Luister in 3 minute: Kritiek op diensbillikheidwet, SA se hoë belastinglas

SEB-swart-ekonomiese-bemagtiging

(Foto: Rawpixel/Pixabay)

In vandeesweek se 3 Minute, 3 Sake gesels Gerhard van Onselen van Sakeliga oor die wysigingswetsontwerp op diensbillikheid, Suid-Afrika se hoë belastinglas en kritiek op die staat se lokaliseringsplanne.

Volgens die Sentrum van Risiko-analise (CRA) is die wysigingswetsontwerp op diensbillikheid deur die Nasionale Vergadering goedgekeur en vir verdere oorweging na die Nasionale Raad van Provinsies verwys.

Dié wetgewing sal die minister van arbeid bemagtig om bindende raskwotas op sektore van die ekonomie af te dwing. Sakeondernemings wat nie daaraan voldoen nie, kan met tot 10% van hul omset beboet word.

Die tendens van ʼn verskerpte en bestraffende benadering tot swart ekonomiese bemagtiging (SEB) is duidelik onderweg. Die CRA en Sakeliga meen dat hierdie wetgewing teen die Grondwet indruis. Dit gaan teen beginsels van nie-rassigheid.

Sakeliga het onlangs verskerpte teenstand teen SEB aangekondig.

“Ons gaan harder terugdruk en die teenstand rus op twee bene – eerstens verskerpte strategiese litigasie en tweedens aanmoediging van nie-deelname aan die stelsel.

“SEB is ʼn wesenlike sake-risiko. Ons raai sakelui aan om strategies blootstelling aan SEB-risiko te verminder,” sê Van Onselen.

Volgende: ʼn Woordvoerder van die nasionale tesourie het onlangs Suid-Afrika se hoë belastinglas erken.

 Edger Sishi, hoof van die begrotingskantoor, meen die land is geensins ʼn lae belastingland nie. Sishi het beklemtoon dat Suid-Afrika betreklike hoë belasting het in verhouding tot die ekonomie gemeet aan die bruto binnelandse produk (BBP).

Hierdie gesprekke het oënskynlik ʼn herrie in die parlement veroorsaak. Die kwessie is ongelykheid en hoe om dit op te los. Die plan, van sommige amptenare, is om die rykes en ondernemings wat oorbly verder te belas. Minstens is daar dele in die tesourie wat klaarblyklik daarteen terugskop.

“Onder die tesourie is belasting en staatskuld oor die laaste jare egter enorm uitgebrei. Dit dui mos geensins op ʼn klein en beperkte rol vir die staat nie,” sê Van Onselen.

En laastens: ʼn Onlangse verslag, luidens Rapport, lewer welkome kritiek op die staat se planne vir lokalisering.

 Hierdie is soms ʼn emosionele onderwerp, maar Suid-Afrikaners moet dit nugter oorweeg. Die Centre for Development and Enterprise (oftewel CDE) wys dat lokalisering newe-effekte sal hê.

Die groot probleem is die impak op koste en mededingendheid. Losweg gestel, vanweë so ʼn beleid sal die ekonomie minder produseer en teen ʼn hoër koste.

Dit beteken basies elke Suid-Afrikaner word armer. Ann Berstein, van die CDE, meen die staat se lokaliseringsplanne is misleidend. Dit plaas Suid-Afrika op die verkeerde koers.

Lokalisering het natuurlik grootliks betrekking op staatsaankope. Sakeliga se kritiek daarop is dat jou (groot) belasting, waaroor jy reeds bitter min sê het, nog minder doeltreffend bestee sal word.

Neem kennis

 Dan net ʼn vinnige aankondiging. Die 3 Minute, 3 Sake-reeks kom in 2021 tot ʼn einde en die laaste aflewering sal in die week van die 13 Desember plaasvind. In die plek daarvan beoog Sakeliga ʼn opwindende nuwe program.

“Oor die jare het ons baie kritiek op heelwat beleidsake gelewer. Ons glo die meeste luisteraars is welbekend met al die probleme. In 2022 verander ons blik,” sê Van Onselen.

In ʼn nuwe gereelde program gaan Sakeliga na die praktiese sy van ʼn selfstandige kommersiële orde kyk.

“Ons gaan kyk na dinge soos staatsbestandheid, burgerlike verset, verskansing teen roekelose beleide, en die vestiging van sterker gemeenskappe, instellings, en netwerke. Dit is alles tans broodnodig vir die Suid-Afrikaanse orde.

“Dit vorm deel van Sakeliga se strategie en is rigtinggewend vir die volgende era van gesonde sake in Suid-Afrika.

“Hou gerus hierdie spasie dop.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.