerhard van Onselen van Sakeliga oor munisipale verval, ʼn nuwe skema vir plaaslik vervaardigde produkte en kenners wat bekommerd oor inflasie is.

Volgens ʼn indeks van News 24 is talle meer munisipaliteite in Suid-Afrika veel nader aan ineenstorting as wat voorheen geglo is. Dié indeks voorspel ook dat dienslewering op verskeie plekke steeds agteruit sal gaan en wys munisipale wanbestuur as die grootste rede hiervoor uit.

Die indeks reken dat ʼn bykomende 43 munisipaliteite in gevaar verkeer om heeltemal te verval. Dit is nou benewens die 87 munisipaliteite wat volgens die regering reeds in ʼn gevaarsone van verval is. Die meeste van hierdie munisipaliteite – 22 uit die 43 – is in KwaZulu-Natal te vind.

Sulke indekse het natuurlik beperkinge, maar die breë gevolgtrekking is dat probleme by sommige munisipaliteite erger is as wat vantevore gedink is.

Dit is nou duidelik dat oplossing vir munisipale verval nie net op regeringsingrypings kan staatmaak nie. Op verskeie plekke het gemeenskappe en burgerlike instellings reeds toegetree om die remme van verval aan te draai.

Sakeliga bied ook op 28 Oktober ʼn seminaar aan om alternatiewe tot munisipale verval te bespreek.

Volgende: Die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) het ʼn nuwe sertifiseringskema ingestel waarvolgens produkte wat plaaslik vervaardig is, gesertifiseer sal word.

Dit beteken reëls waarvolgens vervaardigers die “plaaslike inhoud” van produkte kan sertifiseer. Sulke regeringsinisiatiewe hoop om plaaslike vervaardiging ʼn hupstoot te gee. Dit geld ook meestal in die openbare sektor.

Onlangs het Sakeliga opgemerk dat ʼn kennisgewing van die tesourie slegs plaaslike sement vir openbare konstruksieprojekte voorskryf.

Almal wil natuurlik sterk plaaslike vervaardiging sien, maar is dit wel die regte manier? Of, anders gestel, is daar miskien opwegings en onvoorsiene gevolge van so ʼn skema?

Sakeliga glo daar is. Die riglyne vir plaaslike inhoud beperk uiteraard die aantal aangewese produkte wat die regering en openbare sektor mag aankoop. En dit hou gevolge in, veral waar ingevoerde produkte, om verskeie redes, goedkoper aangekoop kan word.

ʼn Oorweging wat veral belangrik is, is hoe die regering belasting bestee – swakker waarde vir elke belastingrand hou ook gevolge in. ʼn Ander manier om plaaslike vervaardiging aan te help is om rompslomp en skadelike beleid te verwyder.

En laastens: Dit lyk asof kommer oor inflasie besig is om kop uit te steek. Inflasie beteken dat jou rande minder koop as vantevore.

Die Buro vir Ekonomiese Ondersoek hou sy oë op September se VPI-inflasiesyfer. Verder skryf ekonoom Dawie Roodt indien inflasiekoerse nie vinnig daal nie, sal die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) waarskynlik strammer monetêre beleid instel. Dit gebeur reeds in lande soos Nieu-Seeland, Noorweë en Meksiko.

Dit kan hoër rentekoerse beteken. Roodt noem verder dat sentrale banke al jare lank poog om inflasie op te jaag, maar wonder of dit ʼn geval is van “pasop waarvoor jy wens”.

Russell Lamberti, Sakeliga se hoofekonoom, wys ook op los monetêre beleid, oftewel ruim geldskepping, en ontwrigting van voorsieningskettings weens inperkings.

Hy meen dat skaarsheid effektief toeneem en dat dit inflasie aanvuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.