Luister in 3 minute: Kommer oor groenskrif vir nuwe nasionale ‘aftreefonds’

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

In die jongste aflewering van 3 Minute, 3 Sake bespreek Gerhard van Onselen van Sakeliga die kommer oor voorstelle vir ʼn nuwe nasionale “aftreefonds”, Vinpro se hofsaak oor die drankverbod en Sakeliga se betaalmeesterhofsaak wat voortgesit word.

Die ekonoom Mike Schüssler het die voorstelle vir verdere welsynbelastings (en ʼn basiese inkomstetoelaag) as waansin beskryf, luidens berigte.

Schüssler erken dat miljoene mense in armoede leef, maar die oplossing, meen hy, is nie ʼn basiese inkomstetoelae nie, asook nie groter belasting vir maatskaplike sekerheid in geheel nie. Die rede vir sy aanbeveling: Die ekonomie kan eenvoudig nie meer inkomstebelastingverhogings dra nie.

Oor die jare is toelae as ʼn persentasie van BBP aansienlik uitgebrei – van 6,7% in 2001 tot meer as 10% in 2015. Soos alle dinge moet voorstelle, soos die nuwe groenskrif, in perspektief beskou word. Maatskaplike beskerming, luidens Schüssler, is reeds aansienlik uitgebrei en verdubbel.

Die uitwerking van die voorstelle self en skadelike oorspoelgevolge van hoër belasting moet versigtiger oorweeg word.

In ʼn belangrike saak, veral vir sakevryhede, het Vinpro die howe genader oor die voortgesette maatreëls vir alkoholbeheer (in die lig van Covid-19).

Vinpro voer in hofstukke aan dat die nasionale regering die grondwetlike magte van provinsiale regerings oorskry. Vinpro eis nou dat premiers, soos Alan Winde, toegelaat moet word om aanpassings aan die huidige drankbeheer in die toepaslike provinsies te maak.

Soos ons dit sien, maak dit sin. Tydens die derde golf was die meeste gevalle in ʼn stadium in Gauteng met min gevalle in alle provinsies. Om eenvormige reëls oor die boeg oral af te dwing, is dus problematies. Die beste uitweg is aanpasbaarheid waar provinsies en gemeenskappe risiko’s kan opweeg en doeltreffend kan balanseer.

Die Wes-Kaapse regering is ʼn respondent tot die saak. Hulle meen ook dat die nasionale regering nie provinsies se regte mag wegkalwe nie. Hierdie soort vrae oor provinsiale magte en desentralisering strek verder as die huidige drankbeheer. Soos ons dit sien, gaan sulke vrae voortaan nog belangriker word.

Die besluit oor ʼn tussentydse bevel is nog hangende en die verrigtinge gaan vandeesweek voort.

Sakeliga se betaalmeesterhofsaak word vandeesweek voortgesit. Die respondente in die saak sluit in die premier van Noordwes, asook die minister van finansies.

Die respondente, wat tot dusver nie gereageer het nie, is tot vandag (Woensdag 24 Augustus) tyd gegee om opponerende stukke in te dien. Sakeliga het vantevore uitstel toegestaan. Indien geen opponering aangeteken word nie, sal ʼn aansoek vir ʼn onbestrede saak ingedien word.

Ons sien die saak as geskiedkundig. Dit sal daartoe lei dat gelde vir byvoorbeeld krag en water so bestuur word dat dit by Eskom en waterrade uitkom.

Piet le Roux, Sakeliga se uitvoerende hoof, sê die enigste pad vorentoe is om die regstreekse vloei van geld tussen inwoners en ondernemings na verskaffers soos Eskom, waterrade en ander onafhanklik te laat administreer (waar munisipaliteite misluk).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.